’n Hawe is ’n veilige plek aan die kus of langs ’n groot meer of bevaarbare rivier waar skepe kan aandoen.

Dis beskerm teen groot golwe en seestrome. As die hawe in ’n inham geleë is, noem ons dit ’n natuurlike hawe. Kunsmatige hawens kom voor waar die mens seemure en hawehoofde (keerwalle) bou om die hawegebied kalm te hou.

In groot hawens laai skepe goedere in en uit. Daar is ook hawens wat toegespits is op woonbote, vissersbote en -geriewe en hawens wat plek het vir groot passasierskepe.

Ons kyk na die heel grootste hawens.

Doel

Die hoofdoel van groot hawens is om goedere wêreldwyd te verskeep. Nog ’n doel – veral in vroeër jare voor lugvervoer – is om mense te vervoer.

Daarom het talle van die wêreld se grootste stede rondom ’n besige hawe tot stand gekom. Dink maar aan groot kusstede in Suid-Afrika, soos Kaapstad en Durban.

Die Shanghaihawe is die besigste hawe ter wêreld.
Die Shanghaihawe is die besigste hawe ter wêreld. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Verkeer

Hawens word ingedeel volgens die verskillende soorte verkeer wat daar hanteer word. ’n Nywerheidshawe spits hom toe op grootmaatvrag soos graan, suiker, ystererts, steenkool, olie, chemikalieë en soortgelyke produkte.

’n Kommersiële hawe hanteer algemene vragte soos verpakte produkte en vervaardigde goedere, asook passasiersverkeer. Omvattende hawens hanteer grootmaat- en algemene vragte in groot getalle.

Eenhede

Dis nie altyd so maklik om die data oor vragverkeer in hawens met mekaar te vergelyk nie.

HET JY GEWEET? Die Duisburghawe diep in Duitsland aan die Rynrivier word as die wêreld se grootste binnelandse hawe gereken. Meer as 20 000 skepe doen hier aan en dokwerkers hanteer sowat 40 miljoen ton goedere per jaar.

Die vragte se tonnemaat, algehele massa of volume (vir vloeibare vrag) kan nie geredelik direk met mekaar vergelyk word of in ’n enkele gestandaardiseerde eenheid omgeskakel word nie.

Die Duisburghawe diep in Duitsland aan die Rynrivi
Die Duisburghawe diep in Duitsland aan die Rynrivier.

TEU

’n Nuttige maar onpresiese eenheid is die TEU (twenty-foot equivalent unit) wat vragskepe en vraghouerhawens help om kapasiteit te bepaal.

Dit is gegrond op die volume van die 20 voet (6,1 m) lange vraghouer, ’n standaardgrootte-metaalboks wat maklik tussen verskillende vervoermiddels soos skepe, treine en vragmotors oorgelaai kan word.

Die TEU is gegrond op die vraghouer se lengte, maar die houer se hoogte kan wissel (en daarom is die TEU onpresies).

Die hoogte wissel tussen 1,3 m en 2,9 m, maar die algemeenste hoogte is 2,59 m. As die vraghouer 40 voet lank is, word dit as 2 TEU beskou.

Die passasierskip Norwegian Getaway vertrek uit d
Die passasierskip Norwegian Getaway vertrek uit die Rotterdamhawe. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Besigste hawens volgens vraghouerverkeer (gegrond op jongste beskikbare data uit 2018)

  • Shanghai (China) – 43,3 miljoen TEU
  • Singapoer (Singapoer) – 37,2 miljoen TEU
  • Ningbo-Zhoushan (China) – 27,5 miljoen TEU
  • Shenzhen (China) – 25,8 miljoen TEU
  • Guangzhou (China) – 23,2 miljoen TEU
  • Busan (Suid-Korea) – 22 miljoen TEU
  • Qingdao (China) – 21 miljoen TEU
  • Hongkong (China) – 18,4 miljoen TEU
  • Tianjin (China) – 17,3 miljoen TEU
  • Rotterdam (Nederland) – 14,8 miljoen TEU

Besigste hawens volgens tonnemaat (gegrond op jongste beskikbare data uit 2017)

  • Ningbo-Zhoushan (China) – 1 077 110 kiloton
  • Shanghai (China) – 705 630 kiloton
  • Singapoer (Singapoer) – 626 170 kiloton
  • Suzhou (China) – 607 740 kiloton
  • Guangzhou (China) – 566 190 kiloton
  • Tangshan (China) – 565 400 kiloton
  • Qingdao (China) – 507 990 kiloton
  • Port Hedland (Australië) – 505 330 kiloton
  • Tianjin (China) – 502 840 kiloton
  • Rotterdam (Nederland) – 467 350 kiloton

Die meeste van die grootste hawens is in China. Dit hang saam met China se opkoms as ekonomiese mag.

Invoer en uitvoer is van kardinale belang vir dié land met sy 1,4 miljard mense.

Enkele reusehawens van nader betrag

Die Shanghaihawe in China het in 2010 die wêreld se besigste hawe geword nadat hy die Singapoer-hawe verbygesteek het.

Dié hawe aan die Oos-Chinese See het in 1842 begin sake doen en is tans onder die bestuur van die Shanghai International Port Group, wat die hawe as diepsee- en rivierhawe bedryf.

Die hawe het sy groei te danke aan sy ligging by die sameloop van die Yangtze-, Huangpu- en Qiantangrivier.

Die Singapoerhawe het in 1819 sy begin gehad toe sir Stamford Raffles ’n nuwe Britse kolonie aangelê het rondom die Keppel- natuurlike hawe. Dit was tot 1963 deel van die Britse Ryk.

Die Singapoerhawe is sedert 2010 die naasgrootste hawe wat TEU-verkeer betref; dis ook die grootste oorlaaihawe.

’n Vyfde van die wêreld se vraghouers word hier verskeep en byna die helfte van die wêreld se ruolie. Skepe doen aan vanuit die Indiese Oseaan, Stille Oseaan en die Straat van Singapoer.

Die terminusoperateurs val onder die haweoperateurs PSA (Port of Singapore Authority) en Jurong Port. Die hawe het ook ’n gespesialiseerde terminus vir groot plesierbote.

Die Busanhawe is Suid-Korea se grootste hawe en is in die monding van die Nakdongrivier. Die hawe is nie ver van Japan af nie en het in 1876 as ’n klein hawe vir beperkte handel tussen Korea, China en Japan tot stand gekom.

Vraghouerhyskrane word gebruik om die vraghouers o
Vraghouerhyskrane word gebruik om die vraghouers op en van skepe af te laai. Die vraghouers het ’n gestandaardiseerde grootte. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dit het mettertyd gegroei tot die reus wat hy vandag is. Die Busan Port Authority (BPA) is sedert 2004 in beheer van die hawe, wat eintlik uit vier dele bestaan, asook ’n passasiersterminus en die Gamman-vraghouerterminus.

Die Busanhawe het ’n vismark en is die grootste vissersbasis in die land.

Die Hongkonghawe is in die natuurlike hawe van Victoria in die Suid-Chinese See. Die gebied het in 1842 in Britse besit gekom nadat Brittanje in sy Eerste Opiumoorlog teen China as oorwinnaar uit die stryd getree het.

Die gebied met sy belangrike hawe was tot in 1997 in Britse besit. Die hawe is nou onder beheer van die Port Operations Committee en China se maritieme departement.

Verskeie maatskappye bedryf die nege haweterminusse, insluitend aanlêplekke vir vraghouerskepe, regeringsvlote en skepe wat herstel en onderhou moet word.

Die Rotterdamhawe in Nederland is Europa se grootste hawe wat vragverkeer betref. Dis in die rivierdelta gevorm deur die samevloeiing van die Ryn, Maas en Schelde.

Daar is vyf filiaalhawens wat onder die sentrale haweowerheid val.

Die Rotterdamhawe word as een van die wêreld se tegnies gevorderdste hawens beskou met ’n geoutomatiseerde stelsel wat byna alle aspekte van die hawebedrywighede beheer. Havenbedrijf Rotterdam NV is die haweowerheid in beheer van sake.

Die petrochemiese bedryf is baie belangrik in dié hawe, asook algemene vragoorlaai-aktiwiteite.

Die hawe dien as ’n transitopunt vir die vervoer van grootmaatvrag en ander goedere tussen Europa en die res van die wêreld.

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai