Die Hindoeïsme is die wêreld se oudste godsdiens wat vandag steeds beoefen word, en dis ook die derde grootste godsdiens in die wêreld. Daar is nagenoeg 1,15 miljard Hindoes.

Dis die godsdiens van die meerderheid mense in Indië, Nepal en Mauritius. Daar is sowat 560 000 Hindoes in Suid-Afrika. Die eerste Hindoes het gedurende die 19de eeu in Suid-Afrika aangekom.

Wat is Hindoeïsme?

Die god Krishna met sy fluit. Foto: Gallo Images/
Die god Krishna met sy fluit. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hindoeïsme sluit 'n verskeidenheid praktyke en oortuigings in. Dit verskil van ander groot godsdienste deurdat dit nie 'n stigter gehad het wat die godsdiens tot stand gebring het nie. 

Daar is ook nie 'n formele stelsel van oortuigings nie. Deur die geskiedenis was daar baie van die godsdienstige leiers, wat as ghoeroes bekendstaan, wat verskillende filosofieë uit talle heilige geskrifte aan mense geleer het. 

Die woord “Hindoe” is afgelei van die Indus­riviervallei in Noord-Indië en is oorspronklik deur die Perse gebruik om na mense van hierdie gebied te verwys. 

Die woord “Hindoeïsme” is in die 19de eeu geskep deur die Britte om te verwys na die oortuigings, tradisies en kultuur van die Hindoemense.

Sommige Hindoes verkies om na hul geloof te verwys as sanatana dharma (“die ewige weg”) – 'n eeue oue waardestelsel.

Oorsprong

’n Bruid in ’n sari en haar bruidegom in ’n sherwa
’n Bruid in ’n sari en haar bruidegom in ’n sherwani op ’n Indiese Hindoebruilof. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hindoeïsme kan tot 1500 v.C. terug­gevoer word, hoewel baie Hindoes glo tyd is ’n siklus met geen begin of einde nie en hul geloof het dus nog altyd bestaan. 

Daar word gereken dat 'n groep wat as die Ariërs bekendgestaan het teen omstreeks 1500 v.C. getrek het vanuit die area wat vandag Iran is. 

Hulle het tot in die Indusvallei in die noorde van Indië getrek en hul gode saamgeneem. 

Gedurende hierdie tydperk is die belangrikste heilige Hindoegeskrif, die Vedas (“kennis”), geskep en verbaal oorgedra (nie neergeskryf nie). 

Nog heilige tekste, genoem die Upanishads (“om naby te sit” en luister na godsdienstige leiers), het in 800-200 v.C. ontstaan. Dit vorm die grondslag van hedendaagse Hindoe-­oortuigings.

Baie gode, maar tog een

 Gedurende Diwali word rangoli- versierings gemaak
Gedurende Diwali word rangoli- versierings gemaak met gekleurde fyn poeier of blomblare en diyas (olielampe). Foto: Gallo Images/ Getty Images

Anders as Christene, Moslems en Jode, wat almal glo in een god (monoteïsme), is Hindoes henoteïsties, wat beteken hulle glo in een opperste god, Brahman, maar aanbid hierdie god deur ’n verskeidenheid mindere gode, simbole of vorms. 

Hulle glo hierdie gode is elk ’n ander deel van Brahman, wat volgens die Hindoeïsme in alles teenwoordig is.

Die drie belangrikste “mindere” gode is ­Brahma (die Skepper – wat nie met Brahman verwar moet word nie), Vishnu (die Beskermer en Bewaarder) en Shiva (die Vernietiger of Omvormer). 

Hulle vorm ’n triade (drie-enigheid) wat volgens die Hindoeïsme verantwoordelik is vir die skepping, instandhouding en vernietiging van die heelal.

Ander Hindoegode sluit in Krishna (die god van medelye, teerheid en liefde), Ganesha (die verwyderaar van hindernisse), Hanuman (die Aapgod, wat ’n simbool van krag, toewyding en energie is) en Lakshmi (die godin van rykdom en geluk). 

Benewens die Vedas en die Upanishads is daar baie ander stories oor die Hindoegode. Hierdie stories is saamgevat in die epiese gedigte Bha­gavad Gita, Mahabharata en die Ramayana.

Kaste­stelsel

Hindoes vier die Holi-fees, die fees van kleure, om die lente in te lui. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die samelewing van die Hindoes word tradisioneel in vier kastes of maatskaplike groepe verdeel. Baie glo hierdie stelsel is afkomstig van Brahman. 

Die vier kastes is Brahmin, die priesters wat volgens die godsdienstradisie afkomstig is van Brahman se kop; Kshatriya, vegters en konings wat van sy arms kom; Vaisya, wat boere, handelaars en ambagsmanne is en van sy bene af kom; en Shudra, die huurboere en helpers wat van sy voete af kom.

Daar is ook 'n vyfde groep mense wat buitekant die kastestelsel val. Hulle word die onreines (of onaanraakbares) genoem en het volgens die kultuurgroep die laagste maatskaplike status en moet onplesierige werke doen.

Duisende jare lank het hierdie groepe apart gewoon en nie gemeng nie. Jy kon nie van jou kaste ontsnap nie en moes met iemand van dieselfde kaste trou. 

Volgens die Hindoe-oortuigings was die enigste manier om van jou kaste af weg te kom om ’n goeie lewe te lei en goeie dade te doen sodat jy vir jou goeie karma (“aksie”) beloon kan word deur in jou volgende lewe in ’n hoër kaste gebore te word.

Diskriminasie op grond van kaste is gedurende die 20ste eeu in Indië verbied en die invloed daarvan het af­geneem.

Aanbidding

Ganga Talao, ’n kratermeer op Mauritius, is ’n plek wat deur pelgrims besoek word tydens Maha Shivarati (’n fees vir die god Shiva. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Die god Ganesha het ’n olifantkop. Foto: Gallo Ima
Die god Ganesha het ’n olifantkop. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hindoes aanbid (puja) deur na hul tempel (mandir) te gaan. Hulle aanbid ook in hul eie huis. Die meeste huise het ’n heilige kamer of 'n hoek van ’n vertrek waar die gesinsaltaar staan met prente of beelde van ’n god en ’n lamp wat brand.

Die name van die gode word herhaal en offerandes van water, vrugte, blomme en wierook word gemaak aangesien die elemente en die natuur 'n belangrike deel van aanbidding uitmaak. Elke Hindoetempel het een of meer priesters wat die aanbidding en gebede lei deur dele van die Vedas op te sê. 

Heilige dinge

Gelowiges neem ’n heilige bad in die Gangesrivier.
Gelowiges neem ’n heilige bad in die Gangesrivier. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Baie Hindoes glo sekere riviere is heilig en kan jou sondes afwas en die siel reinig. Die Ganges, 'n 2 525 km lange rivier in die noorde van Indië, word as die heiligste rivier beskou. 

En al is groot dele van die Ganges met riool besoedel, gaan miljoene mense jaarliks daarheen vir ’n rituele bad om hulself geestelik te reinig.

Hindoes beskou koeie as heilige diere omdat hulle aan die mens melk verskaf en die god Shiva vervoer; daarom eet hulle nie beesvleis nie. Koeie mag in Indië vrylik ronddwaal en niemand pla hulle nie. 

Feeste
  • Die Holi-fees lui die begin van die lente in die Noordelike Halfrond in,asook die oestyd (in Maart). Almal sing en dans van blydskap. Feesgangers spuit mekaar met gekleurde water en poeier. Ter viering van die fees eet mense spesiale kos saam.
  • Diwali, oftewel die Ligtefees, word in September of Oktober gevier. Dit lui die Hindoenuwejaar in. Hindoes vier fees uit blydskap dat die lig die duisternis verdring. 
    Mense maak dan hul huis skoon en versier dit. Olielampe word in huise en tempels aan­gesteek. Brandende lampe word ook in die riviere gesit om soos in die verlede lord Rama, ’n deel van Vishnu, te verwelkom van sy ballingskap in die woude.
  • Die huwelikseremonie (vivaha) en verassing (antyesti) lui groot fases in die mens se lewe in. ’n Hindoetroue kan dae lank aanhou. Die bruid en bruidegom dra klere wat tradisioneel rooi en goud is. Wanneer iemand sterf, word die liggaam verbrand. Op die derde dag ná die verassing kom die afgestorwene se geliefdes bymekaar om die as te versamel en in ’n nabygeleë rivier te gaan strooi. 

Bronne: india.mrdonn.org, kids.kiddle.co, theschoolrun.com, uri.org, wikipedia.org, KirtanyaLutchminarayan, Raadslid van Kaapstad se Interfaith Initiative

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.