Die Grand Canyon in die Amerikaanse deelstaat Arizona is ’n indrukwekkende spoelkloof in die grond. Hierdie aardtrog is 446 km lank, tot 29 km breed en gemiddeld sowat 1 600 m diep.

’n Canyon word ook ’n erosiedal genoem. Hierdie enorme een in Amerika het ontstaan as gevolg van erosie (wegvreting) deur die water van die Coloradorivier wat miljoene jare geduur het. Ons leer jou meer oor hierdie asemrowende natuurwonder.

Inwoners

Die gebied waarin die Grand Canyon voorkom, word al duisende jare deur Amerikaanse inboorlinge bewoon. Hulle het nedersettings in die canyon en sy talryke grotte gebou. Die Pueblo-mense het die Grand Canyon, oftewel Ongtupqa in die Hopi-taal, as ’n heilige gebied beskou en pelgrimstogte daarheen onderneem.

Benewens die Hualapai, Havasupai en Navajo wat op reservate langs die canyon woon, word die gebied ook as die bakermat van ander mense soos die Hopi, Paiute en Zuni beskou. In die verlede het die bestuur van die Grand Canyon- nasionale park die inheemse volke lelik ingedoen en is hul grond sommer weggeneem.

Amerika se regering het sy houding mettertyd teenoor dié oorspronklike inwoners verander, en in 1975 is groot stukke grond aan stamme teruggegee. In die 1990’s het die regering die stamme ook in die parkbestuur se besluite begin insluit.

Ontdekkingsreisigers

Die Spaanse veroweraar García López de Cárdenas was in 1540 die eerste Europeër wat die Coloradorivier en die Grand Canyon bereik het. Hy was lid van ’n ekspedisie wat uit Nieu-Mexiko op soek was na ’n rivier waarvan die Hopi-stam gepraat het. Hulle het die canyon gevind, maar hy en sy manne kon nie onder by die rivier uitkom nie, al was hulle vreeslik dors en ontwater.

Die eerste persoon wat ’n ekspedisie dwarsdeur die Grand Canyon gelei het, was John Wesley Powell.

Sy drie maande lange riviertog het in 1869 plaasgevind. Powell en sy groep het die canyon en riviere karteer en wetenskaplike ondersoek ingestel. Sy ekspedisies het bewustheid geskep oor die belangrikheid van die Grand Canyon.

Natuurbewaring

Amerika se pres. Theodore Roosevelt het hom daarvoor beywer om die Grand Canyon-gebied vir die nageslag te bewaar. Dit het egter lank gevat voor hierdie gebied Amerika se 15de nasionale park geword het.

Senator Benjamin Harrison, wat later die president van Amerika geword het, het in die 1880’s vergeefs verskeie wetsontwerpe ingedien in ’n poging om die Grand Canyon-gebied tot nasionale park te verklaar.

Roosevelt het die Grand Canyon-natuurreservaat in 1908 as ’n nasionale monument verklaar. Pres. Woodrow Wilson het eindelik in 1919 die wet onderteken wat die Grand Canyon- nasionale park bekragtig het. Dit is as ’n groot oorwinning vir natuurbewaring beskou.

Vandag besef ’n mens hoe belangrik hierdie park is: Die Grand Canyon is in 1979 deur Unesco tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar. 

Klimaat en natuurlewe

Die canyon is in ’n halfwoestyngebied geleë. Sekere dele van die boonste plato het plek-plek woude waar denne-, eike- en mahoniebome groei, terwyl die canyon se bodem ’n reeks woestynkomme vorm.

Die temperatuur kan deur die jaar sterk wissel. In die somer word dit binne-in die erosiedal gewoonlik warmer as 38 °C, terwyl die minimum temperatuur in die winter tot -18 °C boaan die canyon se randgebied kan wees. Dit kan dan ook daar sneeu.

Kaktusplante, bome, veldblomme, grasse, struike asook swamme en mos kom op alle vlakke van die canyon voor, maar groei geiler nader aan die rivieroewer. Daar kom meer as 1 500 plantspesies voor. In die Grand Canyon- nasionale park sal jy 355 voëlsoorte aantref, waaronder die Kaliforniese kondor, wilde kalkoene, rawe en die steenarend.

Daar is 89 soogdierspesies, insluitend prêriewolwe, vlermuise, eekhorinkies, wasbere, bewers en poemas (bergleeus). Onder die park se 47 soorte reptiele tel akkedisse en ratelslange, terwyl jy salamanders en paddas onder die nege soorte amfibiese spesies sal vind. Twee van die 17 visspesies in die park kom op die lys van bedreigde spesies voor.

Geologie

As jy die Grand Canyon se rivierkrans bestudeer, sal jy 40 verskillende rotslae kan uitken. Omdat die meeste lae dwarsdeur die canyon se lengte deur erosie bloot- gestel is, gee dit ’n mens die kans om meer te leer oor die geologiese evolusie wat oor miljoene jare plaasgevind het.

Die meeste wetenskaplikes stem saam dat die canyon begin vorm het toe die Coloradorivier sowat 5 tot 6 miljoen jaar gelede deur die lae vulkaanrots en sediment begin kerf het.

Wie se canyon is die grootste?

Dis moeilik om te sê watter canyon die grootste op aarde is. Die rede hiervoor is dat ’n canyon groot kan wees in terme van sy lengte, diepte, breedte of die algehele area wat die canyonstelsel beslaan.

So beskou baie mense die Yarlung Tsangpo-canyon in Tibet as die diepste canyon ter wêreld. Op sy diepste strek dit 6 009 m na benede, hoewel die gemiddelde diepte 2 268 m is. Dit is met 504,6 km boonop ietwat langer as die Grand Canyon (446 km).

So onlangs as 2013 is ’n nuwe aanspraakmaker op die titel van die grootste canyon ontdek: Die Grand Canyon van Groenland is onder ’n groot yslaag verberg, maar met ’n lengte van 750 km word dit as die langste canyon ter wêreld beskou.

  • Die Visriviercanyon in Namibië is die grootste canyon in Afrika. Dit is ongeveer 160 km lank, tot 27 km breed en is op sommige plekke tot 550 m diep. Die canyon is geleë aan die benedeloop van die Visrivier tussen Seeheim en Ai-Ais.
Kopie: Cum Laude Media; Bronne: livescience.com, sciencekids.co.nz, info-namibia.com, kepu.net.cn, wikipedia.org, asunow.asu.edu, explorethecanyon.com; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY, SHUTTERSTOCK/GREATSTOCK
Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by huisgenoot.com aflaai. Klik op Klaskamer op die keusebalk.