Jy het mos al geleer van die tropiese reënwoude wat in ’n strook by die ewenaar voorkom.

Verder weg van die ewenaar – ongeveer halfpad tussen die ewenaar en die pole – tref ons die gematigde woude aan.

Dié week fokus ons op hierdie bioom (klimaatstreek) waarvan daar ook nog klein gebiede in ons eie land te kry is.

Ligging

Die gematigde woude kom in plekke soos die ooste van Noord-Amerika, die noordooste van Asië asook die weste en ooste van Europa voor.

Die rede waarom daar so min gematigde woude in die Suidelike Halfrond is, is dat daar op dieselfde breedteligging as in die Noordelike Halfrond minder landmassas voorkom.

Daar is wel in Nieu-Seeland, die ooste van Australië, Suid-Amerika en selfs in Suid-Afrika van dié woude.

’n Jong geelhout teen die hange van Tafelberg. Foto: SANParks

Gematigde woude is eenvoudiger van struktuur as tropiese woude en onderhou minder boom- en ander plantspesies.

Hierdie woude is deur die eeue afgekap om plek te maak vir plase en sodat die hout gebruik kon word.

Deesdae brei dié bioom weer in sommige streke uit danksy bosbou- en bewaringsprojekte.

Klimaat

Die bioom van gematigde woude het vanweë sy breedteligging vier duidelik onderskeibare seisoene: die lente, somer, herfs en winter.

Jy weet seker dat die seisoene deur die effense kanteling van die aarde se as teweeggebring word. Dit veroorsaak dat die son se strale deur die jaar verskillende dele van die aarde meer verhit as ander dele.

As dit nie die geval was nie, sou die temperatuur op elke plek regdeur die jaar min of meer dieselfde gewees het, soos by die ewenaar. Die gematigde woude kom ook in ’n taamlik nat omgewing voor. Naas reënwoude is die bioom van gematigde loofwoude die reënerigste bioom.

Die gemiddelde jaarlikse neerslag is 75 tot 150 cm. Die neerslag val regdeur die jaar, maar in die winter val dit dikwels as sneeu.

Die gemiddelde temperatuur is 10 °C. Die somers is gematig met ’n gemiddelde dagtemperatuur van sowat 21 °C, terwyl die temperatuur in die winter dikwels ver onder vriespunt is.

Krimpvarkies bring die koue seisoen in hul skuiling deur in ’n lang winterslaap. Foto: Gallo Images/Getty Images

Soorte gematigde woude

Daar is verskeie soorte gematigde woude. Die eerste indeling wat ons kan maak, het te doen met die aard van die blare. Bome wat hul somerblare in die winter verloor, word bladwisselende bome genoem.

Dié wat hul blare regdeur die jaar behou, staan bekend as immergroen bome. Nader aan die poolstreke oorheers immergroen naaldbome.

Hulle kom veral in die taigabioom voor wat oorgaan in die boomlose toendra.

Bladwisselende bome kom in die meer gematigde gebiede voor.

Daar is ook drie soorte gematigde woude op grond van die bome se groeisels:

  • Naaldwoude: Hierdie soort woude is vol naaldbome soos die sipres, seder, rooihout en verskillende soorte dennebome. Dit is alles bome met naaldagtige groeisels pleks van blare en hulle het keëls (soos die dennebol) pleks van blomme. Daar is groot naaldwoude wat behoue gebly het in die noorde van Skandinawië, Siberië, die noordweste van Amerika, asook in Kanada en Alaska. Maar selfs in daardie gebiede is min woudstreke wat nog ongerep is.
  • Breëblaarwoude: Hierdie woude se bome is breedblarig en sluit in bome soos die eikeboom, esdoring, olm en okkerneut. Dit is bome met groot, plat blare wat die boom help om soveel moontlik sonlig te absorbeer. Die blare is egter broos en weerloos teen die winterwind, ryp en sneeu. In kouer gebiede verloor breëblaarbome hul blare in die winter – dit is wat “bladwisselend” beteken. In die herfs, voor die blare afval, verkleur hulle in pragtige skakerings van geel, oranje en rooi.
  • Gemengde woude: Dié woude het ’n mengsel van naaldbome en breëblaarbome.

Dierelewe

In die herfs gaar baie van die diere soveel moontlik kos op. Sade hou lank, maar bederfbare vrugte soos die meidoring en kruisbessie word op amper dieselfde tyd (laat in die somer) ryp.

Diere eet soveel moontlik daarvan om hul vetreserwes op te bou om hulle deur die winter te hou.

Sekere soogdiere slaap regdeur die winter veilig in hul skuiling.

Diere soos krimpvarkies en muise gaan in ’n ware winterslaap in – hul liggaamstemperatuur daal en hul metabolisme verlangsaam tot die absolute minimum omdat hul vet genoeg is om hulle aan die lewe te hou.

Eekhorings, bere en Europese ratels se liggaamstemperatuur val nie drasties tydens hul winterslaap nie, maar hulle oorleef in ’n slaperige toe- stand waartydens hulle af en toe wakker is. Die eekhorings eet dan die okker- en haselneute wat hulle opgegaar het.

Eekhorinkies versamel genoeg neute om hulle deur die winter te hou. Foto: Gallo Images/Getty Images

Diere soos die beer het ’n dik pels om die koue af te weer.

Nog ’n oorlewingstrategie is om te migreer. Sekere voëls in die noorde vlieg na die warmer suide. Dié trekvoëls sluit die distelvink (Carduelis carduelis) in wat in Europa voorkom.

Roofvoëls soos uile migreer nie, maar valke vang diertjies wat in die winter uit hul skuilplek te vore kom. 

Suurreën het ’n vernietigende uitwerking op plantegroei. Hierdie woud in die Reuse­gebergte in Pole het gevrek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bedreigings

Die gematigde woude is vir die mens baie waardevol. Toeriste besoek graag die mooi woude, maar die woude verskaf ook hulpbronne soos kos, hout en suurstof.

Besoedeling deur nywerhede en motoruitlaatgasse veroorsaak egter suurreën, wat dié bioom bedreig.

Suurreën beskadig die bome se blare en maak hulle weerloos teen siektes, peste en ryp.

Nog ’n probleem is wanneer die mens uitheemse plante en diere inbring wat die ekologiese balans kan versteur.

’n Knysna-olifant. Foto: SANParks


Woude in Suid-Afrika

Nie baie natuurlike woude kom in Suid-Afrika voor nie. Baie van ons woude is ongelukkig deur die jare vernietig.

Ons land se grootste bestaande woudstreek strek oor sowat 180 km in ’n 16 km breë strook vanaf George deur Knysna tot in die Humansdorp-omgewing.

Daar is gewoonlik regdeur die jaar reën in dié woudgebied.

Bome soos stink-, yster- en geelhout groei in hierdie natuurlike woude. In die Knysnabos was ’n eeu gelede nog sowat 500 olifante, maar vandag is net ’n handjie vol van hulle oor.

Daar is darem baie voëls soos die Knysnaloerie en wilde diere soos luiperds, bobbejane, duikers, apies, bosvarke, otters en ratels.

Suid-Afrika het nog oorblyfsels van natuurlike woude aan die oostelike, reënryke hange van die Drakensberge. In die ooste van Mpumalanga en Limpopo is ook plek-plek van dié natuurlike woude.