Die Olimpiese ringe is die simbool van die Spele.
Die Olimpiese ringe is die simbool van die Spele. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die Olimpiese Spele is die wêreld se enigste wêreldwye sportfees waarin sportmanne en -vroue aan ’n groot verskeidenheid aktiwiteite deelneem.

Die wêreld kom dan byeen om mee te ding en inspirasie uit dié skouspel te put.

En dit is gróót – met meer as 200 lande wat in meer as 400 nommers op die Olimpiese Somer- en Winterspele deelneem.

Ons kyk na waar dié gebeurtenis begin het.

’n Nabootsing van ’n Griekse standbeeld uit die vy
’n Nabootsing van ’n Griekse standbeeld uit die vyfde eeu voor Christus. Dit beeld ’n antieke Olimpiese diskusgooier uit. Foto: Gallo Images/Alamy.

Eerste Spele

Die eerste Olimpiese Spele het in die jaar 776 voor Christus in Griekeland plaasgevind.

Die Spele is genoem na die heiligdom Olimpia in die landstreek Elis in die weste van Griekeland op die Peloponnesiese skiereiland.

Die Spele is in dié heiligdom met sy tempels, altare en sportstadions gehou. Ten spyte van die naam is Olimpia ver van die bekende berg Olimpus geleë.

In die antieke tye het die ou Grieke baie gode en godinne gehad. Zeus was die oppergod. Griekse mans het elke vier jaar ’n groot sportfees, die Olimpiese Spele, gehou om Zeus te vereer.

Spiesgooi.
Spiesgooi. Foto: Gallo Images/Alamy.

Die eerste klompie Olimpiese Spele het net een dag geduur en het net een nommer gehad, die “stadion”. Dit was ’n naelloop oor 190 m.

Ander nommers is bygevoeg en die Spele het mettertyd ’n skouspel geword wat vyf dae geduur het.

Olimpiese vrede

Die ou Grieke het in stadstate gewoon wat dikwels teen mekaar oorlog gevoer het. ’n Stadstaat het uit ’n relatief groot stad en sy omgewing bestaan.

Daar was mettertyd honderde stadstate, maar die bekendstes is waarskynlik Athene, Sparta, Korinthe, Thebes, Milete en Rhodos.

Elke vier jaar tydens die Olimpiese Spele het die verskillende Griekse stadstate ’n ekecheiria, ’n heilige wapenstilstand oftewel Olimpiese vrede, afgekondig sodat die atlete en toeskouers veilig na Olimpia en terug kon reis.

Vandag is dit ruïnes, maar argeoloë het bepaal daa
Vandag is dit ruïnes, maar argeoloë het bepaal daar was vier areas: 1. Palestra, waar mense kon oefen. 2. Die tempel van Zeus, met ’n goud-en-ivoor-standbeeld van die god. 3. Stadios, waar die gimnikoi agones (die naakte spele) gehou is. 4. Hippodrome, waar die perderuiternommers gehou is. Foto: Gallo Images/Alamy.
Dié model in die Britse Museum beeld die terrein v
Dié model in die Britse Museum beeld die terrein van Olimpia uit soos dit in omstreeks die jaar 100 voor Christus gelyk het: 1. Palestra, waar mense kon oefen. 2. Die tempel van Zeus, met ’n goud-en-ivoor-standbeeld van die god. 3. Stadios, waar die gimnikoi agones (die naakte spele) gehou is. 4. Hippodrome, waar die perderuiternommers gehou is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Olimpiese deelnemers het van reg oor Griekeland gekom, en selfs verder van ander gebiede waar Griekse kolonies gestig is, om teen mekaar mee te ding.

Hulle het aan nommers soos voetresies, die vyfkamp (naelloop, verspring, diskus, spiesgooi en stoei) asook boks, stoei, die pankration (’n kombinasie van boks en stoei), perdewedrenne en strydwawedrenne deelgeneem.

Voetresies.
Voetresies. Foto: Gallo Images/Alamy.

Beperkings op vroue

In die antieke tye is vroue verbied om aan die Spele deel te neem. Boonop is net ongetroude vroue toegelaat om toeskouers te wees. Nogtans het prinses Kyniska, dogter van koning Archidamos II van Sparta, in 396 v.C. die eerste Olimpiese vrouekampioen in die strydwawedren geword.

Dit was moontlik danksy ’n skuiwergat in die reëls.

Destyds is die eienaar van die strydwa as wenner beskou en nie die ryer nie. Prinses Kyniska het die perde self afgerig en sy het selfs ’n tweede keer in 392 v.C. op die Olimpiese Spele geseëvier.

Strydwaresies.
Strydwaresies. Foto: Gallo Images/Alamy.

Suid-Afrika se rol

Benewens die Olimpiese Somerspele, wat sedert 1896 plaasvind, het die Internasionale Olimpiese Komitee ook die Winterspele in 1924 ingestel.

Suid-Afrika het van 1904 tot 1960 aan die Somerspele deelgeneem. Ons land is weens die beleid van apartheid in 1962 deur die Verenigde Nasies verbied om deel te neem. Eers in 1992 het Suid-Afrika na die Somerspele teruggekeer nadat die skorsing opgehef is.

Suid-Afrikaanse atlete het al altesaam 86 medaljes op die Somerspele gewen (26 goud, 31 silwer en 29 brons). Die meeste daarvan is in atletiek, boks en swem.

Pankration (stoei/boks).
Pankration (stoei/boks). Foto: Gallo Images/Alamy.

Suid-Afrika het in 1960 ook die eerste keer met ’n span van vier lede aan die Winterspele deelgeneem. Dit was voor die VN se verbod.

Sedert 1994 neem Suid-Afrika gelukkig weer aan die Winterspele deel met een tot drie deelnemers per jaar (behalwe 2014 toe die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) geen Suid-Afrikaanse span na Sotsji, Rusland, gestuur het nie).

Ons deelnemers het nog nooit ’n medalje op die Winterspele gewen nie.

Suid-Afrika het van 1964 tot 1976 en weer van 1992 atlete na die Paralimpiese Spele gestuur.

Die VN-verbod het nie vir dié Spele gegeld nie, maar die land is nietemin in die 1980’s weggewys weens die apartheidsbeleid.

Paralimpiese deelnemers het ’n liggaamlike of visuele gestremdheid. Hulle het tot dusver altesaam 296 medaljes verower (117 goud, 94 silwer en 85 brons). Wat ’n pragtige prestasie!

Suid-Afrika neem verder ook deel aan die Spesiale Olimpiese Wêreldspele vir kinders en volwassenes met verstandelike en fisieke beperkings.

Gatslag . . . en toe herlewing

Die Spele verbied 

Griekeland het in die tweede eeu voor Christus onder Romeinse heerskappy gekom, maar die Spele het voortgeduur.

In die jaar 393 ná Christus het Theodosius I, ’n nuwe Romeinse keiser – en ’n Christen – die Olimpiese Spele verbied omdat hy dit as ’n heidense gebruik beskou het.

So het ’n skouspel met ’n 1 000 jaar lange tradisie tot ’n einde gekom.

Standbeeld van Theodosius I.
Standbeeld van Theodosius I. Foto: Gallo Images/Alamy.

Moderne Spele begin

Die Olimpiese Spele het in 1896 weer die eerste keer in sowat 1 500 jaar plaasgevind danksy die aanvoorwerk van die Fransman Pierre de Coubertin.

Hy was ’n akademikus en geskiedkundige wat die eerste moderne Olimpiese Spele daardie jaar in Athene, Griekeland, gereël het. En die moderne Spele sou nie net vir mans wees nie, maar ook vir vrouedeelnemers.

Sedertdien hou die wêreld elke vier jaar in ’n ander gasheerstad en land ’n Olimpiese Spele. Dis net uiterste omstandighede – soos die twee wêreldoorloë en die huidige pandemie – wat tot die kansellering of uitstel van die Spele sou lei.

Pierre de Coubertin.
Pierre de Coubertin. Foto: Gallo Images/Alamy.

Het jy geweet?

In die antieke tye het die deelnemers aan die Olimpiese Spele kaal meegeding. Die ou Grieke het die naakte liggaam bewonder, en hulle het gewoonlik kaal geoefen.

Hul woord vir kaal was gymnós, en dis waar ons woord gimnasium vandaan kom!

Kroon van blare

Olimpiese kampioene het nie soos vandag goue, silwer- of bronsmedaljes ontvang nie. Daar was boonop net een oorwinnaar in elke nommer – met geen vermelding van dié wat tweede of derde gekom het nie.

Die wenners in die verskillende wedstryde is net met ’n olyfkrans beloon, maar hulle het groot aansien verwerf.

Beeldhouers het selfs standbeelde van hulle gemaak.

Op die antieke Spele was die enigste prys die kroo
Op die antieke Spele was die enigste prys die kroon van olyfblare wat van die heilige boom in Olimpia gekom het. Foto: Gallo Images/Alamy.

Gasheerstede van die Olimpiese Somerspele
1896  Athene, Griekeland
1900  Parys, Frankryk
1904  St. Louis, Amerika
1908  Londen, Engeland
1912 – Stockholm, Swede
1916 – Gekanselleer weens Eerste Wêreldoorlog (Berlyn, Duitsland)
1920 – Antwerpen, België
1924 – Parys, Frankryk
1928 – Amsterdam, Nederland
1932 – Los Angeles, Amerika
1936 – Berlyn, Duitsland
1940 – Gekanselleer weens Tweede Wêreldoorlog (Tokio, Japan)
1944 – Gekanselleer weens Tweede Wêreldoorlog (Londen, Engeland)
1948 – Londen, Engeland
1952 – Helsinki, Finland
1956 – Melbourne, Australië
1960 – Rome, Italië
1964 – Tokio, Japan
1968 – Mexikostad, Mexiko
1972 – München, Wes-Duitsland
1976 – Montreal, Kanada
1980 – Moskou, Sowjetunie (nou Rusland)
1984 – Los Angeles, Amerika
1988 – Seoel, Suid-Korea
1992 – Barcelona, Spanje
1996 – Atlanta, Amerika
2000 – Sydney, Australië
2004 – Athene, Griekeland
2008 – Beijing, China
2012 – Londen, Engeland
2016 – Rio de Janeiro, Brasilië
2020 – Tokio, Japan (uitgestel tot 2021 weens pandemie)
2024 – Parys, Frankryk
2028 – Los Angeles, Amerika
2032 – Brisbane, Australië

Hulp met skooltake
 Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.