Uitheemse plante kom wel nie van ’n verre planeet nie, maar hulle is steeds indringers. Uitheemse plante, of “indringerspesies” soos hulle ook bekendstaan, is plante van ander lande wat in Suid-Afrikaanse grond geplant is, hierheen gebring deur setlaars en reisigers wat deur die eeue hier aangedoen het.

Al is baie van die uitheemse plante pragtig, hou party ’n bedreiging vir inheemse plante in die gebied in deur mee te ding vir die water en ander hulpbronne wat hulle nodig het.

Ons kyk na van die algemeenste en gevaarlikste indringerplante.

Waterhiasint

Eichhornia crassipes

Waterhiasint. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die waterhiasint staan algemeen as die Nyllelie bekend. Dis ’n waterplant, wat natuurlik beteken dit groei in water. Dit kom oorspronklik van Suid-Amerika en veroorsaak groot probleme in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga en Vrystaat.

Die vinnig groeiende plant se dik blare wat op die oppervlak dryf, blokkeer die sonlig en verander die vloei van water. Dit verhoed dat plante onder die oppervlak die nodige voeding kry.


Parthenium

Parthenium hysterophorus

Parthenium. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die kruidagtige plant staan in Engels as feverfew bekend. Dit kom van die Wes-Indiese Eilande en Suid-Amerika, maar word nou in Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal aangetref.

Dit groei tot 1,5 m hoog en het ’n harige stingel en diep wortels. Parthenium vervaardig chemikalieë wat nabygeleë plante laat ophou groei en saad lewer, en dit is giftig vir mens en dier.

Diere wat dit eet, kry sere en gaan selfs dood as hulle te veel daarvan inkry.


Pompombossie

Campuloclinium macrocephalum

Pompombossie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die pompombossie is oorspronklik van Suid- en Sentraal-Amerika en kom nou in Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap voor. Die steelplante kan tot 1,5 m hoog word, en hul saad word maklik versprei in die veld en graslande waar hulle floreer.

Die wortels van die onkruid vervaardig ensieme wat verhoed dat die natuurlike grasse waarop diere wei behoorlik groei.


Jakaranda

Jacaranda mimosifolia

Jakarandabome. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Jakarandabome kom oorspronklik van Argentinië, maar gedy deesdae oral in Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes. Al lyk jakarandas pragtig oortrek met geurige ligpers blomme wanneer hulle laat in die jaar blom, veroorsaak dié indringerbome nare probleme.

Die ruigtes saailinge wat onder die bome vorm, kan waterweë blokkeer en verhoed dat ander plante die water kry wat hulle benodig.


Purperwind

Ipomoea indica

Purperwind. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die plant kan tot 3 m hoog groei en het harige, hartvormige blare. Dit is oorspronklik van die Wes-Indiese Eilande en groei in KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en die Oos- en Wes-Kaap.

Hulle veroorsaak probleme, want die digte groei van die plant versmoor ander spesies en verhoed dat dit water en ander voedingstowwe kry.


Lantana

Lantana

Lantana. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Moenie toelaat dat dié pragtige helderpienk-en-geel blomme jou flous nie – lantana is giftig. Suid-Afrikaanse boere verloor elke jaar miljoene rande wanneer hul vee doodgaan nadat hulle die plant geëet het.

Lantana, oorspronklik van Sentraal- en Suid-Amerika, is hoofsaaklik in die Wes- en Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes ’n probleem.

Lantana is taai en kan allerhande toestande weerstaan; daarom verdryf dit dikwels inheemse plante vir kosbare water en ander hulpbronne.


Salignabloekom

Eucalyptus grandis

Salignabloekom. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die bome kom oorspronlik van Australië en word wyd in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo aangetref. Terwyl dit ’n probleem kan wees omdat dit met die inheemse spesies om hulpbronne meeding, is dit ’n indringerspesie wat Suid-Afrika help.

Die plant se hout kan in bouwerk en meubels gebruik word en sy blare vervaardig ’n olie wat as insekdoder of reiniger gebruik kan word. Dit verskaf ook nektar en stuifmeel vir heuningbye.

Bronne: Invasives.org.za, Theculturetrip.com, Highwaymail.co.za, Beekeepers.co.za, Daff.gov.za