Die Mesopotamiese beskawings was goed georganiseerde gemeenskappe in die ou tyd, duisende jare gelede. Mesopotamië word dikwels ook beskou as die “wieg van die beskawing” waar van die eerste stede deur volke soos die Sumeriërs gebou is.

Dié ouwêreldse beskawing was verantwoordelik vir ’n magdom uitvindings en ontdekkings wat tot vandag toe nog ’n onmisbare rol in die moderne tyd speel. Die Mesopotamiërs kry erkenning vir die uitvind van onder meer die wiel, landbou, die ploeg, skrif en selfs wiskunde.

Vroeë beskawings

Die Mesopotamiese beskawings het in die suidweste van Asië tot stand gekom. Mesopotamië was in ’n vrugbare gebied tussen die Tigris- en die Eufraatrivier. Vandag is die streek in die Midde-Ooste grootliks in Irak, hoewel dele daarvan ook in Iran, Koeweit, Sirië en Turkye is.

In Grieks beteken Mesopotamië letterlik “die land tussen die riviere”. Die Mesopotamiërs was een van drie belangrike kulture wat die antieke tydperk en vroeë geskiedenis oorheers het. Saam met die Egiptiese en Indusriviervallei-beskawing het die Mesopotamiërs die drie millenniums voor die geboorte van Christus oorheers.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Groot Ziggoerat, ’n Sumeriese tempel in die antieke stad Ur, tans die suidelike deel van Irak. Volgens die Bybel was Ur die geboorteplek van Abraham. Foto: Gallo Images/Getty Images

In die suide van Mesopotamië was Sumeries die belangrikste kultuurtaal. Dis waar die Sumeriese beskawing tot stand gekom het. In die noorde was Akkadies die hooftaal van die Akkadiërs. Later het die Arameërs, Ammoniete en Babiloniërs (almal verspreid) ook die streek bewoon.

Die Sumeriërs

Die Sumeriërs het hulle van 4500 tot 4000 v.C. naby die Persiese Golf gevestig. Dit was die begin van die Bronstydperk en mense het hulle in stede begin saamgroepeer. Reusevooruitgang is op die landbougebied gemaak wat dit moontlik gemaak het vir mense om minder op jag staat te maak vir oorlewing. Hulle kon nou op een plek bly.

Die grond tussen die Eufraat- en die Tigrisrivier was vrugbaar en die water is deur middel van besproeiing aangewend vir die kweek van gewasse soos koring, gars, dadels, komkommers en ander groente met behulp van klipskoffels voor die ploeg ontwikkel is.

Met die gewasse kon meer mense gevoed word, en diere soos donkies, beeste, bokke en skape kon op een plek aangehou word. Mense het geleer om onderling handel te dryf, wat later gelei het tot die konsep van belasting. Benewens boerdery was die Sumeriërs uitstekende vakmanne wat potte en juwele gemaak het. Die Sumeriërs het waarskynlik die eerste wiel gebruik – hoewel aanvanklik nie vir vervoer nie, maar vir pottebakkery.

Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Voorstelling van Nineve, een van die grootste en magtigste stede in Mesopotamië aan die oostelike oewer van die Tigrisrivier. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar die uitvinding van die wiel was die fondament waarop talle ander soos die (stryd)wa kon volg. Hulle het ook metale soos brons, silwer en goud ingespan om wapens te maak, hoewel die meeste van die materiale ingevoer moes word. Daarvoor moes hulle met ander volke handel dryf. Die Sumeriërs het ook, omstreeks 3000 v.C., ’n soort wigskrif ontwikkel wat uit woordprente bestaan het. Dit is gebruik om saketransaksies mee op te teken.

Dit is gemaak op kleitablette waarvan talle tot vandag toe behoue gebly het. Omstreeks 3500 v.C. het die Sumeriërs ’n bloeitydperk beleef en ’n groot nasie geword. Hulle het begin om ommuurde stede te bou met pragtige paleise en tempels daarin.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Babiloniese Kaart van die Wêreld dateer uit tussen 510 en 500 v.C. Foto: Gallo Images/Getty Images

Talle van hierdie stede het onafhanklike stadstate geword en sommige het hul eie konings gekry en buurstate verower. Een van die eerste belangrikste stadstate was Ur langs die Eufraatrivier, waar geglo word die Hebreeuse aartsvader, Abraham, vandaan kom. Uit die tablette weet navorsers meer oor die Sumeriese geskiedenis, hul letterkunde, godsdiens, belangstelling in geneeskunde en basiese chirurgie. Ook dat daar met skole begin is en daar ’n regstelsel was. Dit het die grondslag gelê vir die ontwikkeling van ’n handelsekonomie.

Hulle word ook onthou vir die bou van gevorderde en unieke strukture wat as ziggoerats bekendstaan. Hierdie ziggoerats is deur die Sumeriërs vir godsdienstige gebruik gebou, en elkeen was deel van ’n groter tempelkompleks.

Die gode

In Mesopotamië was die ziggoerats nie openbare plekke van aanbidding nie. Daar word geglo dat dit die gode se woonplekke was, en elke stad – wat onafhanklik bestuur is en as stadstate bekendgestaan het – het sy eie god gehad.

Net die priesters, wat magtige lede van die gemeenskap was, kon op of in die ziggoerats gaan om die gode te versorg. Die Mesopotamiërs het geglo net die gode is onsterflik en dat die dood elkeen se lot is. Die hoogste god was aanvanklik die beskermgod van Uruk. Sy naam was An of Anu. Hy is as die vader van alle dinge beskou.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Koning Nebukadnesar II het in 575 v.C. die Ishtar-poort laat oprig wat met gekleurde klip geplavei is. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Ontdekkings

Die Mesopotamiërs het ook in wiskunde en sterrekunde belanggestel. Hulle het, soos ons vandag, in tiene getel, maar ook in 60’s. Vandaar dat ’n sirkel in 360 grade verdeel is, ’n minuut 60 sekondes het en ’n uur 60 minute.

Die antieke Babiloniese en Sumeriese sterrekundiges het ook deeglike waarnemings van die beweging van die sterre gemaak. Sterrebeelde soos die Steenbok, Leeu en Boogskutter wat deur hulle geïdentifiseer is, is deur die Grieke oorgeneem en word vandag nog in sterrewiggelary gebruik.

Babiloniërs en Assiriërs

Die Sumeriese en Akkadiese beskawings is opgevolg deur die bekender beskawings van die Babiloniërs en Assiriërs.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Koning Nebukadnesar II was van 605 v.C. tot 562 v. C. die heerser van Babilon. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koning Nebukadnesar II was die heerser van Babilon wat die Hangende Tuine naby die antieke stad Nineve laat bou het. Deur die eeue is dit as een van die sewe wonders van die antieke wêreld beskou.

Hy het glo die Hangende Tuine, wat ’n terrasstruktuur van sowat 23 m hoog was, as geskenk vir sy koningin Amitis gegee sodat sy op die vlaktes van Babilon nie na haar bergagtige vaderland, Media (in die noordweste van die huidige Iran), verlang nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die eerste vorm van skrif is omstreeks 3000 v.C. in Meso­potamië deur die Sumeriërs ontwikkel en was ’n soort wigskrif wat op kleitablette gemaak is. Onder is deel van ’n inskrywing op die Ishtar-poort. Foto: Gallo Images/Getty Images

Agteruitgang

Die beskawingsgeskiedenis van Mesopotamië het sowat 6 500 jaar gelede begin en die Sumeriërs was voortdurend in oorlog gewikkel – onderling én teen vreemde magte. Ongeveer4 000 jaar gelede is die land finaal deur die Amoriete oorgeneem en die Sumeriese beskawing het deel van die omliggende beskawings geword. Vandag is die streek steeds in oorloë gewikkel en is talle van die argeologiese vondste en strukture totaal vernietig.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Hangende Tuine van Babilon was volgens oorlewering ’n geskenk van koning Nebukadnesar aan koningin Amitis. Dit was na aan die stad Nineve geleë. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Net enkele bouvalle is oor van dié eens magtigste antieke beskawing. 

Hul taal

Akkadies is ’n Semitiese taal wat in Akkad, Mesopotamië, gepraat is.

Die Akkadiese Ryk was ’n antieke Semitiese ryk wat om die stad Akkad en die omringende gebied gesentreer was.

Kopie: Cum Laude Media;
BRONNE: Dr. M. Nel in die departement Ou-Testamentiese wetenskap, fakulteit teologie, Universiteit van Pretoria; mieliestronk.com; cke.christians.co.za; history.com; ancienthistorylists.com; repository.up.ac.za; wikipedia.org; history.com; ancient.eu; britannica.com
Foto's: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES
Hulp met skooltake

 Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by Huisgenoot.com aflaai. Klik op Klaskamer op die keusebalk.