Suid-Afrika is ryk aan natuurlike hulpbronne. Dit is een van die wêreld se top-10-produsente van platinumgroepminerale (PGM’s), goud, chroom en steenkool en het ook reserwes van chromiet, vanadium en mangaan.

Steenkool was in 2017 die topverkoper-mynproduk – dit het vir 28% van verkope in die bedryf gesorg.

Ons sal volgende week op dié belangrike stof fokus, maar kyk nou eers na van ons land se ander mineraalprodukte

Foto: Huisgenoot-infografika.

Goud

Voorkoms

Goud kom in die Witwaters-randgebied in Johannesburg voor. Dit was die inspirasie vir die naam “Egoli”, wat “stad van goud” beteken.

Gebruike

Buiten vir juweliersware word goud gebruik om tandstopsels mee te maak en elektrisiteit in ruimtevoertuie en na selfone en televisies te gelei.

Het jy geweet?

Suid-Afrika het die diepste goudmyne ter wêreld en die grootste goudreserwes naas Australië en Rusland.

Diamant

Voorkoms

Suid-Afrika lewer 10% van die wêreld se diamante. Dit word naby Lime Acres, 160 km noordwes van Kimberley, Noord-Kaap, en naby Alldays in Limpopo ontgin.

Gebruike

Edelsteendiamante word in juweliersware gebruik. Omdat dit die hardste natuurlike stof op aarde is, word industriële diamante in boorpunte en slypskywe ingebed om harde materiale te sny, boor of slyp.

Chromiet

Voorkoms

Chromiet word in die Kalahari-kom in die Noord-Kaap en in die Rustenburggebied in die Bosveldstollingskompleks aangetref.

Gebruike

Chromiet-erts is die belangrikste samestellende deel van chroom, wat in ’n groot verskeidenheid metaal-, chemiese en vervaardigde produkte gebruik word.

Het jy geweet?

Suid-Afrika is die wêreld se voorste verskaffer van chromiet en het die grootste reserwes op die planeet.

Foto: Huisgenoot-infografika.

Mangaan

Voorkoms

Dit word in die Kalahari-kom in die Noord-Kaap ontgin.

Gebruike

Mangaan word gebruik om staal harder en buigsamer te maak, asook in kunsmis, dierevoer, waterbehandelingschemikalieë, kleurstowwe vir motoronderlae, bakstene, fritte, glas, tekstiele en teëls.

Het jy geweet?

SA is die voorste verskaffer van mangaan en het 78% van die geïdentifiseerde mangaanreserwes op aarde.

Platinum

Voorkoms

Platinum-erts (’n konsentrasie van ’n mineraal wat natuurlik voorkom) word in ’n groot rotsformasie bekend as die Bosveldstollingskompleks naby Rustenburg aangetref.

Gebruike

Danksy platinum se duursaamheid en weerstand teen verbleiking word dit dikwels in juweliersware omskep, maar dit word ook in mediese toerusting, rekenaarhardeskywe en turbinelemme gebruik.

Het jy geweet?

Suid-Afrika myn 70% van die wêreld se platinum, wat dit die topverskaffer maak.

Vanadium

Voorkoms

Die mineraal kom in die Bosveld-stollingskompleks voor wat oor Noord-Wes, Limpopo en Mpumalanga strek.

Gebruike

Vanadium-staalallooie word gebruik om uiters sterk toerusting soos asse, pantserplate, motorratte, vere, snygereedskap, suierstange en krukasse te maak. Vanadiumfoelie word in die bekleding van titaan aan staal gebruik.

Foto: Huisgenoot-infografika.

Vermikuliet

Voorkoms

Vermikuliet kom in die rotsformasie genaamd die Palabora-stollingskompleks voor en word naby Phalaborwa in Limpopo ontgin.

Gebruike

Om borde te maak wat in kaggels en akoestiese panele gebruik word. Dit word ook in motorremvoerings as potgrond en verpakkingsmateriaal gebruik.

Ilmeniet

Voorkoms

Soos rutiel is ilmeniet ’n erts van titaan. Ilmeniet word in Brand se Baai sowat 385 km noord van Kaapstad en naby Richardsbaai, KwaZulu-Natal, ontgin.

Gebruike

Dit word hoofsaaklik in titaanmetaal gebruik wat met ander metale gemeng word om duursame, sterk en liggewig-allooie te skep om vliegtuigonderdele, kunsmatige gewrigte en sporttoerusting te vervaardig.

Palladium

Voorkoms

Soos platinum is palladium een van die ses metale wat as die platinumgroepmetale (PGM’s) bekendstaan. Omdat PGM-ertse saam voorkom, word palladium ook in die Bosveldstollingskompleks aangetref.

Gebruike

Dit word in juweliersware, tandheelkunde, horlosiemakery, bloedsuikertoetsstrokies, vliegtuigvonkproppe, chirurgiese instrumente en elektriese kontakte gebruik.

Het jy geweet?

PGM’s het in 2017 21% van verkope in SA se mynbedryf uitgemaak.

Foto: Huisgenoot-infografika.

Rutiel

Voorkoms

Rutiel, ’n ystererts van titaan, word naby Richardsbaai en Empangeni in KwaZulu-Natal ontgin.

Gebruike

As ’n deklaag aan sweisstawe en om die titaandioksiedpigment te vervaardig wat in plastiek, papierprodukte, verf, sonskerm en selfs koskleursel gebruik word. Titaan word in juweliersware, prosteses, chirurgiese gereedskap en selfone gebruik.

Sirkoon

Voorkoms

Dié mineraal word van strandneerslae langs Suid-Afrika se oos-, wes- en suidkus vervaardig.

Gebruike

Sirkoonsand word in glasuur vir erdewerk en keramiek gebruik. Dit word ook as roesbestande metaal in kernreaktors ingespan. Sirkoon is die belangrikste bron van sirkonium, wat in magnete, bakstene, kunsmatige edelstene en party reukweerders gebruik word.

Ystererts

Voorkoms

Die rots waaruit yster onttrek word, ystererts, word naby Dingleton in die Noord-Kaap en naby Thabazimbi in Limpopo ontgin.

Gebruike

Yster is een van die samestellende dele van staal, die algemeens gebruikte metaal ter wêreld. Dit word onder meer vir die maak van motors, treine, skepe, meubels, toerusting en fietse gebruik.

Bronne: businesslive.co.za, statssa.gov.za, slideshare.net, mineralscouncil.org.za, angloamerican.com, sbcgold.com, vula.uct.ac.za, south32.net, geology.com, projectsiq.co.za, israelidiamond.co.il, britannica.com, asametals.co.za, mining-technology.com, miningforschools.co.za, capetowndiamondmuseum.org, rsc.org, dmr.gov.za, livescience.com, palabora.com, saimm.co.za