Die bedreigde berggorilla, ’n sterk aap wat die reënwoude van Afrika bewoon, is groter as gewone gorillas. Dié dier is ’n bedreigde spesie, wat beteken daar is min van hulle in die wêreld oor.

Die jongste inligting wys daar is net meer as 1 000 oor. Gelukkig is daar goeie nuus. Die gorillas in Afrika word ál meer. Ons leer jou meer oor dié magtige dier en hoekom daar nou meer van hulle is.

Kitsfeite

Die berggorilla se wetenskaplike naam is Gorilla beringei beringei. ’n Volwasse mannetjie kan tot byna 200 kg weeg, en ’n volwasse wyfie tot sowat 110 kg. Hierdie gorillas kan gemiddeld 1,7 m lank word.

Dit is nie bekend presies hoe oud die gorillas in die natuur kan word nie, maar daar is van dié groot diere wat al langer as 40 jaar geleef het.

Gorillas beweeg in groepe wat uit mannetjie- en wyfiegorillas bestaan. Die groep word deur ’n mannetjie, wat die hoof is, beskerm. Hy word uitgeken aan sy “silwer” rug.

Dit is die grys hare wat duidelik op sy rug en heupe gesien kan word en wat hom laat uitstaan tussen die ander mannetjies in die groep.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Habitat

Reënwoude teen die berghange in Afrika is die woonplek van die bedreigde berggorilla. Hul habitat is beperk tot nasionale parke in twee streke in Sentraal-Afrika. Een groep bly in die Bwindi Nasionale Park in Uganda.

Nog ’n groep gorillas is versprei oor drie nasionale parke wat oor die Virungabergstreek in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Uganda en Rwanda strek.

Die nasionale parke in die Virungas huisves meer as die helfte van die wêreld se gorillabevolking. Gorillas hou van gebiede met baie bome, plante en grasvelde. Jy sal hulle in streke met subtropiese en tropiese weerstoestande kry waar daar digte bos, bamboes en reënwoude is.

Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Berggorilla­wyfie kan tot 18 kg plantegroei in een dag vreet, terwyl manne­tjies tot 34 kg kan verorber. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Die hoof van ’n trop gorillas word uitgeken aan die silwergrys hare op sy rug en heupe wat hom laat uitstaan tussen ander mannetjies in die groep. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dieet

Gorillas is herbivore en eet dus plante en vrugte. Wanneer jy sien hoe groot hierdie ape is, verstaan jy waarom hulle so baie moet eet. Gorillawyfies kan tot 18 kg plantegroei in een dag vreet, terwyl mannetjies tot 34 kg kan verorber.

Hulle verkies blare, boombas, spriete, blomme, vrugte en plantwortels. Minder as 1% van hul dieet bestaan uit insekte.

Vir dié groot dier is dit nie nodig om baie water uit riviere of poele te drink nie omdat die dou op plante en die waterinhoud van plante genoeg water vir hulle gee.

Hoekom is die berggorillas belangrik?

Soos alle wilde diere speel gorillas ’n belangrike rol in hul habitat. Hulle versprei byvoorbeeld sade wyd en syd. Sonder die swaar dieet van die groot ape sal die natuurlike balans in die voedselketting in hul habitat omvergegooi word. Hierdie wanbalans sal nie ’n goeie gevolg vir die natuurlewe in die gebied inhou nie.

Dit sal ook nadelige gevolge hê vir die mense wat op die wilde diere en die natuur staatmaak. Die gorillas is ook belangrik vir toerisme in Afrika, wat vir baie mense ’n bron van inkomste is.

As toerisme rondom hierdie gewilde diere reg en volhoubaar bestuur word, kan dit die dier en mens help om te oorleef en die natuurlike habitat te bewaar.

Bewaring

Berggorillas in Afrika was in ’n stadium kritiek bedreig. Die status het onlangs na net “bedreig” verander omdat hulle die afgelope jare meer geword het: In Uganda se Bwindi- Nasionale Park is daar in 2012 se sensus 400 berggorillas getel.

Die Verungabevolking het van net 254 gorillas in 1981 tot 480 in 2010 en 604 in 2018 herstel. Vandag is daar dus meer as 1 000 berggorillas in dié twee habitatte in Afrika.

Die groei in die getal gorillas is hoofsaaklik die gevolg van goeie bewaringsprogramme wat rondom gemeenskappe en toerisme gebou is. Dit staan bekend as ekotoerisme.

Die mens en dier vind albei baat by toerisme. Solank mense die nasionale parke besoek, is daar ’n geleentheid om geld te maak. Die geld word gebruik om die gemeenskap te ondersteun én die gorillas binne hul habitat te beskerm.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Bedreigings

In die natuur is luiperds byna die enigste dier wat vir gorillas ’n gevaar inhou. Hulle word soms ook deur krokodille gevang. Die grootste bedreiging vir gorillas in Afrika is egter die mens en sy aktiwiteite.

Hierdie aktiwiteite sluit in: die stroping van berggorillas, burgeroorloë en die vernietiging van die dier se natuurlike habitat. Mense kan gorillas ook met hul siektes besmet.

Die gorilla se habitat word kleiner wanneer mense woude vernietig (ontbossing) vir meer leefruimte om op te bly of boer of om hout vir menslike gebruik af te kap.

Mense vang ook gorillas vir ’n klomp redes. In sommige gevalle is dit vir hul vleis. Ander kere is dit veral babagorillas wat verkoop word aan dieretuine of om as troeteldiere aangehou word.

Daar is ook kere waar gorillas per ongeluk in jagters se vangnette of strikke beland wat eintlik vir ander wilde diere bedoel is.

Covid-19 en Die berggorilla

Die COVID-19-pandemie wat in Desember 2019 uitgebreek het, hou ook ’n bedreiging vir berggorillas in. Wetenskaplikes het gewaarsku dat gorillas ook kwesbaar vir die coronavirus (en COVID-19) kan wees.

Omdat die spesie bedreig is, het die Virunga- Nasionale Park in die DRK besluit om al sy toere na die berggorillas tot 1 Junie 2020 heeltemal te sluit. 

Bababerggorillas ontwikkel twee keer so vinnig as die mens.

Pasgebore gorillas weeg net sowat 1,8 kg. Maar moenie dat die ligte gewig jou mislei nie. Rondom vierjarige ouderdom volg hulle dieselfde dieet as volwasse gorillas.

’n Wyfie kry gewoonlik vanaf 10-jarige ouderdom haar eerste kleintjie, waarna sy elke vier of meer jare weer ’n kleintjie kan kry.

BRONNE: roundtripfoundation.org.au, animalfactguide.com, worldwildlife.org, iucnredlist.org, smithsonianmag.com, awf.org, nationalgeographic.com, wwf.org.uk, neprimateconservancy.org
Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by huisgenoot.com aflaai.