Die Dooie See is ’n groot meer in die Midde-Ooste met Israel en die Palestynse gebied aan die westekant en Jordanië aan die oostelike oewer. Hierdie meer omring deur die woestyn is uitsonderlik, want dit is die laagste plek op die aarde se landoppervlak.

Sy water bevat ’n oormaat sout, wat tot die meer se naam aanleiding gegee het. Geen plante of visse kan daarin oorleef nie, en dit lyk asof die meer dood is. Die enigste lewe wat jy in die water van die Dooie See sal aantref, is mikroskopiese organismes. Ons leer jou nog interessante feite oor die Dooie See.

Grootte

Die hedendaagse Dooie See is sowat 50 km lank en ongeveer 15 km breed. Dit was vroeër groter, maar namate die watervlak deur die jare erg gedaal het, het die suidelike deel van die hoofmeer geskei geraak.

In die suide is verdampingspanne te sien waar sout en ander minerale ontgin word. Die ander opgeloste minerale in die Dooie See sluit onder meer groot hoeveelhede potas, broom, magnesium, chloried, kalsiumchloried en kaliumchloried in.

 Jy kan ’n boek met gemak lees terwyl jy in die Do
Jy kan ’n boek met gemak lees terwyl jy in die Dooie See dryf.

Besoekers smeer graag van die mineraalryke modder by die Dooie See aan hul vel omdat hulle meen dit het ’n helende uitwerking.

Soutwater

Die Jordaanrivier uit die noorde asook ander kleiner strome loop in die Dooie See in. Vanweë die feit dat die Dooie See so laag geleë is – sowat 430 m onder seevlak – kan die water nêrens heen uitvloei nie. Dit kan net verdamp.

Gevolglik bly die minerale en sout in groot hoeveelhede agter. Oor honderde jare het die meer se soutinhoud in so ’n mate vermeerder dat sy water nou nege keer soveel sout as die oseaan bevat. 

Daling

Tot in die 1960’s is die stand van die Dooie See se watervlak gewoonlik as 400 m onder seevlak aangegee. Sedertdien het die watervlak met sowat 30 m gedaal. Weet jy hoekom die Dooie See se watervlak so drasties afgeneem het?

Nasa se satellietfoto’s wys duidelik hoe die Dooie
Nasa se satellietfoto’s wys duidelik hoe die Dooie See deur die jare agteruitgegaan het.

Dit is omdat Israel en Jordanië in die 1960’s begin het om pompstasies en damme vir besproeiing te bou wat byna 90% van die Jordaanrivier se water opgeslurp het. Die Dooie See se watervlak daal steeds met sowat 1 m per jaar.

Skiereiland verdwyn

Voor die Dooie See se watervlak drasties begin daal het, was dit sowat 80 km lank en tot 18 km breed. Die Lisan-skiereiland (Al-Lisan beteken Die Tong in Arabies) het die meer vroeër in twee gekoppelde watermassas geskei.

Die noordelike deel, wat vandag al oorblyfsel van die Dooie See is, het driekwart van die meer se oppervlakte uitgemaak en was tot 400 m diep. Die kleiner suidelike deel was heelwat vlakker – gemiddeld minder as 3 m diep.

Mettertyd het die Lisan-skiereiland die twee watermassas volkome van mekaar geskei en die suidelike deel is boonop in tientalle verdampingspanne verdeel. Die suidelike deel van die Dooie See het sodoende as ’n natuurlike watermassa tot niet gegaan.

Toerisme

Benewens die Dooie See self lok talle besienswaardighede, natuurreservate, hotelle, spa’s en geskiedkundige plekke toeriste na die omgewing.

Die bergvesting Masada met die Dooie See op die ag
Die bergvesting Masada met die Dooie See op die agtergrond. Dit is ’n gewilde toeristeaantreklikheid.

Masada, ’n bergvesting in die Woestyn van Judéa, kyk uit op die Dooie See. Dis ’n simbool van die antieke koninkryk van Israel, sy ondergang en die Joodse bittereinders wat in 73 n.C. vasgebyt het teen die aanslag van die Romeinse weermag en later massaselfmoord gepleeg het.

Koning Herodes, van wie ons in die Bybel lees, het Masada as ’n paleiskompleks gebou. Unesco het dit in 2001 tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar. Die Ein Gedi- nasionale park is noord van Masada aan die oewer van die Dooie See geleë. Benewens die wandelroetes met fonteine en strome vars water in die woestyn is talle plante, voëlsoorte en diere ook te sien, byvoorbeeld die Nubiese steenbok en dassies.

Die Dawid-waterval in die Ein Gedi- nasionale park
Die Dawid-waterval in die Ein Gedi- nasionale park.

Ein Gedi het ook sy eie openbare strand en ’n spa. Die berg Nebo aan die Jordaniese kant is sowat 710 m bo seevlak.

Die Bybel vertel hoe Moses van hierdie berg af die Beloofde Land kon sien, maar nie daar kon ingaan nie. ’n Mens kan die Dooie See en die stad Jerigo van hier af sien – en op ’n helder dag is selfs Jerusalem sigbaar.

 In die Bybelstorie het Moses die Beloofde Land hi
In die Bybelstorie het Moses die Beloofde Land hier vanaf die Neboberg aan Jordanië se kant van die Dooie See gesien.

Dooie See-rolle

In 1947 het ’n jong skaapwagter ou boekrolle in ’n grot langs die Dooie See ontdek. Later is verskeie ander rolle gekry. Dit is belangrik omdat dit van die oudste weergawes van die Hebreeuse Bybel verteenwoordig.

Een van die talle 2 000 jaar oue Dooie See-rolle w
Een van die talle 2 000 jaar oue Dooie See-rolle wat sedert 1947 gekry is.

Ander geskrifte wat vermoedelik die gebruike van die Essene uiteensit, is ook in erdekruike aangetref. Hulle was godsdienstige Joodse mense wat hierdie ou rolle sowat 2 000 jaar gelede – voor en ná die tyd van Jesus – daar in die woestyn gebêre het om honderde jare later weer gekry te word.

Die Dooie See-rolle is in ’n grot langs die Dooie
Die Dooie See-rolle is in ’n grot langs die Dooie See ontdek.

Jy sal seker saamstem dat die Dooie See en die omliggende omgewing vol verrassings is. Of dit nou die geskiedenis, godsdiens, ontspanning of die natuurskoon is wat jou interesseer, die Dooie See het baie om te bied. 

Sinkgate

Een van die gevolge van die Dooie See se laer watervlak is die verskyning van sinkgate. Jy sal hulle veral in die suidwestelike deel van die Dooie See-gebied aantref.

Sinkgate,by die Dooie See.
Sinkgate,by die Dooie See.

Met dié dat die meer se watervlak daal, word dit moontlik vir grondwater om op te borrel en groot holtes van onder af uit die boonste soutlae te kalwe – tot die oppervlak eindelik ineenstort. So het ’n paar honderd sinkgate al gevorm, selfs in die gebiede waar baie toeriste besoek aflê.

Het jy geweet?

Dis moeilik om in die Dooie See te sink. ’n Mens dryf soos ’n houtstomp op die wateroppervlak. Omdat daar soveel opgeloste minerale in die water is, is die water se digtheid ook baie hoog.

’n Voorwerp kan in water dryf as hy water gelykstaande aan sy eie gewig kan verplaas. Dit is hoekom ’n (hol) skip sal dryf, terwyl ’n (soliede) ysterbal sal sink.

Omdat die digtheid van die Dooie See se water so hoog is, is die hoeveelheid water wat ’n voorwerp soos jou lyf moet verplaas om te kan dryf baie laag.

Jy kan dus gemaklik in die Dooie See dryf terwyl jy ’n boek lees sonder dat jy sal sink.

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY, WIKIPEDIA; Kopie: Cum Laude Media; Bronne: pitara.com, britannica.com, touristisrael.com, whc.unesco.org, wikipedia.org
Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop. Klik hier en kry al die besonderhede of loer hier watter werk is al gedeel op Huisgenoot.com.