Kelp
Party kelp het lugblase (pneumatosiste) sodat hulle kan dryf en regop bly in die rigting van die son. Foto: Gallo Images/Getty Images

Lig, lug, water, voedingstowwe en ruimte om te groei. Dít is wat plante nodig het om te kan lewe. Plante is weer noodsaaklike kos vir mens en dier.

Die proses wat plante gebruik om die energie van sonlig in voedsel om te skakel, staan bekend as fotosintese, en dit vind plaas in die groenste dele van ’n plant.

Suurstof is ’n afvalproduk van fotosintese. Om te kan asemhaal, het mens en dier suurstof nodig. Alle lewe op aarde vind in die biosfeer plaas. Dit is ’n baie dun laag rondom die aarde wat lewende dinge asook die omgewing insluit wat hulle onderhou.

Die biosfeer sluit die litosfeer (grond en rotse), hidrosfeer (water) en atmosfeer (gasse) in. Die hidrosfeer sluit alle akwatiese watervorme – sout- en varswater – op aarde in.

Die woord akwaties kan omskryf word as alles wat met water te doen het, terwyl die woord mariene spesifiek gebruik word om organismes te beskryf wat in soutwater, dus in die see of oseane, leef. Daar is drie soorte mariene biome, naamlik die oseaan, koraalriwwe en riviermondings.

Lewende dinge is aangepas om in hul omgewing, of habitat, te oorleef aangesien die natuurlike habitat alles bevat wat die organisme nodig het om te kan voortbestaan.

’n Groot deel van die lewe op aarde kom in oseane voor. Dit sluit plante in. Maar hoe gemaak met ’n plant wat lig, lug en water vol voedingstowwe met genoeg ruimte vir groei benodig en waarvan die natuurlike habitat onder water, en boonop soutwater, is?

Seewier floreer tussen mossels op die rotse, al wo
Seewier floreer tussen mossels op die rotse, al word dit twee keer per dag blootgestel aan die beweging van die branders en die hitte van die son. Foto: Gallo Images/Getty Images

OSEANE AS ’N HABITAT VIR PLANTE

In oseane, wat sowat 71% van die aarde se oppervlak beslaan, is die toegang tot lig én lug vir seeplante – wat ook fotosinteer – uitdagender as vir plante op land. Wetenskaplikes reken tog dat 50% tot 80% van alle suurstof wat op aarde vervaardig word juis vanaf die oseaan kom.

Die derduisende verskillende soorte plante wat oseane hul tuiste noem, is goed aangepas om die groot hoeveelhede sout in die water te weerstaan, maar ook die min sonlig diep onder die water optimaal te benut.

Hierdie seeplante, wat almal ook beïnvloed word deur die water se temperatuur, speel ’n belangrike rol in die vervaardiging van suurstof en die beskerming van sekere waterdiere teen roofdiere (insluitend die mens!) en dien as voedselbron vir ander.

Met laagwater is dit maklik om groen alge te sien
Met laagwater is dit maklik om groen alge te sien wat op rotse groei. Foto: Gallo Images/Getty Images

SOORTE SEEPLANTE

Hoewel daar duisende verskillende soorte plante in die oseane leef, kan hulle in twee afdelings verdeel word, naamlik dryfplante en wortelplante.

Drywende plante dryf in die water naby die oppervlak, terwyl wortelseeplante toegang tot sonlig moet kan verseker en dus in vlakker water of naby die kus groei. Hierdie boonste sonligsone word ook die epipelagiese sone genoem.

Seewiere

Seewiere word gebruik as ’n versamelnaam vir ’n groot verskeidenheid spesies (sowat 11 000) plante en alge – van piepklein mikroskopiese plantjies tot reusagtige plante van tot 50 m lank in onderwaterwoude!

Seewiere is eenvoudige plante wat fotosintetiseer. Hulle groei op rotse, in riviermondings en op riwwe. Seewiere kan in drie groepe verdeel word, naamlik rooi, bruin en groen alge. Die kleur hang af van hoeveel sonlig die seewier deur fotosintese kan absorbeer.

Seewier is ook ’n baie gewilde superkos en word baie in geregte van lande soos Japan, China en Korea gebruik. Soesji-liefhebbers ken hierdie voedsame seegroente, maar dit word ook in sop, slaai, smoothies en bredies gebruik.

sjoesjie
In Japan is soet en suur seewierslaai asook soesji wat in nori (gedroogde seewier) toegerol is baie gewild. Foto: Gallo Images/Getty Images
Seewiere
In Wallis eet mense graag seewierpulp wat stadig gekook is.
Seewier is ryk aan minerale – veral jodium en yste
Seewier is ryk aan minerale – veral jodium en yster.

  • Kelp, ’n soort seewier, is iets besonders. Daar is meer as 30 verskillende soorte kelp. Dit word as die grootste seeplant beskou en is boonop die vinnigs groeiende plant. Kelp kan tot meer as 50 m hoog word en groei elke dag tot 30 cm. In ideale toestande kan dit tot 60 cm op een dag groei. Kelp is deel van die bruin alge. Dit hou van die koeler kusdele en is ryk aan minerale en spoorelemente. Dit groei op ’n diepte van 6 tot 20 m, maar in helder water kan dit tot 80 m wees. Kelp groei in “woude” en is baie nuttig vir mens en dier. Dit bied nie net ’n veilige skuilplek vir seediere nie; dit word ook kommersieel gebruik in produkte soos tandepasta, sjampoe, slaaisous, nageregte, koek, bevrore kosse en farmaseutiese produkte.
’n Nasa-satellietfoto van ’n groep fitoplankton in
’n Nasa-satellietfoto van ’n groep fitoplankton in die Barentssee wat so groot is dat dit uit die ruimte gesien kan word. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Plankton

Die “superster van die see” is beslis die plantaardige plankton wat fitoplankton genoem word. Hierdie mikroskopiese eensellige alge gebruik die son se energie om suurstof te vervaardig.

Dit vorm die basis van die see se voedselkringloop en word deur soöplankton (dierlike plankton), krappe, garnale en mossels gevreet.

Hulle kom voor in die epipelagiese sone en is baie sensitief vir enige veranderinge in hul omgewing soos watertem- peratuur, die PH-vlakke en soutgehalte. Hulle is drywend.

  • Seegras is ’n blomplant (met blare, wortels, blomme en sade) wat in ’n mariene omgewing leef. Hierdie mariene plant, wat miljoene jare gelede op land gegroei het, groei in groepe en vorm grasbeddings op die bodem. Seegrasse het baie lig nodig en die diepte waarop hulle voorkom, word grootliks daardeur bepaal. Seegrasbeddings bied ’n belangrike habitat vir ’n verskeidenheid seelewe soos seeskilpaaie, krappe en krewe, wat weer voed op diere wat in die beddings leef. Daar is sowat 60 verskillende spesies seegrasse. Seegrasse, wat aan die seebodem vasheg deur ’n dik wortelstelsel, filtreer aflope van varswater en grond en verseker dat water helder en gesond is. Die seegras verskaf ook suurstof. Die stuifmeel kan ander seeplante bestuif, en seegras dien ook as voedsel vir talle seediere en visse. Die seegrasbeddings kan so groot wees dat dit selfs vanuit die ruimte gesien kan word!
In die Galápagoseilande gaan mariene iguanas ­onde
In die Galápagoseilande gaan mariene iguanas ­onderwater om seeplante en alge te eet. Foto: Gallo Images/Getty Images

Mangrovewoude

Die bome in mangrove-woude is mariene plante. Hierdie tropiese bome kom gewoonlik naby of in die water voor en is so aangepas dat dit soutwater kan filtreer.

Die boom se blare kan dan die sout uitskei sodat hulle kan oorleef waar ander plante nie kan nie. Die mangrove het ’n baie ingewikkelde wortelnetwerk wat teen erosie help.

Dit bied ook blyplek vir talle voëls, visse en ander seelewe. Mangroves verwyder tot 10 keer soveel koolstof as soortgelyke reënwoude.

Die onderwaterwortelstelsel van die mangrove-­woud
Die onderwaterwortelstelsel van die mangrove-­woude in Indonesië. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koraalriwwe

Hulle is nie plante nie; dis eerder ’n ekosisteem wat uit koraalpoliepe (klein seediertjies) bestaan wat in simbiose met alge voortbestaan.

Ander akwatiese plante soos seegrasse, mangrove-woude en piepklein alge, Soöxantellas (’n enkelsellige soort alge), kan in die warm vlak water van koraalriwwe aangetref word.

Met minder as 20% van die seebodem wat al deur die mens ontdek, ondersoek en gedokumenteer is en net 5% waarmee ons goed bekend is, weet ons nie watter soorte plante daar nog in die donkerkamers en diep onder op die seebodem wag dat ’n volgende generasie hulle ontdek nie.

Leer hier nog

Kyk gerus na die volgende video om nog te leer oor plante onder die see: bit.ly/ seeplante.

Bronne: mstworkbooks.co.za, worlds-exotic-beaches.com, sciencing.com, thunderboltkids.co.za, kids.frontiersin.org, oceanservice.noaa.gov, leisurepro.com, oceanservice.noaa.gov, capenature.co.za, af.mapleplainfc.com, af.leskanaris.com, sciencedaily.com, sciencing.com; mieliestronk.com, oceana.org, letstalkscience.ca, britannica.com