Die woord “soccer” is afgelei van die afkorting vir Association Football: “Assoc”.

In Afrikaans praat ons van sokker, en dis ’n spel waarin twee spanne van 11 spelers ’n bal in die ander span se doelhok probeer kry. Die spelers mag enige deel van hul liggaam behalwe hul arms en hande gebruik.

Foto: Getty Images/ Gallo Images
Foto: Getty Images/ Gallo Images

Net die doelwagter mag die bal met die hande hanteer, maar ook net in die doelhok se strafgebied. Die bal word meestal geskop en daarom staan sokker ook as “football” bekend.

Die span wat die meeste doele kry, wen die wedstryd. Ons leer jou meer oor die begin van dié sport.

FIFA

Die internasionale sokkerbeheerliggaam, Fifa (Fédération Internationale de Football Association), bied sedert 1930 elke vier jaar die Wêreldbekertoernooi (WB) aan. In 2010 was Suid-Afrika die gasheerland vir hierdie skouspel.

Fifa se Wêreldbekertrofee. Foto: Getty Images/ Ala
Fifa se Wêreldbekertrofee. Foto: Getty Images/ Alamy

Die huidige WB-kampioen is Frankryk. Sedert 1991 bied Fifa ook ’n Wêreldbekertoernooi vir vroue aan. Amerika is tans die vrouekampioenspan. Elke vasteland het ook sy eie beheerliggaam.

Hulle is die Unie van Europese Sokkerverenigings (Uefa), die Konfederasie van Noord-, Sentraal-Amerikaanse en Karibiese Sokker (Concacaf), die Suid-Amerikaanse Sokkerkonfederasie (Conmebol), die Konfederasie van Afrikasokker (Caf), die Asiatiese Sokkerkonfederasie (AFC) en die Oseaniese Sokkerkonfederasie (OFC).

KLUBS

Gaan kyk by footballdatabase.com vir die jongste punteleer van die beste sokkerklubs ter wêreld. Die Duitse sokkerklub Bayern München is in 1900 gestig en is die suksesvolste klub in die Duitse sokkergeskiedenis.

Bayern het ’n ongeëwenaarde 31 nasionale titels gewen, waarvan nege agtereenvolgens was sedert 2013. Die span het ook 20 nasionale bekers gelig en talle Europese seges behaal.

HET JY GEWEET?
Savages FC van Pietermaritzburg is die oudste sokkerklub in Suid-Afrika. Die klub het in 1882 tot stand gekom. Die oudste klub ter wêreld is Sheffield FC, wat in 1857 gestig is.

Hulle pryk dalk tans in die 13de plek op die wêreldranglys, maar Manchester United is die suksesvolse Engelse sokkerklub en het al meer trofeë gewen as enige ander klub in Engelse sokker.

Man United spog met 20 Ligatitels, 12 FA-bekers, 5 Ligabekers en ’n allemintige 21 FA Community Shields.

United het ook tot dusver drie Europabekers/Uefa-kampioenskapsligas, een Uefa Europa League, een Uefa-Wennersbeker, een Uefa-Superbeker, een Interkontinentale Beker en een Fifa-Klubwêreldbeker gewen. Manchester United is in 1878 as klub gestig.

SOKKER IN DIE VROEË TYE

TOEKA SE DAE

Ons kan nie presies sê wanneer sokker ontstaan het nie, maar uit geskrifte en afbeeldings van meer as 2 000 jaar gelede blyk dit dat vroeë weergawes van die spel toe al bekend was.

Uit Chinese militêre geskrifte wat uit die derde eeu voor Christus dateer, leer ons van ’n balspel genaamd cuju waarin mense ’n bal gemaak van leer en gevul met hare en vere in hul teenstanders se net moes skop.

Chinese kinders speel cuju in die 12de eeu. Foto:
Chinese kinders speel cuju in die 12de eeu. Foto: Getty Images/ Alamy

Die ou Egiptenare en Grieke het ook soortgelyke balspeletjies geken. Die Romeine het ’n gewilde sportsoort genaamd harpastum, wat klaarblyklik ’n mengsel van handbal en rugby was, na Brittanje geneem.

Ons kan nie met sekerheid sê of dit die oorsprong van rugby en sokker kan wees nie.

MIDDELEEUE

Heelwat later, in die Middeleeue, het jong mans in Engeland ’n diereblaas gevul met lug rondgeskop. Dié spel was so gewild dat koning Edward II dit in 1314 verbied het.

Hy wou eerder hê die jong mans moet oefen om met ’n pyl en boog te skiet. Ten spyte van die verbod het sokker as spel steeds gewild gebly.

’n Wedstryd in 1871 tussen die Old Etonians en die
’n Wedstryd in 1871 tussen die Old Etonians en die Blackburn Rovers. Foto: Getty Images/ Alamy

BRITSE WERKERS

Sokker was veral gewild onder die werkersklas in Brittanje. Die spel het afleiding gebied en sosiale kontak moontlik gemaak en was ’n uitlaatklep vir hul frustrasie. Daar was nie reëls of ’n skeidsregter nie en sokker kon maklik gewelddadig raak.

Destyds was daar nie ’n beperking op die grootte van die spanne nie, en in sommige wedstryde kon daar selfs honderde spelers op die veld wees.

Sulke wedstryde was so ontwrigtend dat die Britse owerhede in die Highway Act van 1835 gestipuleer het dat enigeen wat op die hoofpaaie sokker speel met 40 sjieling beboet kan word.

PRIVAAT SKOLE STEL REËLS OP

Hoewel sokker aanvanklik veral die sport van arbeiders was en in sommige dele van die wêreld vandag nog is, het die Engelse elite in die 18de en 19de eeu ’n belangstelling daarin ontwikkel. Vooraanstaande skole soos Eton en Aldenham het hul eie reëls opgestel.

In die eerste helfte van die 18de eeu kon die reëls vir die wedstryd nog verander na gelang van die skool waarteen sokker gespeel word.

Foto: Getty Images/ Alamy
Foto: Getty Images/ Alamy

Het jy geweet?
Andrew Watson (24 Mei 1856 – 8 Maart 1921) was ’n Skotse sokkerspeler wat as die eerste swart sportman beskou word wat op internasionale vlak sokker gespeel het. Hy het in 1881 en 1882 drie wedstryde vir Skotland gespeel.

CAMBRIDGE-REËLS

Die eerste poging om reëls vir almal op te stel was toe afgevaardigdes van verskeie Britse skole in 1848 in Cambridge byeengekom het. Dit het tot die Cambridge-reëls gelei. Sekere Cambridge-reëls, soos dié oor doelskoppe, ingooie en die regte van die doelwagter, is vandag nog dieselfde.

Dit het nog talle vergaderings geverg voor finaal besluit is sokker sal net met die voete en nie met die hande gespeel word nie. Tot in 1863 het verskeie skole nog toegelaat dat spelers die bal in die hande kon dra.

Dit het finaal tot die groot skeiding tussen sokker en rugby gelei. In afgeleë wêrelddele het dié reëls ook nie dadelik inslag gevind nie en dit het tot eiesoortige vorme van balsporte in Australië en Amerika aanleiding gegee.

 Toegewyde aanhangers van die 32 spanne wat aan di
Toegewyde aanhangers van die 32 spanne wat aan die 2018-Wêreldbekertoernooi in Rusland deelgeneem het. Foto: Getty Images/ Gallo Images

FOOTBALL ASSOCIATION

Die amptelike sokkergeskiedenis begin in 1863 met die totstandkoming van die Football Association (FA) in Engeland. Ebenezer Cobb Morley (1831-1924) word as die grondlegger van moderne sokker beskou.

Hy het in 1862 as kaptein van die sokkerklub Barnes aan ’n koerant geskryf en die stigting van ’n beheerliggaam voorgestel.

Dit het gelei tot die ontstaan van die FA, waarvan hy die eerste sekretaris en tweede president geword het. Morley het die eerste amptelike reëls van die spel opgestel.

Dié vorm van die spel met sy reëls het gou in die Britse Ryk en ander wêrelddele versprei wat met die Britte in aanraking was.

Foto: Getty Images/ Gallo Images
Suid-Korea en Frankryk sê mekaar die stryd aan in die 2019-Wêreldbekertoernooi vir vroue wat in Frankryk gehou is. Foto: Getty Images/ Gallo Images

BEROEPSOKKER

Met die koms van die FA het sokker ál meer professioneel begin raak. Dit beteken nuwe klubs het ontstaan en vaste spelers is teen betaling in diens geneem.

Die FA het betaalde sokker in 1885 aanvaar.

Die eerste ware kompetisie, die FA Cup, het in 1871 sy beslag gekry en die English Football League (EFL) het in 1888 ontstaan sodat die topklubs teen mekaar kon wedywer. In 1904 is Fifa gestig om internasionale mededinging moontlik te maak.

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai