Hoewel ons nie die wind kan sien nie, kan ons dit beslis voel. Ons kan ook die uitwerking daarvan in die dinge rondom ons sien: blare wat oor die grasperk waai, ’n vlag wat in die wind wapper of ’n papier wat deur ’n sterk wind uit jou hand geruk word.

Wat is wind?

Wind is lug in beweging. Het jy al ooit gewonder wat wind veroorsaak? Dis nie iemand wat lug uit ’n baie groot mond blaas nie. Op ons planeet word die wind deur twee dinge bepaal: die aarde en die son.

Wind word veroorsaak wanneer die oppervlak van die aarde oneweredig deur die son verhit word. Omdat die oppervlak uit verskillende soorte land- en watermassas bestaan, absorbeer dit die son se strale op verskillende maniere.

Namate die son die aarde se oppervlak verhit, word die atmosfeer ook verhit. Warm lug weeg minder as koue lug en styg dan op. Wanneer die warm lug opstyg, beweeg die koue lug in die warm lug se plek in.

Hierdie beweging is wat die wind laat waai.

Die wind help sommige plante om hul saad ver en wyd oor die aarde te versprei.

Winde kan verander, maar sommige is voorspelbaarder as ander. Die spoed waarteen die wind waai, word bepaal deur die temperatuurverskil tussen die warm en koue lug wat teen mekaar druk. Hoe groter die temperatuurverskil, hoe vinniger waai die wind.

Weervoorspellers probeer bepaal watter winde gaan waai en watter weer die wind daarmee saam gaan bring. Ons gebruik die punte van ’n kompas om windrigtings te beskryf: noord, oos, suid en wes.

Windrigting is die rigting waaruit die wind waai, nie die rigting waarin dit waai nie. Dus, as die wind vanuit die suide kom, noem ons dit ’n suidewind.

’n Windkous wys die sterkte en rigting van die wind en word op alle lughawens aangetref.

Hoe word windrigtings bepaal?

Drie belangrike faktore beïnvloed die rigting waarin die wind waai, naamlik gradiënt, die rigting waarin die aarde draai en wrywing. S

Die gradiënt is die geleidelike verandering van een ding na ’n ander. Wanneer dit by windrigtings kom, het die gradiënt te doen met lugdruk. Dit begin by ’n hoogdruk, maar stadig word die druk wat deur die atmosfeer uitgeoefen word ál minder tot dit laag is.

Namate jy verder wegbeweeg van die gebied in die middel van die hoë druk, beweeg jy deur die drukgradiënt tot jy by die lae druk is. Wind waai vanuit ’n hoë druk na ’n lae druk. 

Die rigting waarin die aarde draai het ’n interessante uitwerking op winde: Dit druk winde in die Noordelike Halfrond na regs en dié in die Suidelike Halfrond na links. Soms is dié effek so sterk dat dit die wind teen die drukgradiënt kan instuur. 

’n Weerhaan is ’n eenvoudige in­strument wat windrigting aandui.

Wrywing is die laaste faktor wat ’n invloed op die windrigting het. Naby die aarde se oppervlak is daar baie dinge wat met die wind inmeng en dit stadiger maak of die rigting beïnvloed. Dit sluit in bome, berge, huise, geboue, mere, oseane en riviere.

’n Toestel wat die windsnelheid meet, word ’n anemometer of windmeter genoem.

Dié uitwerking is net belangrik naby die aarde se oppervlak. Ons gebruik windwysers om windrigting aan te dui. ’n Windwyser is basies ’n pyl wat in die wind in wys, met ’n stertvin aan die ander punt van die pylskag. Hierdie pylskag draai vry op ’n steunpunt reg onder hom sodat die pyl na die bepaalde windrigting kan beweeg soos wat die wind van rigting verander. Baie windwysers word weerhane genoem omdat ’n haan bo-op die pyl sit.

Heersende winde

Daar is baie verskillende soorte winde. In party dele van die wêreld waai die wind amper altyd in een rigting. Wanneer ’n gebied deur ’n spesifieke wind oorheers word, noem ons dit die heersende wind. Heersende winde speel ’n spesiale rol en help meteoroloë (weerkundiges) om toekomstige weerpatrone uit te ken.

Hierdie windturbines skakel windenergie in elektrisiteit om – ’n skoon energiebron.

Die westewinde in die Noordelike en Suidelike Halfrond waai vanuit die weste en het ’n groot invloed op seestrome. Die handelswinde waai weer vanuit die noordooste of suidooste in die rigting van die ewenaar. Hulle is belangrike winde vir seevaart.

Wind is nuttig

In nat dele help die wind om die grond op te droog omdat die wind die water wat nie deur die grond geabsorbeer word nie terug in die atmosfeer opneem. Die wind speel ook ’n belangrike rol daarin om plante te help voortplant omdat dit sade vervoer en stuifmeel van een plant na ’n ander waai sodat vrugte, groente en blomme kan vorm.

Die heersende suidoostewind in Kaapstad is ook as die Kaapse Dokter bekend omdat dit die vuil lug weg­blaas wat oor die stad hang. Strande soos Bloubergstrand naby Kaapstad is gewild vir sweefski.

Mense het ook al geleer om die wind te gebruik om elektrisiteit op te wek. Dink maar aan die groot windturbines wat ’n mens deesdae op windplase kan sien. Die reuselemme word deur die wind gedraai en is aan ’n kragopwekker gekoppel. 

Foto's: Gallo Images/Getty Images; Kopie: Cum Laude Media

Bronne: kidsgeo.com, mieliestronk.com, natgeokids.com, scienceforkidsclub.com, study.com, weatherwizkidz.com