Verliefde paartjies wêreldwyd vier elke jaar op 14 Februarie Valentynsdag, ’n dag wat aan die liefde gewy word. Op dié dag doen hulle romantiese dinge saam en gee mekaar onder meer sjokolade, blomme of kaartjies geskenk.

Sommige dink dis net ’n dag waarop ondernemings probeer geld maak. Of jy nou van Valentynsdag hou of dit haat, het jy al gewonder waar die eeue oue fees vandaan kom? Ons leer jou meer.

Sint Valentyn

Sint Valentyn
Wetenskaplikes het die kopbeen gebruik van vermoedelik Sint Valentyn en wat in die basiliek (kerk) van Santa Maria in Cosmedin, Rome, bewaar word om ’n 3D-voorstelling te maak van hoe die heilige moontlik gelyk het. Gelasius I (regs) was pous van 492 tot 496 n.C. en het die feesdag van Sint Valentyn ingestel.

Op die tradisionele Christenkalender word elke dag van die jaar met ’n heilige verbind en is 14 Februarie die dag waarop Sint Valentyn (Valentinus in Latyn) vereer word.

Daar is vele heiliges met die naam Valentyn, maar drie word op 14 Februarie vereer: biskop Valentyn van Terni, Valentyn van Rome en ’n derde Valentyn wat blykbaar in Afrika saam met sy vriende vir sy geloof doodgemaak is. Dis moontlik dat hulle eintlik dieselfde mens was.

Valentyn van Rome was ’n priester wat in 270 n.C. deur die Romeinse keiser Claudius II Gothicus vir sy geloof doodgemaak is. Die keiser het die huwelik verbied, want hy het gemeen getroude mans is swak soldate.

Valentyn het gedink dit was verkeerd en het in die geheim aangehou om paartjies in die huwelik te bevestig. Toe die keiser dit uitvind, het hy Valentyn in die tronk laat gooi en ter dood veroordeel.

Volgens die legende het Valentyn op die tronkbewaarder se dogter verlief geraak en ’n brief aan haar met “Van jou Valentyn” onderteken.

Valentynsdag
’n Heilige plek ter ere van Sint Valentyn in die Karmelietekerk in Dublin, Ierland.

Romeinse fees word Christenfees

In die antieke tyd het die Romeine die koms van die lente (in die Noordelike Halfrond) op 15 Februarie met die Lupercalia-vrugbaarheidsfees gevier. Ongetroude vroue het vermoedelik as deel van die viering hul naam in ’n kruik gesit.

Die ongetroude mans het dan elkeen ’n naam getrek en ’n jaar lank was daardie vrou sy meisie. Dit het glo dikwels tot troues gelei.

Toe die Christendom wyer verspreid raak, is Romeinse feeste soos die Lupercalia verbied. Maar om mense te oorreed om hulle tot die Christelike geloof te bekeer, was dit makliker om heidenfeeste te “verchristelik” as om nuwes te begin.

In die vyfde eeu n.C. het die pous die Lupercalia toe met die fees van Sint Valentyn vervang.

Dag van liefde

Valentynsdag
Dié prentjie beeld Karel, die hertog van Orléans, en sy vrou se troudag by die Château de Dourdan in Frankryk uit.

Dit was eers veel later dat Valentynsdag met romantiese liefde verbind geraak het. Party historici dink die verbintens het begin omdat Geoffrey Chaucer, skrywer van The Canterbury Tales, in 1382 ’n gedig geskryf het om koning Richard II van Engeland se verlowing aan Anne van Boheme te eer.

In die gedig sê hy: “For this was on Saint Valentine’s Day, when every bird cometh there to choose his mate.”

Valentynsdag
’n Valentynswens uit 1415 van Karel, die hertog van Orléans, aan sy vrou het tot vandag behoue gebly. In die gedig gebruik Karel die woord “Valentyn” wanneer hy na sy vrou verwys.

Die oudste bestaande Valentynskaartjie dateer van 1415 toe Karel, die hertog van Orléans, ’n gedig aan sy vrou geskryf het terwyl hy in die Londense Tower gevange gehou is.

Die eerste boek van liefdesgedigte wat diegene gehelp het wat ’n Valentynswens wou stuur, maar gesukkel het om hul gevoelens in woorde te stel, is in 1669 gepubliseer.

In Engeland is goedkoop seëls in 1840 bekendgestel wat dit vir mense moontlik gemaak het om anonieme Valentynsboodskappe te stuur. Handgeskrewe briewe is ook toenemend deur gedrukte kaartjies vervang wat deur fabriekswerkers gemaak is.

Valentynsdag
’n Valentynskaartjie van lap en kant, met die hand gemaak en in die 1870’s deur Esther Howland ontwerp, en ’n moderner voorbeeld uit 1932, deur ’n masjien gedruk.
Valentynsdag
’n Valentynskaartjie van lap en kant, met die hand gemaak en in die 1870’s deur Esther Howland ontwerp, en ’n moderner voorbeeld uit 1932, deur ’n masjien gedruk. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die eerste massavervaardigde kaartjies is in 1849 in Amerika deur Esther Howland gemaak. Sy is bekend as die moeder van die Amerikaanse Valentyn.

In 1861 het Richard Cadbury die eerste sjokoladebokse in die vorm van harte vir Valentynsdag geskep, en die Hallmarkmaatskappy het in 1916 sy kaartjies begin druk.

Vandag is Valentynsdag in baie lande gewild, byvoorbeeld Amerika, Brittanje, Kanada en Australië. Dit word ook in Argentinië, Frankryk, Mexiko en Suid-Korea gevier. In die Filippyne trou paartjies dikwels op dié dag.

Valentynsdag is boonop goed vir sake: In 2016 het die Amerikaners ongeveer R311 miljoen op die dag en R17 miljoen aan kaartjies bestee. Tallose liedjies en rolprente is al gemaak om die dag van liefde te vier.

Simbole van liefde

Kupido en ’n hart wat met ’n pyl deurboor is

Die gevleuelde baba met die pyl en boog kom uit die Romeinse mitologie. Hy is die seun van Venus, die godin van liefde. Wanneer een van sy goue pyle iemand se hart deurboor, raak hulle verlief op die eerste mens wat hulle sien.

Voëls

Dwergpapegaaie word in Engels “lovebirds” genoem omdat hulle twee-twee styf teen mekaar sit, nes verliefde paartjies graag doen. Duiwe simboliseer ook lojaliteit en liefde omdat hulle ’n lewenslange maat kies.

Rooi rose

Rose was die gunstelingblomme van Venus, die godin van liefde, en rooi is ’n sterk kleur wat sterk gevoelens soos liefde simboliseer.

Die X as simbool van ’n soen

In die Middeleeue kon nie baie mense skryf nie. Om hul handtekening te maak, het hulle dan ’n X geteken en dit gesoen om te wys hulle is opreg.

Kant

Dit is vroeër as onfatsoenlik beskou vir ’n vrou om met ’n man te praat van wie sy hou. Wat sy wel kon doen, was om haar sakdoek – van kant gemaak – te laat val en dan te hoop hy tel dit op en bring dit vir haar. Daarom word kant met romanse verbind.

Bronne: Cum Laude Media, history.com, bbc.co.uk, oxfordhomeschooling.co.uk, awesomestories.com, wikipedia.com, historiek.net, froot.nl, netwerk24, vaticannews.va, britannica.com, hallmark.com