Die Sahara is die grootste warm woestyn op aarde. Net die koue woestyne van Antarktika by die Suidpool en die Arktiese streek by die Noordpool is groter as die Sahara. Hierdie yslandskappe word ook as woestyne beskou omdat dit so min daar reën en sneeu en so min plante daar kan groei.

Die uitgestrekte woestyn van die Sahara is sowat 9,2 miljoen km2 groot. Dis omtrent die grootte van China of die VSA. Suid-Afrika sal sewe en ’n halwe keer in die Saharawoestyn kan inpas. Dit bestaan meestal uit sand, grond en klip.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Die klimaat in die Saharastreek was nie altyd so dor nie. Wetenskaplikes reken tussen 5 000 en 11 000 jaar gelede was die Sahara oortrek met groen plantegroei, volop natuurlewe, riviere en mere. Hierdie vogtige periode in Noord-Afrika was dalk die gevolg van ’n verskuiwing in die aarde se as. Rotstekeninge uit daardie periode beeld mense uit wat groot diere soos olifante, kameelperde en seekoeie jag. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Waar op aarde?

Die Saharawoestyn beslaan die grootste deel van Noord-Afrika. Die woes-tyn se naam is afgelei van ’n Arabiese woord vir “woestyn”. Die Sahara strek oor groot dele van Algerië, Tunisië, Libië, Egipte, Soedan, Tsjad, Niger, Mali, Mauritanië, Wes-Sahara en Marokko.

In die noorde grens die woestyn aan die Atlasgebergte en Middellandse See, terwyl die Soedanstreek en Nigerriviervallei die suidelike grens uitmaak. Aan die westelike kant grens die Sahara aan die Atlantiese Oseaan en in die ooste aan die Rooisee.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
’n Toeareg-man in tradisionele drag saam met sy kamele. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Mense

Sowat 2 miljoen mense woon in die Sahara. Hulle is boere, herders en handelaars wat in die vrugbaarder dele van die woestyn lewe. Die meeste nomades is lede van groepe soos die Toeareg, Toeboe en More. Die meeste mense in die Sahara is van Arabiese en Berber-afkoms.

Hulle is grotendeels Moslems. Arabiese groepe het die Islamitiese geloof van die 7de eeu af in die streek versprei.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Die marathon wat deur Discovery Channel as “die taaiste wedloop op aarde” beskryf word, is die Marathon des Sables. Dit vind gewoonlik in April in Marokko plaas. Dié ultramarathon behels 250 km wat binne sewe dae afgelê word. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Beskrywing

Die Sahara se belangrikste topografiese eienskappe is rotsbesaaide hooglande (hamadas) en gruisbedekte vlaktes (serirs). Die tipiese sandwoestyngebiede (ergs) met die ikoniese sandduine beslaan maar sowat 25% van die Sahara se oppervlakte.

Die hoogste punt in dié woestyn is Emi Koussi, ’n enorme vulkaan in die Tibesti-gebergte van Tsjad. Hierdie skildvulkaan is 3 415 m hoog. Die laagste plek in die Sahara is Egipte se Qattara-laagte, wat 133 m onder seevlak is.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
’n Sandstorm beweeg in die rigting van Merzouga in Marokko. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Klimaat

Die Sahara kan uiters warm word in die dag weens die lang ure van daglig, die gebrek aan wolkvorming bo-oor die streek en die lae lugvogtigheid. In die somermaande is dit nie ongewoon dat die temperatuur tot bo 40 °C opskiet nie. In die winter kan dit snags ysig koud word – tot 10 °C onder vriespunt.

Warrelwinde en stofstorms kom dikwels in die Sahara voor. Die stofdeeltjies wat so oor die Atlantiese Oseaan gewaai word, kan selfs die weerstoestande in die Amerikas beïnvloed.

Dit reën maar min in dié woestyn; gemiddeld 25 tot 75 mm per jaar. Daar is darem ondergrondse water wat talle oases moontlik maak.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
In ’n studie wat in 2018 gedoen is, het navorsers bevind die Sahara het die afgelope 100 jaar sowat 10% groter geword. Die Groot Groen Muur is ’n projek om ’n 15 km breë strook bome regoor die suidelike grens van die Sahara vir 7 600 km van Dakar tot by Djiboeti te plant om sodoende nog woestynvorming te verhoed. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Plante

Jy sal nie baie wilde plante in die onvrugbare woestyn vind nie. Daar is plek-plek grasse, struike en bome. Die meeste van hierdie plante kom aan die grense van die woestyn in die noorde en suide voor, asook naby oases en dreineringsgebiede.

Die woestynplante is aangepas by die ongenaakbare omgewing. Halofiete (soutplante) kan in soutlaagtes oorleef. Bome soos die tamarisk en akasia stuur hul wortels diep in die grond in om water vir oorlewing te vind.

Blomplante in droër gebiede maak soos ons eie veldblomme in Namakwaland – hul saadjies ontkiem vinnig ná reëns en voltooi hul groeisiklus binne dae voor die grond weer kurkdroog word. Hul nuwe saadjies kan dan jare in die dorre aarde wag tot dit weer eendag reën sodat hulle die siklus kan herhaal.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Die Emi Koussi-­vulkaan is ’n skild­vulkaan in die Tibesti-­gebergte van Tsjad. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Diere

Ondanks die strawwe toestande is daar verskeie diersoorte wat in die Sahara tuis is. Dit sluit sowat 70 spesies soogdiere in, waaronder woestynmuise, vlakhase, bobbejane, wildsbokke, hiënas en jakkalse.

Soogdiere in die hartjie van die woestyn is betreklik klein gebou. Dit help hulle om waterverlies te minimaliseer. Hulle kry gewoonlik genoeg vog uit hul kos. Bedags skuil hulle in gate, en snags, wanneer dit koeler is, gaan soek hulle kos en jag hulle.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Die fennek, ’n woestyn­jakkals, se groot ore help hom om ondergrondse prooi op te spoor en in die woestyn se geweldige hitte af te koel. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Die fennek, ’n woestynjakkals, het groot ore ontwikkel wat hom help om hitte te verloor, en sy harige sole beskerm sy pootjies. Reptiele soos akkedisse, verkleurmannetjies en kobras kom ook hier voor. By die min plekke met water in hierdie uitgestrekte streek sal jy krokodille, paddas, slakke en visse aantref.

Goggas soos skerpioene en miskruiers is tuis in die woestyn. Talle voëls – sowat 90 spesies – oorleef ook in die Sahara, soos volstruise, sekretarisvoëls, uile en rawe. Jy sal die meeste dierelewe naby oases en aan die noordelike en suidelike rande van hierdie enorme woestyn vind.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
’n Oase is ’n plekkie in die groot woestyn waar vars water voorkom. Die oases se natuurlike fonteinwater borrel gewoonlik op uit waterklip (’n akwifeer) of ondergrondse riviere wat in die berge kan ontstaan. Party oases bestaan net uit ’n paar dadelpalms om ’n put of fontein, terwyl ander stede met hul eie oeslande kan wees. By sulke oases word dikwels met produkte soos dadels, katoen, olywe, vye, sitrus, koring en mielies geboer. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Kamele

Die Sahara se bekendste dier is natuurlik die kameel, wat duisende jare gelede mak gemaak en deur nomades in die woestyn gebruik is. Die dromedaris (eenbultkameel) gebruik die vet in daai bult op sy rug en ander fisieke aanpassings om dae lank sonder kos of water deur die woestyn te trek.

Sy groot, dik lippe help hom om stekelrige plante te vreet, maar hy kan ook droë gras en souterige plantegroei verorber. Sy dik pootkussings maak dit vir hom moontlik om klipperige en sanderige terrein baas te raak.

Die gesplete neusgate en swaar wenkbroue en -hare beskerm sy neus en oë in woeste sandstorms. Wanneer water beskikbaar is, kan die kameel in ’n japtrap meer as 110 L opslurp om hom gereed te kry vir die droë dae wat voorlê. 

Teks: Cum Laude Media; Bronne: activewild.com, wikipedia.org, britannica.com, desertusa.com, nationalgeographic.org, marathondessables.com