Miskien het jy al van die 10 plae in die Bybel of meer onlangs van ’n sprinkaanplaag gehoor?

’n Plaag kan menslik of natuurlik van aard wees. Dit beteken dit kan net onder mense, net onder diere of onder albei voorkom.

Sprinkane is een van die algemeenste natuurlike pl
Sprinkane is een van die algemeenste natuurlike plae wat in Suid-Afrika voorkom. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Massasiektes en verwoesting is twee terme wat kan help om ’n plaag beter te verstaan.

Wat is ’n plaag? 

’n Plaag kan ’n skadelike plant (onkruid), ’n werweldier soos knaagdiere of voëls, ongewerweldes soos insekte, vlooie of slakke, nematodes (rondewurm) of ’n patogeen (bakterie, virus of swam) wees wat grootskaalse siekte (massasiekte) veroorsaak.

Dit kan ook ander ongewenste organismes wees wat watergehalte aantas of die dierelewe of ander dele van die ekostelsel skade berokken en dus grootskaalse verwoesting saai.

Een van die berugste plae is die siekte bekend as die pes, wat Europa van die 14de tot die 19de eeu in vlae geteister het. Die dodelikste uitbraak het as die Swart Dood bekendgestaan.

Daar kon eers in die laat 1800’s vasgestel word dat siektes onder meer deur bakterieë veroorsaak word en dat bakterieë onder meer in diere voorkom. Die bakterie wat die pes veroorsaak, staan bekend as Yersinia pestis.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Het jy geweet?

’n Plaag kan tog voordele inhou. Dit kan maatskaplike verandering (soos skoner dorpe en stede en beter higiëne) sowel as wetenskaplike ontwikkeling (soos die ontwikkeling van entstowwe en behandeling) meebring.

Beter infrastrukture (soos toegang tot skoon water) kan mense se lewensgehalte verbeter, terwyl ’n plaag ook wetenskaplikes aanmoedig om ’n oplossing vir die siekte te kry.

Dit lewe binne knaagdiere soos rotte, muise, marmotte en eekhorings, maar laat hulle nie op groot skaal vrek nie. Hierdie besmette diere en hul vlooie dien as ’n langtermynbesmettingsbron vir die bakterieë.

Die vlooie kan die bakterie na ander diere soos voëls, katte, honde, skape en perde asook die mens versprei. 

By die mens neem dit die vorm van buile- of longpes aan.

’n Plaag kan ook voorkom wanneer ’n soort insek soos sprinkane, termiete, kewers of motte in groot hoeveelhede ’n sekere soort plant of gewas verorber of bome en selfs houtstrukture binnedring en verwoes.

Die bakterie Yersinis Pestis.
Die bakterie Yersinis Pestis.

Dink byvoorbeeld aan mielies, koring en wingerde, tot denne- en bloekombome.

Dit is natuurlike gewasse wat blootgestel is aan insekte. Verwoesting vind plaas wanneer die insekte die gewas begin vreet of laat vrot, in so ’n mate dat daar later min tot niks van die gewas oorbly nie.

Oorsake van ’n plaag

Ons weet nou dat ’n plaag in die vorm van grootskaalse siekte of groot verwoesting voorkom. Dit kan kom van ’n bakterie afkomstig van knaagdiere, of van ’n groot aantal insekte wat ’n gebied binnedring. 

 Die rotvlooi
Die rotvlooi

Maar wat veroorsaak die verspreiding van bakterieë en virusse, of die groot aantal insekte in ’n gebied?

Een van die hoofredes waarom bakterieë en virusse versprei, is internasionale reis en handel. Knaagdiere, veral rotte, is bekend vir hul teenwoordigheid op skepe wat groot vragte goedere na ander lande vervoer.

Dis die rotvlooi wat daarvoor ver­antwoordelik is
Dis die rotvlooi wat daarvoor ver­antwoordelik is om die dodelike bakterie Yersinis pestis van rot na mens oor te dra. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Gevolglik neem die rot ook die bakterie saam na die ander lande.

As ’n rot ’n draer van die dodelike bakterie is, sal dit ook tot die verspreiding daarvan in ander lande lei. Mense is ook reisigers wat bakterieë en virusse kan versprei.

Deesdae is dit moontlik die grootste rede waarom siektes versprei en waarom dit tot massasiektes en gevolglik tot ’n plaag (epidemie of pandemie) kan lei. 

’n Digte bevolking binne ’n beperkte gebied kan veroorsaak dat siektes versprei, veral wanneer higiëniese maatreëls nie gevolg word nie. 

’n Plaag kan vererger wanneer daar nie genoeg mediese kennis oor die siekte is nie, byvoorbeeld kennis oor die gevaar van die siekte, hoe maklik dit ander kan besmet, watter medisyne daarvoor kan help en aan watter simptome ons die siekte kan identifiseer. 

Rotskerms voorkom dat rotte teen die toue opklim e
Rotskerms voorkom dat rotte teen die toue opklim en in die skepe in die hawe ingaan.

Die klimaat en weerpatrone van ’n land of streek kan tot die uitbreek van sekere soort insekte lei. As die klimaat gunstig is vir die uitbroei van die insek, kan ’n groot aantal van dié insek tot ’n plaag lei.

So kan goeie reën vir ’n gebied ook die uitbroei van insekte voortbring, en gevolglik kan dit ’n plaag teweegbring.

Plae in Suid-Afrika

Suid-Afrika het in 1900 die heel eerste keer ’n stryd gevoer teen ’n uitbreking van die pes (builepes). Dit was in die tydperk van die Anglo-Boereoorlog en is veroorsaak deur die rotte op Britse skepe wat in die land aangekom het.

Die plaag het versprei en gevalle van die plaag is tot en met 1905 opgeteken. Die laaste geval van die menslike pes in Suid-Afrika was in 1982 in Coega in die Oos-Kaap.

Die oorsaak van die pes was grotendeels die onvoldoende beheer van rotte. Suid-Afrika is in 2017 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie teen die moontlike uitbreking van die pes gewaarsku. Dit het gevolg nadat infeksies en sterftes in Madagaskar aangeteken is.

Danksy mediese vooruitgang is daar vandag antibiotika wat die pes doeltreffend kan behandel. 

Het jy geweet?

Sowat ’n derde van Europa se bevolking is dood weens die plaag bekend as die Swart Dood wat tussen 1347 en 1352 in Europa versprei het.

Die siekte is deur rotte van China deur handelsroetes na ander wêrelddele versprei.

Die beheer van plae

Ons weet vandag danksy die wetenskap wat die oorsaak van siektes is, hoe dit versprei en hoe om dit te hanteer. In die geval van ’n menslike plaag is basiese higiëne baie belangrik.

Om die verspreiding van ’n menslike plaag (epidemie of pandemie) soos covid-19 te beperk, kan ’n mens maskers dra, gereeld jou hande was en ’n veilige afstand tussen mense handhaaf.

Entstowwe teen die virus wat die siekte veroorsaak, kan ook ’n oplossing bied. ’n Skoon omgewing en maatreëls teen pesdraers soos rotte en muskiete kan ons ook veilig hou.

Hierdie houtsneewerk beeld uit hoe stedelinge in 1
Hierdie houtsneewerk beeld uit hoe stedelinge in 1630 in Engeland platteland toe vlug om van die plaag weg te kom.

Op die gebied van natuurlike plae het wetenskaplikes maniere gekry om insekte te beheer sonder om gewasse te beskadig.

Klink die naam insekdoder vir jou bekend? Dit word gebruik om insekte te beheer, maar dit kan skadelik vir die mens en natuur wees.

Daarom word ’n moderner en volhoubaarder benadering – geïntegreerde plaagbestuur – vandag gebruik om ’n plaag van vretende ruspers of sprinkane van jou gewasse af weg te hou.

Bronne: ipm.ucanr.edu, litnet.co.za, sun.ac.za, grainsa.co.za, mieliestronk.com, netwerk24.com, youtube.com, britannica.com, jstor.org

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai