Ons, die mens, het die vermoë om te leer, redeneer en probleme op te los. Ons is bewus van onsself en van ander se gevoelens, gedagtes en teenwoordigheid. Ons maak gereedskap en kan ander mense om die bos lei. Ons is kreatief en kan afleidings maak.

Boonop kan ons ingewikkelde gedagtes in ons taal uitdruk. Dit alles dui op ons intelligensie, of hoe? Maar wat van diere? Jy het seker al diere soos honde of dolfyne gesien wat toertjies kan doen en papegaaie gehoor wat kan praat. Vind nou uit watter diere die slimste is.

Hoe toets jy diere se intelligensie?

Wetenskaplikes wat diere-intelligensie toets, kyk gewoonlik na kwessies soos selfbeheer, bewussyn en geheue. Dit is vaardighede wat nodig is om inligting te verwerk en verstandige besluite te neem. Die “wystoets” en “spieëltoets” is twee gewilde maniere om te bepaal wat in diere se verstand aangaan.

Daar is baie ander intelligensietoetse en navorsers dink gedurig nuwes uit. In die wystoets word ’n dier geleer om kos op ’n spesifieke plek te verwag. Die plek waar die kos is, word dan verander en ’n mens sal dan met die vinger wys waar die kos nou te vinde is. As die dier direk na daardie plek gaan, slaag hy die toets.

As hy dit ignoreer en op die ou plek gaan soek, druip hy. Hierdie studie ondersoek selfbeheersing en die vermoë om nuwe inligting te verwerk. Menslike babas slaag dié toets wanneer hulle ongeveer ’n jaar oud is. Die meeste diere druip dié toets. Dis gewoonlik makgemaakte soogdiere soos honde wat hierin suksesvol is.

Die spieëltoets meet selfbewussyn – die besef en kennis van jouself. Gewoonlik word ’n merk soos ’n rooi kol op die dier se voorkop aangebring. As die dier na sy weerkaatsing kyk en aandui hy herken dit deur byvoorbeeld aan sy gesig te raak, slaag hy die toets. Jy moet ’n basiese konsep van identiteit hê om jouself in ’n spieël te herken, so dit dui op ’n vorm van intelligensie.

Mensbabas slaag dié een op rondom 18 maande. Diere wys hoe slim hulle is deur kommunikasie, spel, beplanning en probleemoplossing. Van hulle het baie goeie geheues. (Hulle onthou dinge.) Hier is ’n paar diere wat as baie slim gereken word. Jy sal dalk verbaas wees oor sommige van die kandidate op die lysie van slim diere.

Kreatiewe dolfyne

Walvisse en dolfyne is soogdiere soos ons. Walvisse kommunikeer oor groot afstande met mekaar. Dolfyne gebruik ingewikkelde fluit- en klikgeluide om met mekaar te kommunikeer. Wetenskaplikes het selfs agtergekom dolfyne het unieke kombinasies daarvan – dolfynname – om hulself mee te identifiseer.

Dolfyne kommunikeer met mekaar deur fluite en klik
Dolfyne kommunikeer met mekaar deur fluite en klikgeluide asook lyftaal.

Asof dit nie slim genoeg is nie, gebruik dolfyne aan die Australiese kus ’n spons om hul snoet te beskerm as hulle op die seebodem kos soek. Die gebruik van gereedskap soos die spons dui op baie hoë intelligensie by diere.

In ’n bekende eksperiment in die 1960’s het twee dolfyne baie kreatief geraak en met nuwe toertjies vorendag gekom toe hulle agterkom hulle word met vis beloon as hulle vindingryk raak.

Al lyk hy so vreemd en blobberig, is ’n seekat ’n
Al lyk hy so vreemd en blobberig, is ’n seekat ’n uitgeslape kalant. Hier maak Max ’n fles oop deur die deksel af te skroef.

Katte en honde

Jy het seker al van baie slim honde gehoor en dalk selfs een gehad. Honde kan probleme op hul eie oplos, verstaan hoe ander voel en daarop reageer, en kan met ander kommunikeer. ’n Studie met ’n skaaphond genaamd Chaser het onthul hoe goed ’n hond se geheue kan wees.

Die skaaphond Chaser het elkeen van haar 1 022 spe
Die skaaphond Chaser het elkeen van haar 1 022 speelgoed by die naam geken.

Chaser kon 1 022 selfstandige naamwoorde (die name van al haar speelgoed) onthou.

Katte kan ook soos honde toertjies leer doen deur te kyk en na te doen, veral as hulle aangemoedig word. Maar dis moeiliker as met honde omdat katte, anders as honde, van nature alleenloperdiere is.

Suda die olifant verf ’n prentjie by die Mae Taeng
Suda die olifant verf ’n prentjie by die Mae Taeng- nasionale park in Chiang Mai, Thailand. Sy kan selfs haar naam skryf.

Jy kan diere in jou omgewing dophou om vir jouself te bepaal hoe intelligent hulle is. Benewens die slim diere wat hier bo genoem word, is daar baie ander wat bekend is vir hul vermoëns. As jy naby ’n plaas of park bly, kan jy gaan kyk na diere soos varke, perde, bokke, hoenders, duiwe, eekhorinkies en selfs rotte.

Probeer vasstel hoe die diere kommunikeer, speel, beplan en probleme oplos. Mense is nie die enigste intelligente wesens op dié planeet nie.

Prima primate

Primate is diere soos sjimpansees, ape, bobbejane en die mens. Ons deel byvoorbeeld byna 98% van ons DNS (die brokkies genetiese kode wat ons maak wie ons is) met sjimpansees.

G’n wonder hulle is slim genoeg om gereedskap te gebruik en in georganiseerde groepe te jag nie. Eksperimente wys sjimpansees vaar selfs beter as die mens in geheuetoetse. Hulle kan empaties (bewus van hoe ander voel), onbaatsugtig en selfbewus wees.

Hulle kan selfs gebaretaal aanleer. Kanzi, ’n 39-jarige bonobo (dwergsjimpansee), is bekend vir sy taalvaardigheid. 

Selfbewuste olifante

Benewens dolfyne en sekere primate wat die spieëltoets kon slaag, het een Indiese olifant met die naam Happy dit ook reggekry toe sy na haar weerkaatsing in ’n groot spieël gekyk en aanhoudend met haar slurp aan die rooi kol op haar kop gevoel het. Olifante blyk baie slim te wees.

Hulle is al gesien waar hulle familielede troos, ander spesies in nood help, klanke naboots, gereedskap gebruik, in water speel en met mekaar kommunikeer deur middel van vibrasies wat hulle in hul voete voel.

Olifante is ook bekend vir hul geheue en kan die ligging van watergate in ’n groot landskap onthou.

Uitgeslape seekatte

Die eienaardige voorkoms van ’n seekat kan jou dalk laat dink daar gaan niks in sy kop aan nie. Moenie glo nie! Sy brein deel ­eienskappe met die mens se brein, soos voue in die lobbe en spesifieke areas wat tas- en visuele prikkels verwerk.

Sy brein help hom om sy voorkoms te verander om weg te kruip. Hy kan sy kleur en patrone verander. Seekatte is nuuskierig, hou niks van verveeldheid nie, kan dinge aanleer en gereedskap gebruik.

’n Seekat is opgemerk waar hy ’n klapperdop met hom saamkarwei om in weg te kruip as gevaar dreig. Hulle kan flesse oopdraai, ander seekatte na-aap, en in ­laboratoriumtoetse draf hulle moeilike doolhowe kaf.

Vindingryke voëls

Nie alle voëls is onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Kraaie kan takkies as gereedskap gebruik om kos buite hul bereik by te kom. Kaketoes kan hul beweging in pas hou met die ritme van musiek. 

Alex, ’n papegaai, het geleer om honderde woorde te sê, tot agt te tel en eenvoudige wiskundeprobleme op te los. Hy kon ook vorms herken.

Alex kon selfs ou woorde gebruik om nuwe idees uit te druk. Toe hy die eerste keer koek proe, het hy dit “yummy bread” genoem.

Foto's: GALLO IMAGE/GETTY IMAGES, © ANDREACA83 | DREAMSTIME.COM; Teks: Cum Laude Media; Bronne: kidsciencechallenge.com, nbcnews.com, nationalgeographic.co.uk, grunge.com, theatlantic.com, bbc.co.uk