Sonder mense wat die grond bewerk om voedsel te vervaardig sal ons almal verhonger. Twee hoofsoorte boere bestaan: kommersiële boere met reuseplase wat groot geld maak en bestaansboere wat met moeite op ’n klein stukkie grond oorleef. Vandag kyk ons net na bestaansboerdery en wat dit alles behels.

Boer op klein skaal

Wanneer ’n mens die grond bewerk en plaasdiere aanhou net met die doel om in jou eie gesin se behoeftes vir kos te voorsien, noem ’n mens dit be- staansboerdery. Anders as kommersiële boere, wat gewoonlik op groot skaal met enkele soorte gewasse of plaasdiere boer, werk die bestaansboer nie op die land om groot winste te maak nie.

Die bestaansboer vervaardig klein hoeveelhede van verskillende soorte oeste soos mielies, boontjies, tamaties, pampoen, kool, spinasie en marog.

Hoenders is vir bestaansboere ’n bron van vleis en eiers.

Dikwels is daar ook ’n paar nuttige diere op die lappie grond, soos ’n paar hoenders, boerbokke, varke en ’n bees of twee. So kry die bestaansboer se gesin vleis, eiers en melk om hul dieet aan te vul. Die bietjie voedsel wat oortollig is, kan verruil of verkoop word vir ’n ietsie ekstra om in ander behoeftes te voorsien. Bestaansboere en hul gesin doen gewoonlik self al die werk omdat daar nie genoeg wins is om salarisse aan werkers te betaal nie.

Voordele

  • Die leefwyse van bestaansboere hou voordele vir hulself en die omgewing in.
  • Dit is bekostigbaar omdat die gesin nie geld hoef te bestee om al hul kos te koop nie.
  • Dis nie nodig om die verskeidenheid vars vrugte, groente en diereprodukte te verpak of oor groot afstande te vervoer nie.
  • Dit is ekovriendelik, want bestaansboere spuit gewoonlik nie plaag- of onkruiddoders nie en gebruik nie chemiese middels of kunsmis nie.
  • Omdat dié boere nie monokultuur (grootskaalse aanplanting van net een gewas) beoefen en ander plante en diere nie as indringers beskou nie, het hul boerdery minder van ’n negatiewe impak op biodiversiteit (verskeidenheid in die natuur).
  • Oortollige kos kan boonop vir ’n ekstra inkomste verkoop word.
Bokke is ’n noodsaaklike deel van die oplossing vir voedselsekerheid omdat hulle taamlik min instandhouding verg en maklik aangehou kan word.

    Nadele

    • Baie mense droom daarvan om in harmonie met die natuur en van die land af te leef. Ongelukkig hou so ’n lewe ook nadele in, want die bestaansboer is aan allerhande onsekerhede uitgelewer.
    • Die bestaansboer vervaardig ’n kleinerige hoeveelheid voedsel en die gesin kan soms te min hê om te eet.
    • Bestaansboere is ook aan die elemente uitgelewer. Gure weer, hael, droogte en ander ongunstige omstandighede kan tot misoeste en verhongering lei.
    • Siektes en plae soos sprinkane kan alles vernietig.
    • Voedselonsekerheid kan gedurig vir die bestaansboer ’n bedreiging inhou en heeltyd op die gesin se gemoed druk.
    Siektes en plae soos sprinkane kan ’n bestaansboer se oes in ’n kits verwoes.

      Oorlewingstryd

      Bestaansboerdery kom nog wyd oor die wêreld voor en sluit groot dele van Afrika suid van die Sahara in. Sulke bestaansboerderye maak van eenvoudige metodes en implemente gebruik; daarom is die opbrengs (die grootte van die oeste) ook betreklik klein.

      ’n Vrou in Kenia bewerk die grond met ’n skoffel. ’n Koei voorsien ’n bestaansboer se gesin van melk.

      Die woord “bestaan” dui eintlik op ’n stryd om oorlewing omdat bestaansboere meestal nie juis ’n suksesvolle onderneming van hul boerdery op hul klein stukkie grond maak nie.

      Die bestaansboere in Afrika is dikwels plattelandse vroue of oumas wat die kinders grootmaak en die lande bewerk terwyl hul broodwinners iewers in die stede gaan werk het. Die kinders van bestaansboere verkies gewoonlik ook om nie self eendag so ’n sukkelbestaan te voer nie.

      Vir baie van hulle is bestaansboerdery ’n teken van armoede en hulle hoop om liewer self eendag ook in die stad te gaan werk.

      Osse word gebruik om ’n lappie grond om te ploeg. Suid-Afrika is ’n droë land waar dit veral vir bestaansboere moeilik is om hul oeste te besproei wanneer die weer nie saamspeel nie.

      Groot moontlikhede

      In arm huishoudings in Afrika se plattelandse gebiede kan die gesin se uitgawes vir kos 60 tot 80% van hul inkomste behels. Kospryse styg deurgaans weens inflasie. Met bestaansboerdery kan sulke gesinne se uitgawes op kos verminder word sodat meer geld vir skool- en gesondheidsbehoeftes beskikbaar is.

      Dit is nodig dat bestaansboere moet leer om volhoubaar te boer en groter oeste te verkry. Doeltreffender insette, soos die gebruik van bemesting, kan hier van nut wees.

      In ’n droë land soos Suid-Afrika kan ’n eenvoudige drupbesproeiingstelsel met pype waaruit gaatjies die water op die regte plek naby die gewasse se wortels laat drup, ook tot beter oeste en groter produktiwiteit lei.

      Die staat kan ook infrastruktuur (mark- te, paaie en vervoer) en toerusting verskaf sodat bestaansboere beter kan boer en hul oorskotte makliker vir kontant kan verkoop. Dit is ’n opdrag waarmee die departement van landbou, bosbou en visserye belas is met die doel om plattelandse mense se lewe te verbeter en voedselsekuriteit te help verseker. 

      Het jy geweet Suid-Afrika het ’n tweeledige landbouekonomie?

      Dit bestaan uit ’n goed ontwikkelde kommersiële landbousektor en die meer bestaansgegronde landbouaktiwiteite in die afgeleë plattelandse gebiede.

      Die staat se departement van landbou, bosbou en visserye bied sy steun aan sowat 435 000 bestaansboere en eienaars van kleinhoewes landwyd.

      Kopie: Cum Laude Media; Bronne: hsrc.ac.za, farmersweekly.co.za, woolworths.co.za, mg.co.za, daff.gov.za, gcis.gov.za; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Magazine Features