Kraaie is van die intelligentste diere. Die grootte van hul brein in verhouding tot hul lyf, ’n teken van intelligensie, stem ooreen met dié van dolfyne en die groot ape en is die grootste van alle voëls.

Dit maak ’n hele 2,7% van hul lyf uit. Maar hulle is ook lekker skelm . . .

Kraaispesies

Meer as 40 spesies kom wêreldwyd voor, behalwe in Suid-Amerika en Antarktika. In Suid-Afrika is drie inheemse spesies: die witborskraai, swartkraai en withalskraai.

Die witborskraai

Die witborskraai kom oral in Suid-Afrika voor, behalwe die Karoo en Noord-Vrystaat. Hulle verkies woude en beboste gebiede, maar word dikwels aangetref by vullishope, langs paaie, op landerye en in dorpe en stede, waar kos volop is. 

Grootte 

Witborskraai

Vlerkspan: Gemiddeld 92 cm 

Gewig: Gemiddeld 520 g

Tuinduif 

Vlerkspan: Gemiddeld 67 cm

Gewig: Gemiddeld 310 g 

Vere

Witborskraaie is glansend swart met ’n kenmerkende wit bors, maag en agternek.

Stertvere

Die stertvere is ewe lank en het ’n waaiervorm wanneer hulle uitgesprei word. Dit help hulle om te stuur wanneer hulle vlieg en hul balans te hou wanneer hulle sit.

Vlerke

Hulle het breë vlerke, wat hulle baie stuurkrag gee.

Dieet

Kraaie eet plante én vleis. Hulle is ook roofdiere sowel as aasvreters. Hulle hou van neute, vrugte, sade, insekte, klein soogdiere, voëleiers, wurms, akkedisse en selfs mense se vullis.

Snawel

Hulle het sterk, reguit swart snawels wat al beskryf is as Switserse weermagmesse (messe met baie gebruike) omdat hulle dit gebruik om ongelooflik baie verskillende soorte kos te eet.

Die oë sit aan weerskante van die kop. Hulle kan beter sien met net een oog op ’n slag omdat hul gesigsveld besonder groot is as hulle albei oë gebruik.

Beplanningsvaardighede

Daar is al gesien hoe kraaie neute by ’n verkeerslig neersit sodat motors daaroor kan ry en die doppe stukkend trap.

Daarna gaan haal hulle die neute en eet die inhoud. Kraaie steek ook hul kos vir ander voëls weg en hou mekaar dop sodat hulle later ander se kos kan steel.

Groepgedrag

Hulle onthou mense se gesigte, en as jy hulle kwaad maak, sal hulle jou jare later nog uitskel.

Hulle sal jou ook aan hul maats “beskryf” en dié sal jou dan ook uitskel, selfs jonges wat jou nog nooit gesien het nie.

Gebruik van gereedskap Kraaie maak gereedskap soos hake uit takkies en blare om inseklarwes uit gate in bome te hark.

Onthouvermoë

Kraaie het al leer tel en hele sinne praat. Hulle maak soms mense se stemme na om ander diere te roep of terg.

Kraaie steel dikwels mense se besittings soos pos, motorsleutels en enigiets wat blink.

In minstens een geval het hulle ’n meisie wat vir hulle kos gegee het, beloon deur elke dag vir haar goedjies te los wat hulle gesteel het.

Neste

Dis ’n deurmekaarspul van takkies, dennenaalde, onkruid, boombas en dierehare. In stedelike gebiede word soms ook stukkies draad, plastiek en ander klein items gebruik.

Het jy geweet?

Kraaie pik dikwels diere se oë uit, want dis sagter as die vleis en dis vir hulle smaaklik.

Bronne: af.wikipedia.org, animalia.bio, viva-afrikaans.org, southafrica.co.za, blogs.thatpetplace.com, honesttopaws.com, livescience.com, britannica.com,kids.kiddle.co, animals.net