Het jy al ooit gewonder hoekom jou kat teen jou been skuur of spin wanneer hy op jou skoot sit? Hoekom lyk dit asof miere almal 'n onsigbare paadjie na hul voedselbron volg? Wat sê al die voëls vir mekaar so vroeg soggens?

Diere kan dalk nie soos ons woorde gebruik om te praat nie, maar hulle kommunikeer beslis met mekaar oor kos, vriendskap, voortplanting en gevaar. 

Kommunikasie is die proses waartydens inligting of 'n boodskap gestuur en ontvang word. 

Diere maak van 'n groot verskeidenheid seine gebruik om inligting oor te dra. Dié seine word op verskeie maniere van een dier na 'n ander oorgedra.

Sigbare seine

’n Teken van ’n jong sjimpansee se ­onderdanigheid
’n Teken van ’n jong sjimpansee se ­onderdanigheid aan sy tropleier. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Visuele kommunikasie verwys na seine wat gesien kan word. 

Voorbeelde hiervan is die gloeiende liggie van 'n vuurvliegie wat gereed is om te paar en 'n hond wat sy stert swaai van blydskap omdat sy eienaars tuis is.

Dié seine sluit lyftaal, bewegings, gesigsuitdrukkings en kleurveranderings in.

Sjimpansees sal hul arms in die lug rond­swaai en met hul hande teen die grond klap om dreigende gevaar aan hul troplede te kommunikeer. Hul gesigsuitdrukking ver­ander soms in ’n grynslag van vrees, 'n teken van jong sjimpansees se onderdanigheid aan hul manlike tropleier.

Die helder kleure van gifpylpaddas is 'n teken van
Die helder kleure van gifpylpaddas is 'n teken van hul giftigheid. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kleur kan gebruik word as 'n aanlok- of afskrikmiddel. Manlike voëls se helder­kleurige vere maak hulle aantreklik vir moontlike wyfiemaats. Sekere paddas se helder kleure is ’n aanduiding van hul giftigheid en dien as uitstekende ver­dediging teen moontlike roofdiere. 

Die helder kleure van ’n verkleurmannetjie gereed
Die helder kleure van ’n verkleurmannetjie gereed om te paar in die paarseisoen. Die wyfie (onder) bly vaal. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Verkleurmannetjies kan hul kleurverandering gebruik om hulle teen vyande te kamoe­fleer. Dit kan ook dien as 'n aantrekkingskrag vir moontlike maats van die teenoorgestelde geslag.

Chemiese seine

Diere kan met mekaar kommunikeer deur middel van reuk. 

Diere kan met mekaar kommunikeer deur middel van r
Diere kan met mekaar kommunikeer deur middel van reuk. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Feromone is ’n chemiese stowwe wat deur diere afgeskei word om belangrike bood­skappe aan lede van dieselfde spesie te kommunikeer. Miere skei die stowwe af om ander miere na ’n kosbron te lei; vandaar die “onsigbare paadjie” wat hulle almal volg.

Wyfiemotte skei feromone af tydens die paringsritueel, soos 'n soort parfuum om die mannetjie te lok. 

Honde, wolwe en blouwildebeeste skei ’n chemiese stof in hul urine af om hul gebied af te baken. Dit kommunikeer dan ’n boodskap aan ander diere: “Bly weg!”

Hoorbare seine

Kommunikasie deur middel van klank en gehoor is die algemeenste vorm van interaksie tussen diere.

Die blaf van honde, grom van wolwe, lag van hiënas, sis van 'n slang en spin van 'n kat is alles hoorbare seine wat gevoelens van geluk of ontevredenheid oordra.

Dolfyne ontwikkel in hul eerste lewensjaar hul eie unieke klank wat gebruik word om in­dividue van mekaar te onderskei. Terwyl hulle deur die water swem, maak hulle klikgeluide.

Terwyl hulle deur die water swem, maak dolfyne kli
Terwyl hulle deur die water swem, maak dolfyne klikgeluide. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dié klanke word deur voorwerpe, byvoorbeeld vissies, in die omgewing weerkaats. Die eggo’s word deur die dolfyn se onderkaak opgevang. 

Die boodskap word dan na die middeloor en brein gestuur. Die brein interpreteer die eggo’s om prooi op te spoor of hindernisse te vermy. Net so het walvisse ook 'n verskeidenheid kreune, krete en klikke waarmee hulle met ander walvisse kommunikeer.  

Vlermuise gebruik ook hul ore en eggo’s om hul omgewing in die donker nag te verken. Hulle kommunikeer met mekaar deur hoëfrekwensie­geluide deur hul bek en neus te maak.

Hoorbare kommunikasie is besonder belangrik vir voëls. Klanke word gebruik om waarskuwings aan mekaar te rig, maats aan te lok, hul gebied af te baken en die swerm te beheer. Verskeie spesies het ook ’n kenmerkende roep of sang wat dieselfde klink en hulle van ander voëlspesies onderskei.

Ouditiewe kommunikasie is besonder belangrik vir v
Ouditiewe kommunikasie is besonder belangrik vir voëls. Foto: Images/ Getty Images

Aap- en bobbejaantroppe het elk ’n brandwag wat na enige moontlike gevaar moet uitkyk. Hulle waarsku dan die trop met ’n harde kreet en lawaai om vinnig van moontlike roofdiere te vlug.

Seine deur aanraking

Olifante “groet” mekaar deur hul slurpe saam te vl
Olifante “groet” mekaar deur hul slurpe saam te vleg. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Nes mense raak diere aan mekaar om sekere boodskappe te kommunikeer.Verskeie diere “groet” mekaar deur aanraking. Sjimpansees sal, nes mense, aan mekaar se hande raak.

Olifante groet mekaar deur hul slurpe saam te vleg, en perde druk hul neuse teen mekaar.

Kameelperde en swane vleg hul nekke saam om tydens hul hofmaking aan mekaar liefde te betoon.

Seine deur aanraking is 'n algemene verskynsel by insekte. Hulle gebruik hul lang voelers om hul omgewing te ondersoek en interpreteer. 

Werkerbye “vertel” hul medewerkers waar hulle die naaste nektarbron kan kry deur 'n spesiale dans in die vorm van 'n syfer 8 uit te voer.

Werkerbye “vertel” vir hul medewerkers waar hulle
Werkerbye “vertel” vir hul medewerkers waar hulle die naaste nektarbron kan kry deur ’n spesiale dans uit te voer. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hulle kan so die rigting en afstand na die voedselbron kommunikeer. Omdat die dans in die donker byekorf uitgevoer word, is die bye van aanraking afhanklik om die seine te interpreteer.

Ape en bobbejane kan ure lank in mekaar se hare krap op soek na vlooie en luise om aan te peusel. 

Dit help hulle om hegter ver­houdings in die trop te bou. Aggressie kan in die vorm van 'n byt en ’n krap gekommunikeer word, veral wanneer oor 'n gebied of wyfie ba­klei word. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.