Met ’n oppervlak van meer as 5,5 miljoen km² is die Amasone die grootste ongerepte reënwoud op aarde. Dit beslaan sowat 40% van Suid-Amerika. Die Amasone strek oor nege lande – Peru, Ecuador, Colombia, Venezuela, Brasilië, Bolivië, Guyana, Suriname en Frans-Guinee.

Die ontbossing van die Amasone kan hier in die Bra
Die ontbossing van die Amasone kan hier in die Brasiliaanse deelstaat Maranhão duidelik gesien word.

Nagenoeg 35 miljoen inwoners is van dié reënwoud afhanklik vir kos, water en grondstowwe. Sowat 9% van die bevolking bestaan uit inheemse groepe. Sommige gemeenskappe het nog nooit met die buitewêreld kennisgemaak nie.

Unieke natuurlewe

Jy sal 10% van alle bekende plant- en diersoorte wêreldwyd in dié streek aantref, asook 5% van alle voëlspesies.

Reusebome maak plek vir lanbougrond. Foto: Gallo Images/Getty Images
Reusebome maak plek vir lanbougrond. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die reënwoud is die tuiste van 427 soorte soogdiere, 1 300 voëlspesies, 378 soorte reptiele en meer as 400 spesies amfibieë. Die Amasone­rivier is byna 7 000 km lank en bevat die grootste aantal varswatervisse ter wêreld. 

Hier is ’n klompie van die Amasone se interessantste dierespesies:

Die reusemiervreter se tong kan tot 45 cm lank word. Daarmee kan hy diep in miershope sy prooi vang.
Die reusemiervreter se tong kan tot 45 cm lank word. Daarmee kan hy diep in miershope sy prooi vang.

Die kapibara (Hydrochoerus hydrochaeris) lyk amper soos ’n groot bruin marmot en is die grootste knaagdier op aarde. Hulle staan sowat 600 cm hoog by die skouers en kan digby 70 kg weeg.

Hulle bly saam in troppe naby water. 

Die reusemiervreter (Myrmecophaga tridactyla) is die grootste van die vier lewende miervreterspesies en word oor die 2 m lank. Hul opvallendste kenmerk is die baie lang snoet waarmee hulle goggas soos termiete opslurp.

Die groen likkewaan is gewild as ’n eksotiese troe
Die groen likkewaan is gewild as ’n eksotiese troeteldier.

Die groen likkewaan is gewild as eksotiese troeteldier. Hulle is plantvreters en die mannetjies kan langer as 2 m word.

Die harpy-arend (Harpia harpyja) is ’n donkergrys roofvoël met kenmerkende kopvere. Wyfies is byna twee keer so groot as die mannetjies. Hul pote kan so dik soos ’n klein kind se arms wees en die kloue is skrikwekkend.

Die goue leeuapie is ’n bedreigde spesie.
Die goue leeuapie is ’n bedreigde spesie.

Die goue leeuapie (Leontopithecus rosalia) kry sy naam van sy goudrooi pels en indrukwekkende maanhare. Hulle word tot 25 cm lank, maar die stert kan tot 38 cm lank wees. Dis ’n bedreigde spesie.

Die anakonda is die grootste, swaarste en kragtigste slang ter wêreld. Hulle kan oor die 9 m lank word en tot 250 kg weeg. Hulle is nie giftig nie, maar kan hul prooi doodwurg.

Die glaspadda is lemmetjiegroen van kleur, maar die onderkant is deursigtig. Jy kan sy organe sien – en selfs hoe die hart pomp en kos deur sy binnegoed beweeg.

Die Jesusbasilisk (Basiliscus basiliscus) is ’n reptiel wat naby riviere en strome hou.Sy naam kom van sy vermoë om met behulp van gewebde tone op water te hardloop om van sy vyande te ontsnap.

’n Luidier doen alles stadig – ook wanneer hy eet.
’n Luidier doen alles stadig – ook wanneer hy eet.

Die luidier is ’n baie stadige soogdier wat in bome bly en tot 10 uur per dag slaap. Hulle eet hoofsaaklik blare wat min energie verskaf; daarom beweeg hulle so stadig. Alge op die pels gee hulle ’n groen tint wat as kamoeflering dien.

Die Amasonerivierdolfyn (ook genoem die boto- of pienk rivierdolfyn – Inia geoffrensis) is silwergrys, maar word pienk wanneer hulle ouer word.

Die Amasonerivierdolfyn.
Die Amasonerivierdolfyn.

Hulle word tot 3 m lank en kan tot 160 kg weeg. Hul sig is swak, maar hulle kan hul weg in die troebel water vind danksy die weerkaatsing van die hoë geluide wat hulle maak.

Die ara is ’n kleurvolle papegaai met ’n lang stert. Hulle is intelligente, sosiale voëls en bly lojaal aan hul maat tot een van die paar afsterf. Hulle kan neute en sade met hul sterk snawel kraak en kan geluide soos menslike spraak na-aap.

Aras is kleurvolle papegaaie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Aras is kleurvolle papegaaie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Aras word van ander papegaaie onder­skei deur hul groter snawels, lang sterte en relatief kaal, ligkleurige gesigskolle. 

Die jaguar lyk baie soos ’n luiperd.
Die jaguar lyk baie soos ’n luiperd.

Die jaguar (Panthera onca) is ’n katagtige soogdier met kolle op die pels wat baie soos ’n luiperd lyk hoewel hy gewoonlik groter en sterker is. Hulle jag alleen en klim in bome om uit te kyk vir hul prooi. Jaguars hou van swem.

Bosbrande

Die Amasone is nie altyd ’n veilige hawe vir al sy plante en diere nie. Elke jaar gaan groot stukke reënwoud in vlamme op. Nadat bosbrande in die Amasone in 2019 wêreldwyd die aandag getrek het, het dié probleem in 2020 selfs vererger.

Die Amasonereënwoud is hier naby Charagua, Bolivië
Die Amasonereënwoud is hier naby Charagua, Bolivië, in ligte laaie.

Die meeste van dié brande het nie natuurlike oorsake (soos weerlig) nie, maar word opsetlik gestig om die grond oop te maak vir landbou­aktiwiteite.

Ander bedreigings

Ontbossing behels die uitkap of afsaag van bome. In die Amasone is die hoofdoel hiervan om plek te maak vir veeboerdery en klein­skaalse landbou. Groot plantasies word ook aan die reënwoud se randgebiede aangelê; daarvoor word bome op groot skaal verwyder.

Daar word veral palmbome vir die produksie van palm­olie asook soja aangeplant.

Damme met waterkragsentrales word oral in die Amasone se riviere gebou. Dit sper die riviere af en versteur die natuurlike afloop van water en sediment. Dit kan tot die uitwissing van akwatiese spesies soos die rivierdolfyn lei.

Waar die damme in beskermde gebiede en in die gebied van inheemse volke gebou word, kan dit ook groot ontwrigting veroorsaak.

Paaie moet ook aangelê word om die nuwe plase, plantasies en damme met die buitewêreld te verbind. Sodoende word die oerwoud selfs toegankliker vir nog inkommers om verder bome af te kap en brande te stig.

’n Lugfoto van die Amasonereënwoud. Foto: Gallo Im
’n Lugfoto van die Amasonereënwoud. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Goudsoekers wat onwettig myn, is ook op baie plekke in die Amasone bedrywig. Hulle gebruik kwik in die proses om goud te ontgin, en die kwik besoedel die mere, riviere en grondwater.

Dis nie net sleg vir die diere en plante nie; dit bedreig ook die inwoners se gesondheid. Hulle kan onder meer vergiftig word deur die vis wat hulle in die besoedelde water vang.

Hoekom is dit belangrik om die Amasone te red?

Die Amasonereënwoud is ’n belangrike koolstofstoorgebied wat die pas van aard­verhitting kan vertraag. Bome help om die vlak van besoedeling in die atmosfeer te verminder. Koolstofdioksied (CO2) is ’n gas wat deur natuurlike en menslike bronne vrygestel word.

Die mens het die afgelope eeu en ’n half enorme hoeveelhede CO2 in die lug ingepomp weens die verbranding van fossielbrandstowwe soos steenkool, olie en gas.

Inheemse mense van Vale do Javari, Brasilië. Van hulle betoog gereeld teen die vernietiging van die woud. Foto: Gallo Images/Getty Images
Inheemse mense van Vale do Javari, Brasilië. Van hulle betoog gereeld teen die vernietiging van die woud. Foto: Gallo Images/Getty Images

Onder natuurlike toestande verwyder plante CO2 uit die lug en absorbeer dit vir fotosintese. Die koolstof help die plant om te groei en die plant stel dan weer suurstof in die atmosfeer vry.

Sonder dié woude kan klimaatsverandering dus in die toekoms vererger. Wanneer woude brand, word die koolstof wat in bome geberg is in die atmosfeer vrygestel.

Dit is ’n proses wat katastrofiese gevolge vir die mensdom sal hê.

Bronne: wwf.nl, worldatlas.com, britannica.com, pretoriazoo.org, sandiegozoo.org, nationalgeographic.com, nasa.gov, wikipedia.org; FOTO'S: GALLO IMAGES/ALAMY, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES
Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai