Twee hoofsoorte boerdery is algemeen in Suid-Afrika: Bestaansboerdery is wanneer die boer op klein skaal vir eie gebruik kos produseer, en kommersiële boerdery behels plase wat gewoonlik een groot oes soos mielies of een kudde soos vleisbeeste het. In deel 2 kyk ons na kommersiële boerdery.

Geskiedenis

Die landbou het sowat 10 000 jaar gelede tot stand gekom. Dit was ’n belangrike ontwikkeling vir die mensdom. Voor die landbou ontstaan het, was die mens jagter-versamelaars wat rondgetrek het agter wild aan en eetbare plante in die natuur gepluk het.

Die helfte van ons land se water word vir besproeiing op plase gebruik.

Toe die mens begin boer, het groot dorpe en stede ontstaan. Die rede hiervoor is dat boerderye ’n digter en groter bevolking van kos kan voorsien. Die eerste gewasse wat daardie vroeë boere aangeplant het, was koring en gars.

Die landbou het op verskillende plekke ontstaan, soos in die Vrugbare Halfmaan (die gebied wat vandag onder meer deur Egipte, Israel, Sirië en Irak beslaan word), asook in Sentraal-Amerika en vermoedelik ook in die ooste van Asië.

Kommersiële plase

Die kommersiële boer kweek groot hoeveelhede om sy oes teen ’n wins te verkoop. Hy maak genoeg geld om van te leef en saad of vee aan te koop. Oor die algemeen kweek dié boere nie voedsel of hou diere aan vir eie gebruik nie.

Merinoskape word geskeer vir hul wol.

Hulle koop dus hul benodigdhede met die plaas se wins eerder as om self die plaas se produkte te gebruik. Kommersiële plase kan in drie soorte verdeel word – veeteelt, saaigrond of gemeng. Die neiging wêreldwyd is dat boere meer gemengde plase het.

Veeteelt en pluimveeboerdery beteken die boer hou plaasdiere aan vir hul vleis of om op ’n voortgesette grondslag diereprodukte van hulle te oes, soos melk, eiers, wol of vere. Veeboerdery verg gewoonlik ’n groot, uitgebreide plaas. Dink maar aan die groot skaapplase in die Karoo. Ons noem dit ’n ekstensiewe boerdery. Sulke ekstensiewe boerderye het eintlik min werkers nodig in verhouding tot die plaas se grootte.

Organiese boere sal nooit hul landerye met plaagdoder bespuit soos hierdie boer nie. Die wingerde van Stellenbosch verskaf tafel­druiwe en wyn.

Dis ook nie nodig om baie groot bedrae geld in dié groot boerdery te belê nie. Intensiewe boerdery beslaan gewoonlik ’n betreklik klein oppervlakte, maar die doelwit is om baie hoë opbrengste te bewerkstellig. Dit is dus die teenoorgestelde van ekstensiewe boerdery.

Groot bedrae geld word in dié intensiewe boerdery gestoot en baie werk is nodig vir die oes. Intensiewe boerderye gebruik masjinerie en nuwe tegnologie om so doeltreffend en lonend moontlik te wees. Die groot kweekhuise van Nederland of ryslande van Suidoos-Asië is goeie voorbeelde hiervan.

Suid-Afrikaanse landbouprodukte

Die landbouaktiwiteite in ons land wissel van intensiewe saaiboerdery en gemengde boerdery in die winterreënvalstreek (veral die Wes-Kaap) en streke met ’n hoë reënval in die somer, tot beesboerdery in die bosveld en skaapboerdery in die droë landstreke.

Ons boere verbou veral mielies op groot skaal. Ander oeste sluit in koring, suikerriet en sonneblomme. Suid-Afrika verbou genoeg van die meeste belangrike landbouprodukte om in die plaaslike behoeftes te voorsien en ons voer ook landbouprodukte uit.

Ons boere voer onder meer sitrus- en sagtevrugte uit, asook blomme (soos proteas) en plaaslik gebottelde wyn.

Intensiewe hoenderboerdery vir die vleismark.

Uitdagings

Boere moet talle uitdagings trotseer om kop bo water te hou. Vir alle boere verg dit harde werk om ’n betroubare inkomste te verseker wat darem hul uitgawes oorskry. Klimaatsverandering en gevolglike droogtes bied ook ’n groot uitdaging. Water is nodig vir alle boerderye.

Baie boere aanvaar die noodsaaklikheid daarvan om grond ook beskikbaar te stel aan voorheen benadeelde gemeenskappe. Maar daar is baie vrae oor die voorstelle vir hoe die proses uitgevoer kan word. Dit bring onsekerheid in die landbousektor en kan die bedryf knou.

Die regering wil die ongelykhede van die verlede probeer regstel wat swart boere benadeel het. Dit is ’n goeie doelstelling, maar haakplekke in die proses moet uitgestryk word sodat die beleid sinvol toegepas kan word.

Suid-Afrika se kommersiële boere het van sowat 120 000 in 1994 tot net sowat 35 000 vandag afgeneem. Dit is kommerwekkend omdat ons boere noodsaaklik is om voedselsekerheid vir 55 miljoen Suid-Afrikaners te verseker.

Ons boere verskaf werk aan nagenoeg 650 000 mense van wie die meeste ongeskool is. Sonder genoeg kommersiële boere sal die ekonomie agteruitgaan en veral die landelike gebiede en dorpe sal kwyn. 

Verskillende soorte boere
  • Graan- en veevoerboere verbou graan soos koring, gars, kanola, hawermout, rog, vlas, ertjies en voergewasse soos lusern.
  • Suiwelboere bestuur plase waar koeie aangehou word om melk en ander suiwelprodukte soos kaas en jogurt te verskaf.
  • Pluimveeboere hou getemde voëlsoorte soos hoenders, ganse, kalkoene en volstruise aan.
  • Groot veeboere hou vee soos beeste of skape op groot plase aan.
  • Wildboere teel diere soos leeus, kameelperde, renosters, koedoes en ander wildsbokke vir jag- of bewaringsdoeleindes.
  • Byeboere hou heuningbye in byekorwe aan en vervaardig heuning en byewas.
  • Krokodilboere teel krokodille vir hul vleis en leer.
  • Organiese boere produseer groente, vrugte, graan, vee en pluimvee sonder die gebruik van kunsmis, plaag- of onkruiddoders.
  • Daar is ander soorte boerderye wat ook op kleiner skaal beoefen word, soos voëlboere vir die troeteldiermark, asook slang- en wurmboere.

Waarmee sal jy graag wil boer?

Kopie: Cum Laude Media; Bronne: archive.cnx.org, farmingportal.co.za, farmersweekly.co.za, s-cool.co.uk, brandsouthafrica.com, encyclopedia.kids.net.au, bizcommunity.com, wikipedia.org; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Magazine Features