Wat is hibernasie?

Stel jou voor jy slaap sewe maande lank – dis meer as die helfte van die jaar! Hierdie lang, aaneenlopende rustyd in die winter word hibernasie genoem. Baie diere maak dié proses deur om aan die yskoue winters in die Noordelike Halfrond te ontsnap. Bere tel onder hulle.

Hoe kry hulle dit reg?

Die geheim van ’n lang, suksesvolle winterslaap is deeglike voorbereiding. Bere ooreet hulle byvoorbeeld in die maande net voor die winter. Hulle het die ekstra kos nodig, want hulle eet nie terwyl hulle slaap nie. Wanneer hulle in die diep slaap van hibernasie verval, werk hul metabolisme veel stadiger as gewoonlik – teen net ’n kwart van die gewone koers. Die vet wat hulle met hul ooretery opgegaar het, word baie stadig opgebruik. Dit gee hulle langer tyd om te slaap.

HET JY GEWEET?

Terwyl bere slaap, gaan hulle nooit toilet toe nie! Hul liggaam het aangepas om hul urine op te gebruik.

Pote

Die kussings aan ’n beer se pote dop tydens hibernasie af om vir groei en nuwe weefsel plek te maak.

Die lêplek

Wanneer ’n beer ’n knus plek kry om nes te maak, keer hy elke jaar daarheen terug. Sy uitgeholde lêplek kan in ’n boomholte, onder boomstompe, in ’n rivierwal, grot of vlak holte wees.

Liggaamsvet

Bere verloor tydens hibernasie 25-40% van hul gewig deur hul vet te verbrand.

Nog hiberneerders

Dié diere slaap ook die hele winter lank.

Eek­horings
Rotte
Krimpvarkies
Hamsters
Vlermuise

Pandas

Pandas hiberneer nie. In die winter beweeg hulle net na ’n warmer klimaat met volop kos. Bamboes is heeljaar beskikbaar en hulle moet dit die hele tyd eet.

’n Beer se lewe

Normale roetine

Wanneer die weer matig en kos volop is, volg bere hul gewone roetine. Dié tydperk duur van die lente tot die middel van die somer – April tot Julie in die noordelike dele van die wêreld.

Tyd vir (baie) eet

Van die middel van die somer tot halfpad deur die herfs (Julie tot Oktober in Noord-Amerika) eet en drink die bere soveel hulle kan om op hul winterslaap voor te berei.

Amper gereed

In November begin bere se lyf vir hibernasie gereedmaak. Dit is wanneer hul metabolisme stadiger begin word.

Hibernasie

Dié geslaap kan tot sewe maande duur wanneer kos op die skaarsste is. Gewoonlik hou dit minder as vyf maande aan. Hul metaboliese koers neem met 75% af en hulle haal net elke 45 sekondes asem.

Opstaantyd

’n Mens voel mos deurmekaar wanneer jy ontwaak. Dink net hoe jy sal voel nadat jy sewe maande geslaap het! Nadat hulle wakker geword het, voel bere eers ná 20 dae normaal.

Verbreed jou kennis

Ons het nog prettige, interessante artikels nes hierdie een in een tydskrif. Huisgenoot Het Jy Geweet? bevat 46 illustrasies propvol feite vir kinders. Die tweede uitgawe van Huisgenoot Het Jy Geweet? sal in Desember te koop wees. Kontak Johan Terblanche by 021-406-4962 of johan.terblanche@media24.com om dit te bestel.

Bronne: Bear.org, Wikipedia.org, beartrust.org, fairmonthotsprings.com