Reënwoude is ongelooflike plekke. Tropiese reënwoude kom rondom die ewenaar voor. As jy uit die ruimte na die aarde sou kyk, lyk die reënwoude amper soos ’n gordel wat om die aarde se middel loop.

Die Amasone-reënwoud is die grootste tropiese reënwoud op aarde.

Die klimaat

Die Amasone is by die ewenaar; dus is daar geen seisoensveranderings deur die loop van die jaar nie. Dit is meestal warm en nat, en omdat daar so baie vog in die lug is, is dit ook bedompig.

Omdat reëwoude in tropiese gebiede aangetref word, kry hulle baie sonlig. Plante skakel dan dié sonlig in energie om deur die proses van fotosintese.

Aangesien daar baie sonlig en reënval is, kan ’n groot verskeidenheid plante hier groei. Dit bied weer volop kos aan ’n magdom verskillende diere wat plante of ander diere vreet.

Die grootste diversiteit van lewende organismes op aarde word in reënwoude aangetref. Hoewel reënwoude net sowat 6% van die aarde se oppervlakte beslaan, word meer as die helfte van alle diere en plante daar aangetref.

Dit reën byna elke dag; selfs in die droër maande val die reën steeds sowat vier dae per week.

Moeder aarde se longe

Die Amasonereënwoud beslaan meer as 5 500 000 km². Die reënwoud strek oor nege verskillende lande in Suid-Amerika, waarvan die grootste deel in Brasilië aangetref word. Dit strek tot in Bolivië, Peru, Ecuador, Colombia, Venezuela, Guyana, Suriname en Frans-Guiana.

Die Amasone is dalk baie ver van jou huis af, maar soos ander reënwoude op aarde speel dit ’n baie belangrike rol in jou alledaagse lewe. Sy ekostelsels is uiters belangrik vir die welstand van alle lewe.

Soms word na die Amasone verwys as die “longe van die aarde” omdat die ryk plantegroei koolstofdioksied uit die lug verwyder en suurstof terugsit terwyl hulle fotosinteer. Meer as ’n vyfde van al die suurstof op aarde word in die Amasone vervaardig.

Reënwoude soos die Amasone help ook om die aarde se klimaat te stabiliseer, en hulle skep lewensnoodsaaklike reënval oor die wêreld heen.

Die Amasonerivier word ook in dié reënwoud aangetref. Dit is sowat 6 400 km lank en die tweede langste rivier op aarde. Net die Nyl, wat sowat 6 650 km ver van Uganda tot by die Middellandse See vloei, is langer.

Plantegroei

Die plantegroei in tropiese reënwoude soos die Amasone kan in verskillende lae verdeel word. Die digste boonste laag is die blaredak met bome van 30 tot 45 m hoog.

Die hoër bome (langer as 40 m) wat bo die blaredak uitrys, staan bekend as die verrysende laag. Rankplante klim teen die hoë bome op om bo by die sonlig te kom.

Die blaredak is so dig dat die woudvloer permanent in donkerte gehul is. Wanneer dit reën, duur dit 10 minute vir die water om deur al die blare tot op die woudvloer te val.

Bo die woudvloer vind jy die onderbos met lae bome en struike. Hier sal dikwels kleiner vrugtebome asook klimop- en kleefplante wees. Die blaredak en onderbos verskaf ’n oorvloed plekke vir plante om te groei en diere om te oorleef.

Daar is kos, skuiling en genoeg wegkruipplek dat verskillende spesies saam hier kan oorleef. Op die woudvloer ontbind ou blare en bome. Hier kom ook baie min sonlig uit. Dis waarom plante soos kruie, varings en jong lote hier floreer. Daar is sowat 80 000 verskillende plantspesies in die Amasone.

Die kapibara is die grootste knaagdier ter wêreld. Dit kom in die Amasone voor.

Dierelewe

Meer plante en diere kom in die Amasone as in enige ander ekostelsel voor. Meer as 1 300 verskillende voëlspesies, 3 000 soorte visse, byna 380 reptiele, 430 soogdiere en 2,5 miljoen verskillende soorte insekte kan hier aangetref word. Baie van dié spesies word nêrens anders gevind nie.

Van die bekendse Amasonediere is die jaguar, tapir, kapibara, reuse-otter, pienk rivierdolfyn en verskeie soorte ape en papegaaie.

Wanneer ’n mens in die Amasone gaan toer, moet jy baie versigtig wees vir al die giftige diere, soos die sidderaal, vleesvretende piranhas, giftige paddas en natuurlik dodelike slange, soos die enorme anakonda.

Mense

Hoewel die Amasone-reënwoud meestal uit plante en diere bestaan, is daar ook mense wat op dié asemrowende plek woon. Daar word geskat dat tussen 400 en 500 verskillende stamme inheemse mense in die woud woon, van wie 50 groepe nog nooit met ander mense buite hul stam in aanraking gekom het nie.

Baie van dié stamme word vandag deur die moderne wêreld beïnvloed. Al maak hulle steeds op die reënwoud staat om te jag en ander kos te versamel, kweek hulle ook gewasse soos piesangs of rys en gebruik Westerse gereedskap soos metaalpotte.

Tussen 400 en 500 verskillende groepe inheemse mense woon in die Amasone.

Hulle sal dikwels na dorpies of stede reis om goedere na markies te neem. Ons kan baie by die inheemse stamme van die Amasone oor die reënwoud leer. Hulle het ongelooflike kennis oor plante wat gebruik kan word om siektes en kwale te behandel, en ’n diep begrip oor hoe diere en plante in die Amasone saamleef. 

Beskerm die reënwoud

Ongelukkig word die Amasone, soos baie ander reënwoude, bedreig. Byna 20% van die Amasone het in die afgelope 40 jaar verdwyn.

Die verwoesting van reënwoude word ontbossing genoem. Die mensdom is die grootste oorsaak van die verlies van reënwoude.

Daar is baie redes waarom die bome in die Amasone afgekap word: vir hout vir meubels en vuurmaakhout, om plek te maak vir landbou vir groot- en kleinboere, weigrond vir vee, om papier te maak, om plek te maak vir paaie en om hulpbronne soos goud en olie te ontgin.

Brande veroorsaak natuurlik ook ontbossing. Die Amasone is ’n kosbare plek vir die aarde en dis belangrik dat ons dié hulpbron beskerm sodat dit nog jare lank voortbestaan.

Foto's: Gallo Images/Getty Images; Kopie: Cum Laude Media;

Bronne: kids.mongabay.com, mieliestronk.com, natgeokids.com, scienceforkidsclub.com