Die geloof wat op die leerstellings van die Boeddha gegrond is, staan as Boeddhisme bekend. Hoewel daar net sowat 25 000 Boeddhiste in  Suid-Afrika is, is dit die vierde grootste godsdiens ter wêreld, met 500 miljoen aanhangers.

Vind hier uit wat dié godsdiens wat in Asië ontstaan het, behels. 

Wat is Boeddhisme?

Boeddhiste glo nie daarin om ’n god te aanbid nie. Pleks daarvan fokus hulle op persoonlike spirituele ontwikkeling en die verkryging van insig in die ware wese van die lewe. Die Boeddha is nie ’n god nie; hy is ’n mens wat verligting gevind het.

Die Boeddha

Beelde van Boeddha dra boodskappe van kop tot tone
Beelde van Boeddha dra boodskappe van kop tot tone uit: As die oë toe is, dui dit op meditasie; ’n kol op die voorkop simboliseer verligting en ’n glimlag dui op kalmte. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die Boeddha is sowat 2 500 jaar gelede in Lumbini, Nepal, gebore. Hy was ’n prins met die naam Siddhartha Gautama wat alles gehad het wat sy hart begeer. Die prins het in weelde grootgeword en later getrou.

Die egpaar het 'n seun gehad. Siddhartha het ongemaklik begin voel oor sy geborge, weelderige lewe in die paleis.

Toe hy 29 jaar oud was, het die prins vir die eerste keer met pyn en lyding kennisgemaak.

Hy het die paleis verlaat en vier dinge gesien wat hom diep geraak het: 'n siek man, ’n bejaarde man, 'n dooie man en 'n monnik.

Dié dinge het hom laat besef selfs 'n gelukkige, ryk prins kan nie wegkom van siekte, lyding en eindelik die dood nie. Die monnik het Siddhartha geïnspireer om sy goeie lewe, sy familie en rykdom agter te laat en ’n reisende heilige man te word.

Hy wou vrede en rustigheid vind ten spyte van die lyding in die wêreld. Hy wou op sy omswerwings deur Indië antwoorde vind op vrae soos: “Hoekom moet mense ly?” en: “Wat veroorsaak lyding?” 

Die Middeweg

Gebedsvlae hang van die bopunt van die stoepa by S
Gebedsvlae hang van die bopunt van die stoepa by Swayambhunath in Nepal, een van die heiligste Boeddhistiese pelgrimsterreine. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Siddhartha het hom ses jaar lank met gebed en meditasie besig gehou; hy het ook lang tye gevas (geen kos geëet nie). Maar dit het hom nie bevredig nie. Hy het steeds gely.

Hy het sy streng manier van leef laat vaar, maar nie na sy oorbeskermde lewe ­teruggekeer nie. Dit is die pad wat na nirvana (verligting) lei.

Die Middeweg behels dat jy nie 'n lewe van weelde en bevrediging moet lei nie, maar ook nie 'n lewe van te veel swaarkry nie. 

Dié insig het by hom posgevat terwyl hy dae lank in Bodh Gaya, Indië, in diepe meditasie onder ’n groot bodhi-boom ('n soort vyeboom) gesit het.

Hy het ’n gelofte afgelê om daar te bly tot hy die waarheid van die heelal verstaan.

Ná 49 dae het hy verligting, oftewel nirvana, bereik en die titel Boeddha verkry. Dit beteken “die verligte een”.

Hy het besluit om ander te leer hoe om verligting te verkry en het die laaste 45 jaar van sy lewe daaraan gewy om te reis om dié waarheid aan ander te verkondig.

Hy is volgens Boeddhistiese oorlewering in 483 v.C. in die ouderdom van 80 oorlede.

Die Boeddha se leerstellings

Boeddhiste glo die Boeddha het onder die bodhi-boom vier edele waarhede ontdek. Hy het sy Agtvoudige Pad (agt basiese reëls) opgestel wat 'n mens volgens die Boeddhisme moet volg as jy wil hê lyding moet ophou. 

Tenzin Gyatso is die 14de en huidige Dalai Lama, d
Tenzin Gyatso is die 14de en huidige Dalai Lama, die geestelike leier van die Gelug-skool van Tibettaanse Boeddhisme. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die vier edele waarhede:

  • Die lewe is met lyding (doekkha) gevul.
  • Lyding word deur drie booshede of gifte veroorsaak: hebsug en begeerte; onkunde en waan; en haat en verwoestingsdrange.
  • Lyding kan beëindig word as mense ophou dinge begeer, soos plesier of mag.
  • As mense wil ophou om dinge te begeer, moet hulle die Agtvoudige Pad volg.

Verligting

Eers wanneer jy ontslae is van die drie gifte (begeerte, waan en haat), kan jy nirvana of verligting bereik.

Dit beteken nie jy verdwyn van die fisieke wêreld in 'n hemelse terrein nie, maar dat jy 'n toestand bereik waarin jy diep spirituele vreugde ervaar sonder negatiewe emosies en vrese.

Jy het medelye vir alle lewende dinge. Ná die dood sal iemand wat verligting bereik het ook van die sirkel van reïnkarnasie vry wees.

Die Agtvoudige Pad (Middeweg):

Mede-deelsaamheid is vir Boeddhistiese monnike ’n
Mede-deelsaamheid is vir Boeddhistiese monnike ’n goeie deug. Foto: Gallo Images/ Getty Images
  • Ken die waarheid (gegrond op die vier edele waarhede).
  • Probeer die bose weerstaan.
  • Moet niks sê wat ander seermaak nie.
  • Doen die regte dinge.
  • Doen werk wat nuttig is en niemand ­anders seermaak nie.
  • Probeer jou verstand van die bose bevry.
  • Wees in beheer van jou gevoelens en dade.
  • Mediteer, want dit stel jou in staat om in ­beheer te wees. 

Die boodskap versprei

Ná die Boeddha se dood het sy volgelinge ’n godsdiensbeweging gegrond op sy leerstellings begin. In die derde eeu v.C. het die Indiese keiser Asoka die Grote Boeddhisme die amptelike godsdiens gemaak. Hy het kloosters gebou en sendelinge uitgestuur om Boeddhisme te versprei.   

Aanbidding

Boeddhiste vergader tydens ’n viering van Boeddha
Boeddhiste vergader tydens ’n viering van Boeddha se geboortedag in die Jogyesa-tempel in Seoel, Suid-Korea. Elke lantern het ’n tempelbesoeker se wens daarby. Op die dag van Boeddha se geboorte deel talle tempels gratis kos en tee aan besoekers uit. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Gebedswiele by ’n tempel in Katmandoe, Nepal. ’n M
Gebedswiele by ’n tempel in Katmandoe, Nepal. ’n Mens dreunsing en mediteer terwyl jy die wiele draai. Foto: Gallo Images/ Getty Images

In Boeddhistiese aanbidding (puja) word dreunsang gebruik. Boeddhiste maak offerandes van blomme, kerse, wierook en water in ’n tempel of heiligdom. Die mense bedank die Boeddha vir sy leerstellings. Wanneer Boeddhiste alleen aanbid, mediteer hulle en lees uit die Tripitaka, ’n versameling heilige Boeddhistiese geskrifte.

Stromings

Boeddhiste behoort tot twee hoofstromings – die Theravada en Ma­hayana.

Hoewel albei vorme van Boeddhisme dieselfde kernbeginsels en toewyding aan die lewe en leerstellings van die Boeddha deel, is daar verskille.

Theravada-Boeddhisme kom veral in Suidoos-Asië voor en is waarskynlik nader aan die oorspronklike Indiese vorm van Boeddhisme. Volgens dié tradisie kan net monnike nirvana bereik. Hulle beskou Boeddha as uniek.

Mahayana-Boeddhisme het noordwaarts deur Tibet en China versprei en het baie van die plaaslike gebruike in daardie vorm van Boeddhisme opgeneem. Volgens dié tradisie kan enig­iemand verligting bereik en was daar ander Boeddhas voor en ná Siddhartha. 

Die 'laggende Boeddha'. Foto: Gallo Images/ Getty
Die 'laggende Boeddha'. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Die 'laggende Boeddha'

Dit is ’n bynaam vir Boedai, ’n Chinese Boeddhistiese meester wat uitgebeeld word as ’n jolige, laggende ou met ’n groot maag.

In die Westerse wêreld word hy gereeld met Boeddha verwar. Talle Chinese Boeddhiste het ’n beeld van hom omdat hulle glo hy bring geluk en oorvloed.

Bronne: ancienthistory.mrdonn.org, buddhismforkids.net, uri.org, kids.kiddle.co, wikipedia.org, biographyonline.net, Gov.za, cliffsnotes.com, biography.com, learnreligions.com, ancient.eu, bbc.co.uk, science.howstuffworks.com, history.com, smarthistory.org, Johannes de Villiers, The Dharma Centre
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.