Ons kalender is grootliks op die son gegrond.
Ons kalender is grootliks op die son gegrond. Foto: Gallo Images/Getty Images

Mense het sedert prehistoriese tye na die elemente – die stand van die son, maan en sterre, die verandering in seisoen en die aanbreek van dag en nag – gekyk om die tyd te probeer lees.

Dié afleidings was onder meer nodig om nomadiese en boerdery-aktiwiteite te beplan of om heilige feeste te organiseer. Die vasstel van tye het in verskillende kulture tot die ontwikkeling van kalenders gelei.

Ons leer jou meer oor hoe dit gebeur het.

Vroeë beskawings

Die behoefte by ou beskawings soos die Egiptenare, Grieke en Romeine om tred te hou met die verloop van die dag en nag, het tot die skepping van sonwysers, waterklokke en ander vroeë tydmeters gelei.

Archimedes het die eerste waterklok met ratte in die 3de eeu v.C. in Griekeland gebou. In China het Su Song in 1088 in Kaifeng ’n astronomiese waterklok bekendgestel.

 Su Song se oorspronklike skets vir sy waterklok.
Su Song se oorspronklike skets vir sy waterklok. Dit is deur ’n groot waterwiel, kettingaandrywing en ’n slingerratmeganisme aangedryf.

In die Arabiese wêreld het Ibn Khalaf al-Muradi in die 11de eeu in Spanje en Ismail al-Jazari in die 12de eeu in Mesopotamië ook gesofistikeerde uurwerke gebou en in hul geskrifte beskryf.

Het jy geweet

Die eerste dag van die Romeinse maand, die dag van die nuwemaan, is die calendae genoem. Dit hou verband met die werkwoord calare (om uit te roep) omdat die begin van die maand só bekendgemaak is wanneer die Romeine die nuwemaan die eerste keer gesien het. Hiervan is ons woord kalender afgelei. 

 In die vroegste tye is sonwysers gebruik om die t
In die vroegste tye is sonwysers gebruik om die tyd te bepaal. Foto: Gallo Images/Getty Images

Westerse bydrae

Die Westerse beskawing het baie van hierdie tegnologie oorgeneem, maar teen die 13de eeu het meer betroubare uurwerke nodig geraak, en vakkundiges het toe die meganiese klokwerk uitgevind.

Dié horlosies het aan die basiese behoeftes voldoen, maar was nog onakkuraat en onbetroubaar en kon nie vir wetenskaplike berekenings gebruik word nie.

Sedert die uitvinding van die slingerklok in 1656 deur die Nederlander Christiaan Huygens was dié tipe uurwerk tot in die 1930’s die wêreld se akkuraatste tydtoestel.

Slingerklok
’n Weense slingerklok.

’n Slingerklok, wat met ’n pendulum (swaaiende gewig) werk, slinger heen en weer in presiese tydsintervalle.

Die tydmeters wat later in die tyd van die Industriële Revolusie ontwikkel is, het ’n oplossing gebied vir die groot probleem in die skeepvaart – om juiste tye te lees vir die berekening van ’n vaartuig se presiese posisie op see.

Slingerklokke het nie op skepe gewerk nie omdat ’n skip self heeltyd heen en weer wieg.

Die Brit John Harrison het egter die marinechronometer in die 1700’s ontwikkel wat dié probleem opgelos en grootliks tot Brittanje se oppergesag as seemag gelei het.

Eerste kalenders

 Waarnemings van die stand van die maan het al in
Waarnemings van die stand van die maan het al in die vroegste tye tot die ontstaan van kalenders gelei. Ons woord “maand” is afgelei van die benamings van dié hemelliggaam. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis moeilik om te sê watter kalender eerste gebruik is omdat dit waarskynlik ontstaan het nog voor die mens daaroor kon skryf. Die oudste kalender is vermoedelik die Egiptiese of Chinese kalender.

Dit was nie baie noukeurig nie. Die ou Egiptenare se kalender was op die maan gegrond. Later het die Egiptenare ’n kalender uitgewerk wat presies met die seisoene ooreenstem.

Hulle het die jaar in 12 maande gedeel met 30 dae elk – en vyf ekstra dae aan die einde. Die Sumeriërs van ou Mesopotamië (Irak) het ook ’n kalender met 12 maan-maande gebruik.

Hulle het ongeveer elke vierde jaar ’n ekstra maand bygevoeg. Dié kalender het as ’n model vir die vroeë Griekse en Joodse kalenders gedien.

Ooreenkomste

Verskeie tydseenhede kom in byna alle kalenders voor. Die dag – die tydsduur van die aarde se rotasie om sy eie as – is die basiesste eenheid.

Die week bestaan uit sewe dae. Dis te danke aan die Babiloniërs wat op sewe dae besluit het omdat hulle sewe hemelliggame kon waarneem: die son, maan, Mercurius, Venus, Mars, Jupiter en Saturnus.

Hoewel die Egiptenare aanvanklik ’n week met 10 dae en die Romeine ’n week met agt dae gehad het, het die meeste beskawings mettertyd die sewedagweek oorgeneem.

Die maand stem ooreen met die maan se fases. Dit neem die maan 29,5 dae om rondom die aarde te wentel. Die jaar is gegrond op die siklus van die seisoene.

Dit is 365,25 dae lank – die duur van die aarde se rotasie om die son. Dis egter nie so maklik om maande in ’n jaar te laat inpas nie. Dis omdat die maand op die maan en die jaar op die son gegrond is.

Twaalf kringlope van die maan neem 354 dae, nie 365,25 nie. Dit is nodig om dae by die maande te voeg om hulle te laat pas en daarom verskil ons kalendermaande in lengte.

Alle maande, behalwe Februarie, is langer as 29 dae om te vergoed vir die 11 bykomende dae van die sonjaar. Om dieselfde rede voeg ons elke vierde jaar (skrikkeljaar) ’n dag by Februarie.

Juliaanse kalender In die jaar 45 v.C. het die Romeinse keiser Julius Caesar ’n nuwe kalender bekendgestel. Die een wat tot in daardie stadium gebruik is, was ’n kalender wat die Grieke van die Egiptenare oorgeneem en verbeter het.

Die Egiptiese kalender het 365 dae gehad.

Julius Caesar het die skrikkeljaar ingevoer omdat die ou kalender ’n klein afwyking gehad het. Die ou kalender het getoon dat die jaar 365 dae het, terwyl daar 365,25 dae in ’n jaar is.

Daardie kwartdag het dus veroorsaak dat die kalender elke vier jaar een dag agtergeraak het. Dit kon oor ’n aantal jare tot ’n groot agterstand lei. Caesar het ook besluit die jaar sal nie meer op 1 Maart begin nie, maar op 1 Januarie.

Hierdie besluit van die keiser het veroorsaak dat die nuwe jaar daardie eerste keer ná die instelling van die Juliaanse kalender ’n allemintige 455 dae lank was!

Gregoriaanse kalender

Gregoriaanse kalender
Gregoriaanse kalender.

Die Gregoriaanse kalender is doodeenvoudig net ’n klein aanpassing van die Juliaanse een omdat die mense ná honderde jare agtergekom het die dae wyk weer af. Dit het geblyk die jaar is nie presies 365,25 dae lank nie, maar duur eintlik 365,2425 dae.

Dit het daartoe gelei dat die Juliaanse kalender elke 1 000 jaar met agt dae afwyk. Die Gregoriaanse kalender is in die jaar 1582 ingevoer en is na pous Gregorius XIII genoem wat aan die spits van die verandering was.

Die kalender moes aangepas word deur verskeie skrikkeljare te verwyder en die datum aan te skuif om weer korrek te wees ná die groot afwyking wat duidelik geword het ná die 16 eeue lange gebruik van die Juliaanse kalender.

Die Gregoriaanse kalender verbeter die Juliaanse benadering deur drie Juliaanse skrikkeldae elke 400 jaar oor te slaan. Die kalender wat ons vandag gebruik, sal dus ’n fout van een dag elke 3 000 jaar oplewer.

Ander kalenders

Ethiopië gebruik ’n kalender met 13 maande wat sewe jaar agter die Gregoriaanse kalender is. Ethiopiërs het die nuwe millennium dus op 11 September 2007 gevier.

Ethiopiese kalender
Ethiopiese kalender.

Die Islamitiese maankalender het in die jaar 622 begin, maar dit is uit pas met die sonjaar.

Volgens dié kalender is dit nou die jaar 1442. Die Joodse kalender word op sy beurt bereken vanaf die “skeppingsjaar” van die aarde.

Dit is ’n kalender wat op die son en maan gegrond is, met ’n ekstra maand wat van tyd tot tyd ingevoeg word. Vanjaar (tot September) is ons in die Joodse jaar 5781.

Joodse kalender
Joodse kalender. Foto: Wikipedia

Leer hier nog:

Kyk na hierdie video vir meer besonderhede oor die kalender se geskiedenis.

Teks: Cum Laude Media; Bronne: wetenschap.infonu.nl, kids.britannica.com, egardwatches.com, discoverymagazine.com, islamicfinder.org, wikipedia.org
Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.