Van die kremetartbome in Madagaskar is 2 700 jaar
Van die kremetartbome in Madagaskar is 2 700 jaar oud. Ses uit die agt spesies ter wêreld is endemies aan die eiland. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy sal verskoon word as name soos Alex die leeu, Marty die sebra, Melman die kameelperd en Gloria die seekoei by jou opkom sodra jy die naam Madagaskar hoor.

Dié bekende karakters in die Madagascar-fliekreeks het beslis ’n groot rol gespeel om dié eiland, ook bekend as die Groot Rooi Eiland, wat in die Indiese Oseaan aan die suidooskus van Afrika geleë is, aan ’n jonger generasie bekend te stel.

En hoewel daar nie leeus, sebras, kameelperde of groot seekoeie op die eiland is nie, spog dit met van die uniekste fauna en flora (diere en plante) op aarde.

Die ryk en eksotiese plant- en dierlewe is die gevolg van hoe die eiland sowat 165 miljoen jaar gelede ontstaan het. Die eiland, die vierde grootste naas Groenland, Nieu-Guinee en Borneo, het geleidelik van die superkontinent Gondwana weggebreek en oor miljoene jare wegbeweeg.

Dit het nie soos die nabye eilande Mauritius, die Comore, Réunion en Rodrigues uit vulkaniese uitbarstings ontstaan nie. Die eiland het dus in isolasie van Afrika en Indië ontwikkel, wat tot sy diverse en unieke fauna en flora gelei het. Tot sowat 90% van die diere en plante is ook endemies aan die eiland.

Dit beteken hulle is inheems en kom net daar voor. Talle is ook op die lys van bedreigde spesies. Van die bekendste plante is die reusekremetartbome in Madagaskar.

Van die agt soorte ter wêreld is ses endemies aan die eiland. Die kremetartboom, ook bekend as die baobab of ondersteboboom, kan tot 3 000 jaar oud word en is reusagtig groot.

Sowat 90% van die plante in Madagaskar kom net op die eiland voor, asook 92% van alle soogdiere en 95% van die reptiele op die eiland.

ENDEMIESE DIERE

Lemurs/vosape

Kyk hoe kyk hy vir my! Die ringstertlemur – een va
Kyk hoe kyk hy vir my! Die ringstertlemur – een van die vele lemurs in die Isalo Nasionale Park. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir koning Julien XIII, die ringstertlemur (Lemur catta) in Madagascar, en sy meer as 100 spesies en subspesies van lemurs sal jy wel op die eiland kry. Hulle is erg bedreig, en 95% van lemurs kan binne 20 jaar uitsterf as hulle nie beskerm word nie.

In lewende lywe. Koning Julien XIII, die ringstert
In lewende lywe. Koning Julien XIII, die ringstert­lemur in die rolprent Madagascar, by Alex die leeu. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die beste plek waar jy dié primate sal kry, is in een van die nasionale parke op die eiland.

Die madagaskarwitoogeend

Met net meer as 100 madagaskarwitoogeende (Aythya innotata) oor, is dié duikeend die skaarsste ter wêreld. Daar is lank gedink dat hulle uitgesterf het tot 20 van die eende in 2006 ontdek is.

Die kameelperdkewer

Hierdie plantetende kewer (Trachelophorus giraffa) is 2,5 cm lank en spog met ’n buitengewone lang nek – vandaar sy naam. Hy is onskakelik vir mense en woon in die reënwoude.

Die blou coua

Die pragtige koekoek wat as die blou coua bekendst
Die pragtige koekoek wat as die blou coua bekendstaan. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié voëltjie (Coua caerulea) is deel van die koekoekfamilie. Anders as ander koekoekvoëls bou die blou coua sy eie nes en broei self sy eier uit. Net een eier word in die broeiseisoen gelê. Hy is nie bedreig nie.

Panterverkleurmannetjies

Madagaskar spog met een van die grootste (Parson s
Madagaskar spog met een van die grootste (Parson se verkleurmannetjie, wat tot 70 cm lank word) én kleinste verkleurmannetjies (Brookesia micra of Brookii, wat 29 mm van kop tot stert meet) op aarde. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie verkleurmannetjies (Furcifer pardalis) is bekend vir hul pragtige kleure en kom in tropiese woude in die noordelike en oostelike dele van die eiland voor.

Dis een van die grootste verkleurmannetjies en kan tot 20 cm lank word. Hy is ook nie ’n bedreigde spesie nie.

Die tamatiepadda

Dié rooi padda staan as die tamatiepadda bekend en
Dié rooi padda staan as die tamatiepadda bekend en kan tussen ses en agt jaar oud word. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die groep paddas kry hul naam van hul oranjerooi velkleur.

Net die wyfies is helder tamatierooi, terwyl die mannetjies bruiner is. Hierdie paddas kan tussen ses en agt jaar oud word. Daar is drie spesies, waarvan die vals tamatiepadda (Dyscophus guineti) bedreig word as gevolg van ’n verlies aan habitat.

Die fossa of fretkat

Die fossa (Cryptoprocta ferox) is die grootste karnivoor op die eiland en leef hoofsaaklik van lemurs, knaagdiere, voëls en tenreks (sien hieronder).

Die katagtige jagter raak sowat 80 cm lank en spog met ’n stert van sowat 70 cm. Sy bewaringstatus is “kwesbaar”.

Blaarstertgeitjies

Daar is 19 soorte blaarstertgeitjies in Madagaskar.

Hulle is almal goed gekamoefleerde nagtelike reptiele en is gewoonlik bruin van kleur met ’n kort, plat stert.

Die gewone platstertgeitjie (Uroplatus fimbriatus) word langer as 30 cm, terwyl die spiespuntblaarstertgeitjie (Uroplatus ebenaui) net 10 cm lank word. Hierdie diertjies word bedreig deur die sluikhandel en die verlies van hul habitat.

Tenreks

Die tenreks is ’n diverse groep klein soogdierspesies. Daar is agt afdelings (genera) met 31 verskillende spesies. Party het ontwikkel om soos krimpvarkies en skeerbekmuise te lyk, terwyl ander soos rotte en muise lyk.

Hul sig is swak, maar hul snorhare is baie sensitief. Die gewone tenrek (Tenrec ecaudatus) het ’n borselagtige pels en is die grootste lid van die groep – hy kan tot 39 cm lank word en meer as 2 kg weeg. Hy kan nege maande lank aaneen hiberneer.

Aye-aye

Met sy voorkoms gaan die aye-aye nie gou ’n skoonh
Met sy voorkoms gaan die aye-aye nie gou ’n skoonheidskompetisie wen nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die bedreigde aye-aye (Daubentonia madagascariensis) of langvingerlemur het ’n lang, dun middelvinger, asook knaagdieragtige tande, ore wat aan ’n vlermuis herinner en ’n konyngroottelyf.

Dié primaat gaan nie sommer gou ’n skoonheidskompetisie wen nie, maar spog wel met die titel van die wêreld se grootste nagtelike primaat.

Boonop het hy ses vingers aan elke hand wat help om sy kos – insekte en vrugte – te kry en te eet. 

EN SOVEEL MEER

Dis aan die suidooskus van Afrika geleë.
Dis aan die suidooskus van Afrika geleë. Foto: Gallo Images/Getty Images

Benewens al die diere wat genoem is, is daar ook honderde spesies landslakke, 210 verskillende skoenlappersoorte, verskeie miskruiers, spinnekoppe, vlermuise, muise, naaldekokers, gaasvlerkiges, visse, insekte en reptiele wat endemies aan die eiland is.

Die mens het sowat 2 000 jaar gelede op Madagaskar begin woon. Intussen het minstens 17 spesies diere al uitgesterf.

Ontbossing, erosie, natuurrampe soos siklone, droogtes en sprinkaanplae, asook die mens se behoefte aan vuurmaakhout en die vernietiging van die reënwoude, laat die gevaarligte vir die unieke fauna en flora op die eiland flikker. Meer as 90% van die reënwoude is reeds vernietig.

Deesdae is daar talle nasionale parke en reservate om die dier- en plantspesies van uitwissing te red. Daar is ook verskeie Unesco-wêrelderfenisgebiede op Madagaskar.

Het jy geweet?

Koningin Ranavalona III was die laaste monarg van die Koninkryk van Madagaskar en het van 1883 tot 1897 regeer.

Sy het verbete geveg teen Frankryk se koloniale planne vir Madagaskar.

Haar pogings het egter nie vrugte afgewerp nie, en in 1895 is die koninklike paleis deur Frankryk verower en die koningin is in 1897 na die eiland Réunion verban. Sy is later na Algerië verskuif, waar sy in 1917 oorlede is.

DIE EILAND IN ’N NEUTEDOP

Madagaskar se hoë rotswoude van skerp kalkklip­rot
Madagaskar se hoë rotswoude van skerp kalkklip­rotse in die Ankarana Nasionale Park. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar woon meer as 27 miljoen mense met nagenoeg 3,5 miljoen in die metropolitaanse gebied van die hoofstad, Antananarivo.

Die inwoners word Malgasse genoem en daar is 18 Malgassiese stamme, asook klein groepe Franse, Indiërs, Comorane en Chinese op die eiland.

Malgassies en Frans is die amptelike tale. In 2019 het Andry Rajoelina die president geword. Die Malgassiese ariary (MGA) is in 1961 as geldeenheid ingestel.

R1 is gelyk aan sowat MGA265. Die eiland se klimaat is tropies langs die kus met ’n gemiddelde temperatuur van 30 °C. Die binneland is gematig met ’n gemiddelde temperatuur van 25 °C en die land is baie droog in die suide.

Die reënseisoen is van November tot April met Mei tot Oktober wat droër en koeler maande is.

Die hoogste punt op die eiland is die berg Maromokotro wat 2 876 m hoog is, en die Indiese Oseaan is die laagste punt. Madagaskar spog met verskeie unieke habitatte – van reënwoude en hoë rotswoude van skerp kalkkliprotse tot woestyne, ryslande en koraalriwwe.

Landbou is die hoofsektor van die ekonomie in Madagaskar en sluit koffie, vanielje, suikerriet, naeltjies, rys, piesangs en veeteelt in. Nywerhede, hoewel min, sluit tekstielvervaardiging, vleisverwerking, seekos, seep, motorvervaardiging en papier in.

Toerisme is ook ’n baie belangrike bron van inkomste vir die eiland.

Madagaskar is meer as net ’n eiland skuins duskant Afrika. Dit is ’n veilige hawe vir die bewaring van ’n unieke en diverse flora-en-fauna-erfenis.

Bronne: wikipedia.org, unansea.com, tierient.com, voetspore.co.za, Beeld, 18 Junie 2016, worldwildlife.org, National Geographic Kids, uitgawe 74, Oktober 2012, web.archive.org/web/20160306011435, atbutterflies.com, intreasures.com, macrotrends.net, smithsonianmag.com, telegraph.co.uk, news24.com, australiangeographic.com.au 
Hulp met skooltake
 Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.