Die ses lande wat aan Suid-Afrika grens, word ons buurlande genoem. In die vorige artikel het ons na Namibië, Botswana en Zimbabwe gekyk. Hulle lê almal noord. Nou kom die ander drie aan die beurt. Die bergkoninkryk van Lesotho word deur Suid-Afrika omsluit, terwyl die koninkryk van Eswatini (voorheen Swaziland) deur Suid-Afrika en Mosambiek omring word.

Mosambiek is ons groot buurland aan ons oosgrens. Volgens die Verenigde Nasies het daar verlede jaar meer as 700 000 Zimbabwiërs en byna 400 000 Mosambiekers in Suid-Afrika gewoon – dalk baie meer.

Mosambiek

Mosambiek het in 1975 sy onafhanklikheid van Portugal verkry. Die land het daarna 16 jaar lank gebuk gegaan onder ’n bloedige burgeroorlog vir beheer van die staat. Die oorlog het minstens 4 miljoen mense ontwortel en moontlik die lewe van nog 1 miljoen mense geëis.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy
Mosambiek se eilandoorde en strandverblyf bied watersport in turkoois water en luilekker hangmat-­ontspanning langs goue strande. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy

Selfs nadat die konflik in 1992 formeel tot ’n einde gekom het, het die nadraai van die oorlog (soos landmyne en onenigheid in die regering) nog lank ’n negatiewe uitwerking op die land gehad. Die konflik het ’n nuwe baadjie aangetrek in die noorde van die land, waar Islamiste veg om ’n Islamitiese staat te vestig. Korrupsie is ook in dié arm land ’n groot probleem.

Ekonomie

Die ontdekking van gasvelde in 2011 aan die Mosambiekse kus beloof om nuwe lewe in die land se ekonomie te blaas. Sowat twee derdes van die bevolking leef en werk in landelike gebiede. Die land hou groot potensiaal in en is ryk aan baie bewerkbare grond, water, energie en minerale hulpbronne.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy
’n Mosambiekse visserman in sy tradisionele dhow met Maputo op die agtergrond. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy

Drie groot hawens bedien nie net Mosambiek in terme van in- en uitvoer nie, maar ook vier van dié land se buurlande wat nie direkte toegang tot die see het nie.

Toerisme

Toerisme is die deel van Mosambiek se ekonomie wat die vinnigste groei. Ná die burgeroorlog het die regering ’n punt daarvan gemaak om natuurreservate soos die Gorongosa Nasionale Park en die Maputo Spesiale Reservaat reg te ruk nadat die plant- en dierelewe grootliks uitgeroei is.

Mosambiek
Mosambiek se vlag.

Mosambiek spog ook met ’n pragtige lang kuslyn en die land is ’n mekka vir hengelaars en veral skubaduikers wat die onderwaterwêreld wil verken.

Republiek van Mosambiek

Hoofstad: Maputo

Bevolking: 30 miljoen

Grondgebied: sowat 800 000 km²

Hooftale: Portugees (amptelik) en in- heemse tale soos Makhuwa en Tsonga

Godsdiens: Christelik (59%), Islam (20%), geen geloof (14%), inheemse gelowe

Lewensverwagting: 56 jaar (mans), 60 jaar (vroue)

Geldeenheid: metical

Eswatini

Swaziland
Eswatini se vlag.

Eswatini is een van die min oorblywende absolute monargieë ter wêreld, en die koning, Mswati III, regeer volgens dekreet. Die land was eers bekend as Swaziland, maar in 2018 het die koning beveel sy land moet voortaan as Eswatini bekendstaan. Die land het in 1968 sy onafhanklikheid van Brittanje verkry.

Heuwels en berge in die sentrale deel van Eswatini spog met die Groot Vyf. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy

Ekonomie

Sowat driekwart van Eswatini se bevolking maak ’n lewe uit bestaansboerdery op nasionale grond onder die beheer van die hoofmanne. Eswatini se ekonomie is uiteenlopend. Landbou, bosbou en mynbou dra sowat 13% tot die bruto binnelandse produk (BBP) by, terwyl vervaardiging (tekstiel en suiker vir die uitvoermark) sowat 37% bydra. Dienste, veral staatsdienste, behels 50% van die BBP.

Baie Swazi’s werk in Suid-Afrika en stuur hul inkomste huis toe. Dit hou die ekonomie ook in stand. Een van die grootste probleme in Eswatini is die hoë koers van MIV-infeksie.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy
ie ­Manzini- kunsvlytmark bevat die werk van ­talentvolle kunstenaars. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy

Toerisme

Eswatini het asemrowende berge en valleie, bosse en vlaktes. Toeriste kan die Groot Vyf – olifante, leeus, luiperds, renosters en buffels – in natuurreservate soos die Hlane Koninklike Nasionale Park besigtig. Die talle moderne en tradisionele feeste en seremonies wat gereeld in Eswatini gehou word, lok ook baie toeriste van heinde en ver.

Koninkryk Eswatini

Hoofstad: Mbabane

Bevolking: 1,3 miljoen

Grondgebied: 17 364 km²

Amptelike tale: Swazi en Engels

Godsdiens: Christelik (83%), inheemse gelowe (15%), Islam (2%)

Lewensverwagting: 54 jaar (mans), 60 jaar (vroue)

Geldeenheid: lilangeni

Lesotho

Die bergkoninkryk van Lesotho is op hooglande geleë waar baie nedersettings net te perd, te voet of met ’n ligte vliegtuig bereik kan word. Daar is min hulpbronne in die strawwe klimaat op die hoë plato, en landbougrond is ook maar beperk in die laerliggende gebiede.

Hierdie voormalige Britse protektoraat, wat in 1966 onafhanklik geword het, word heeltemal deur Suid- Afrika omring. Gevolglik is die land baie afhanklik van sy groot buurman. Die gebrek aan werkgeleenthede in Lesotho het duisende werkers deur die jare genoop om in Suid-Afrika werk te soek, veral in die myne.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy
Skiërs en ander buiteluggeesdriftiges stroom na die noordelike hooglande. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy

Ekonomie

Lesotho is waterryk – ’n kommoditeit wat vir die land baie geld verdien. Die eerste fase van die Lesotho-Hoogland-waterprojek is in die 1990’s voltooi; dit voer water na die nywerheidsgebiede van Suid-Afrika uit.

Dié projek behels ook hidroëlektriese kragsentrales, wat genoeg hernubare elektrisiteit opwek om aan Lesotho se eie behoeftes vir krag te voorsien. Die ander natuurlike hulpbronne wat Lesotho vir uitvoer ontgin, sluit sandsteen, diamante en klei in.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy
The Katse-dam is deel van die Lesotho-Hoogland-waterprojek. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters/Alamy

Toerisme

Die toerismebedryf in Lesotho is nog nie ten volle ontwikkel nie, maar die land het baie om te bied. Daar is rotstekeninge deur die San van ouds, dinosourusspore, natuurreservate en ponieritte in die berge wat alles goed by ekotoerisme pas.

Lesotho
Lesotho se vlag.

Die Sehlabathebe Nasionale Park in die Malotiberge is deel van die groter Maloti-Drakensberg-wêrelderfenisgebied. ’n Mens kan selfs wintersport gaan beoefen by Afriski, ’n skioord meer as 3 000 m bo seevlak. 

Koninkryk van Lesotho

Hoofstad: Maseru

Bevolking: 2,2 miljoen

Grondgebied: 30 355 km²

Hooftale: Sesotho en Engels

Godsdiens: Christene (meer as 95%)

Lewensverwagting: 51 jaar (mans), 56 jaar (vroue)

Geldeenheid: loti

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY, GALLO IMAGES/REUTERS; TEKS: CUM LAUDE MEDIA; Bronne: bbc.com, businessinsider.co.za, wikipedia.org, mozambique-info.co.za, fao.org, thekingdomofeswatini.com