Ons ken almal die gewilde swembadspeletjie waar een maat “Marco” skree en met toe oë in die swembad moet soek na die ander wat almal “Polo” antwoord.

Maar wie was hierdie Marco Polo en waarom ken almal dan sy naam? Marco Polo, ook bekend as “die man met ’n miljoen stories”, was ’n handelaar, ontdekkingsreisiger en storieverteller wat roem verwerf het vir sy reise deur die Verre Ooste en veral China.

Hy het ’n boek geskryf oor sy reise wat een van die bekendste reisgidse in die geskiedenis geword het.

Vroeë jare

Marco Polo is in 1254 in Venesië, Italië, gebore. Die presiese datum en geboorteplek is egter onbekend. Sy pa, Niccolò Polo, ’n handelaar, het met die Ooste handel gedryf en groot welvaart en aansien verwerf. Venesiese handelaars het waardevolle Chinese goedere gekoop en verkoop, insluitend kosbare sylap.

Sy, porselein, buskruit en papier is uit China
Sy, porselein, buskruit en papier is uit China uitgevoer. Handelaars van ver het handel gedryf met wol, ivoor en speserye.

Sulke goedere is op die Syroete na Europa gebring. Die Syroete was ’n netwerk van handelsroetes op land wat gebruik is om goedere tussen China, ander dele van Asië en die suide van Europa te vervoer. Die handelsroete is die Syroete genoem omdat handel in Chinese systof algemeen op die roete plaasgevind het.

Min mense het die volle roete gereis en gevolglik was die handel meestal tussen stede en klein gedeeltes langs die roete. Die produkte het stadig van een kant na die ander van hande verwissel. Niccolò en Maffeo, sy broer, het rondom die tyd van Marco se geboorte op ’n lang handelsreis na China vertrek.

Marco Polo het in 1271 saam met sy pa en oom uit V
Marco Polo het in 1271 saam met sy pa en oom uit Venesië na keiser Koeblai Khan in China gereis.

Marco se ma is oorlede toe hy ’n jong seun was. Sy familie het hom goed opgevoed in alles wat nodig was om handel te dryf. Hy het leer lees, skryf en syfervaardighede bemeester. Hy was ook ervare in handel dryf met ander lande en het die verskillende geldeenhede goed geken.

In 1269 keer Marco se pa en sy oom terug na Venesië. In China het hulle die keiser Koeblai Khan, die Mongoolse veroweraar, ontmoet.

Die keiser het die Polo’s genooi om terug te keer na China. Hy het ook gevra hulle moet Christengeleerdes bring om die Christelike godsdiens aan hom te verduidelik.

Marco se reis na China

Die Polo-broers het in 1271 ’n tweede reis na die Ooste aangedurf en neem hierdie keer die 17-jarige Marco saam met hulle. Twee priesters het hulle ook vergesel, maar het vinnig teruggedraai omdat die roete te gevaarlik was.

Dit het die Polo’s vier moeilike jare geneem om China oor woestyne en hoë berge te bereik. Hulle moes roof- en plunderaanvalle deur bendelede, uiterste temperature van hitte en koue, oorstromings, sneeustortings en verblindende sandstorms trotseer voor hulle eindelik die paleis van Koeblai Khan in Shangdu bereik het. Hulle is hartlik deur die keiser verwelkom.

Dit het hulle drie jaar geneem – in klein bootjies
Dit het hulle drie jaar geneem – in klein bootjies oor oseane, en met karavane van kamele en perde deur groot woestyne.

Hy het Marco in sy diens geneem as buitelandse afgesant (diplomaat). Tydens sy vele reise het Marco verskillende kulture, kosse, stede en mense leer ken. Hy het baie plekke en dinge gesien en ervaar waarvan niemand in Europa al ooit gehoor het nie.

Met die verloop van tyd het die Polo’s bekommerd geraak dat die bejaarde Koeblai Khan hulle nie sou laat vertrek nie. Hulle het hom ’n paar keer gevra om hulle na Europa te laat terugkeer, maar hy het hul teenwoordigheid so geniet dat hy hulle 17 jaar daar gehou het!

Van die kronkelpaaie op die roete.
Van die kronkelpaaie op die roete.

Eindelik het hy van plan verander.

Reis terug na Venesië

In 1292 vra Koeblai Khan vir Marco om die Mongoolse prinses Kököchin na Persië (die huidige Iran) te begelei. Die Polo’s het per skip van China na die Persiese Golf gereis en daarna terug Venesië toe. Hulle kom eindelik in 1295 weer tuis.

Die netwerk van landpaaie wat die handel in systof
Die netwerk van landpaaie wat die handel in systof aangemoedig het. Marco het met die Syroete van Venesië na Beijing gereis.

Marco was so lank weg dat niemand hom meer herken het nie. ’n Paar jaar ná sy terugkeer het Venesië oorlog gevoer teen die stad Genua. Marco is gevange geneem. As gevangene het hy sy sel met die skrywer Rustichello da Pisa gedeel.

Marco was ’n buitengewone storieverteller. Nadat hy sy verhale aan Rustichello vertel het, het Rustichello hom gehelp om dit in ’n boek neer te pen. Rustichello het ook sy eie besonderhede bygevoeg, maar die meeste van die boek blyk waar te wees.

Die reise van Marco Polo het ’n baie gewilde boek geword. Dit is in verskeie tale vertaal en oor die hele Europa gelees. Ná die val van die Mongoolse Ryk het die Mingdinastie China oorgeneem. Hulle was baie versigtig vir buitelanders en daar was min inligting oor China beskikbaar.

Die oorblyfsels van die antieke stad Khara-Khoto i
Die oorblyfsels van die antieke stad Khara-Khoto in die Gobiwoestyn in Mongolië. Marco Polo het dié stad ook besoek.

Dit het Marco se boek nóg gewilder gemaak. Sy stories oor die Chinese uitvindsels soos buskruit, drukwerk, papiergeld en die kompas het baie nuwe inligting oor Asië aan Europeërs verskaf.

Sy boek het ’n belangstelling by Europeërs geprikkel om meer van die Ooste uit te vind en selfs daarheen te reis. Marco het ná sy vrylating uit die gevangenis na Venesië teruggekeer, waar sy pa en oom ’n reusepaleis besit het.

Toe Marco, sy pa en sy oom in 1275 in Dadu (nou B
Toe Marco, sy pa en sy oom in 1275 in Dadu (nou Beijing) aangekom het, het hulle die pous se brief aan Koeblai Khan oorhandig. Hulle was 17 jaar in China voor hulle terug huis toe kon gaan.

Hulle het verskeie ander handelsreise gefinansier, maar het self nooit weer buite die grense van Venesië gereis nie. Hy trou in 1300 met Donata Badoer, ook die dogter van ’n handelaar, en hulle het drie dogters.

Hy is in 1324 ná ’n kort siekbed oorlede. Sy boek was eeue lank gewild. Handelaars, kaartmakers en ontdekkingsreisigers het almal die boek geraadpleeg vir inligting oor lande in Asië. Selfs die navigator Christophorus Columbus het ’n eksemplaar besit. 

Interessante feite
  • Die boek Die reise van Marco Polo staan in Italiaans bekend as Il Milione (“Die miljoen”).
  • Die Polo’s se reis huis toe was in ’n vloot skepe met ’n prinses aan boord wat met ’n prins in Persië sou trou. Die reis was gevaarlik en slegs ’n fraksie van die sowat 700 oorspronklike reisigers het dit oorleef. Dit sluit die prinses in wat gelukkig veilig by haar bestemming aangekom het.
  • Sommige mense het bespiegel dat Marco baie van sy avonture opgemaak het. Navorsers het egter sy feite nagegaan en glo baie daarvan is waarskynlik waar.
  • Gedurende die tyd toe die Mongole en Koeblai Khan oor China regeer het, kon handelaars hulself in die Chinese samelewing opwerk en aansien verwerf. In ander samelewings is handelaars as minderwaardig beskou.
  • Marco moes oor die groot Gobiwoestyn reis om in China te kom. Dit het maande geneem om die woestyn oor te steek, en daar word gesê hulle is deur geeste en spoke geteister.
Kopie: Cum Laude Media; Bronne: ducksters.com, kids.kiddle.co, kidskonnect.com, mieliestronk.com, britannica.com, biography.com; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, TITOONZ | DREAMSTIME.COM