As jy in Suid-Afrika woon, sal jy verskoon word as jy dink alle wol kom van skape.

Want hoewel skape die hoofwolbron is en Suid-Afrika 2-3% van die wêreld se wol verskaf, is daar verskeie diere insluitend bokke, hase, kamele en alpakkas wat wol verskaf.

Die buitelaag van ’n skaap se vag kan nogal vuil w
Die buitelaag van ’n skaap se vag kan nogal vuil wees. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Waar sysagte wol gewilder is vir truie, musse, serpe en sokkies, word sterker wol weer vir matte gebruik. Suid-Afrika voorsien in al hierdie behoeftes.

WAAR KOM SKAAPWOL VANDAAN?

Die storie van wol is amper so oud soos die berge. Argeologiese bewyse uit Iran toon dat skape reeds 5 000 jaar gelede vir hul wol begin teel is. Die vroegste wolklere wat al gevind is, is tussen 3 500 en 6 000 jaar oud. Skape is reeds deur die mense van die Steentydperk vir kos en klere gebruik.

Die eerste skape in Suider-Afrika is so 2 000 jaar gelede uit die noorde hiergeen gebring deur Khoisan-jagters. Hierdie skape was voorgangers van die inheemse Kaapse vetstert­skaap.

Baas van die plaas! Die merino­skaap is een van di
Baas van die plaas! Die merino­skaap is een van die gewildste en bekendste skaap- rasse ter wêreld en veral gewild vir sy wolgehalte. Die eerste merinoskape het in 1789 in Kaapstad poot aan wal gesit. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Met Jan van Riebeeck se koms in die Kaap moes hy verseker dat daar onder meer vars vleis vir verbygaande skepe beskikbaar was en die nomadiese trekgewoontes van die Khoisan was te sporadies en onvoorspelbaar om ruilhandel suksesvol te kon instel.

Kommissaris Ryckloff van Goens is getaak met die invoer van skape en reeds in 1657 is 10 wolskape ingevoer. Hul hoofdoel was egter vleisproduksie, en hoewel hulle wolskape was, is hulle gekruis met die harige inheemse skape.

Die wolbedryf in Suid-Afrika dateer uit 1789 toe daar ses Spaanse merinoskape in die land aangekom het. Die destydse militêre bevelvoerder van die Kasteel was ene kolonel Robert Jacob Gordon wat wou verseker dat dié ras nie met die plaaslike skape verbaster nie.

Die merino was baie gewild as wolskaap vir die helderheid, fynheid en sterkte van sy wol. Gordon het die skape op die Kompanjie se plaas Groenkloof naby Mamre in die Kaap aangehou. Die skape het uitstekende wol gelewer, goed aangepas en vinnig vermeerder.

Wol word gebruik in beskermende klere van renjaers
Wol word gebruik in beskermende klere van renjaers, brandbestryders en ook metaalgieters. Foto: Gallo Images/ Getty Images

In 1820 het die Britse Setlaars die wolbedryf uitgebrei na die oostelike Kaapprovinsie, en die Groot Trek het verseker die merinoskaap word verder die binneland in gevestig.

Eers in die tweede helfte van die 19de eeu het skaapboerdery groot vordering begin maak. Met die ontdekking van goud en minerale het die mynbedryf ’n belangrike mark vir vleis en ander produkte geskep.

WAAROM IS WOL GEWILD?

Wol is sag, snoesig en rekbaar en hou mens (en dier!) warm. Wol, ’n natuurlike stof, kan “asemhaal”, wat beteken dit absorbeer die vog wat die liggaam kan afgee, iets wat sintetiese materia­le nie kan doen nie.

Wol hou sy vorm goed en is maklik om skoon te maak. Boonop kreukel wol nie so maklik nie en hoef wolklere min gestryk te word.

Wol word gewoonlik vooraf gekrimp en is brandtraag en word daarom gebruik in beskermende klere vir renjaers, brandbe­stryders en metaalgieters.

HET JY GEWEET?

Die vesels of fynheid van wol word in mikrometer gemeet. Hoe kleiner die mikrometer, hoe sagter is die wol. Dit bepaal ook die prys van die wol.

Die meeste wol in Suid-Afrika kom van die Oos-Kaap en die Vrystaat.

Suid-Afrika lewer sowat 45 miljoen kg se wol per jaar waarvan 90% uitgevoer word.

Daar is nagenoeg 15 miljoen wolskape in Suid-Afrika en die waarde van die wol is sowat R5 miljard per jaar.

Dit isoleer jou ook teen die koue en word deur bergklimmers en is vroeër selfs deur ruimtevaarders gebruik om hulle teen die ysige koue te beskerm.

Dis dikwels vooraf behandel om insek- en muf­bestand te wees. Wol kan jou selfs warm hou al is dit klam. Dit alles maak wol die ideale vesel vir komberse, truie, musse, handskoene, serpe en sokkies. 

HOE WORD SKAAPWOL VERVAARDIG?

Skaapboere skeer hul skape gewoonlik een of, in warm dele, twee keer per jaar. Dit is nie slegs om finansiële redes nie.

Om skape gesond en gelukkig te hou, moet hulle gemaklik deur die verskeie seisoene kan gaan. Skape kan nie meer natuurlik van hul wol ontslae raak nie.

Dit is oor jare uit hulle geteel. Dit beteken hulle is afhanklik van mense om hulle te skeer.

Skape wat nie geskeer word nie, se wol sal te swaar raak en die skaap, wat nie sy eie liggaamstemperatuur suksesvol kan reguleer nie, kan van hitteuitputting vrek.

Die skaap se vel word met miljoene wol­vesels bedek wat hom teen die elemente (veral koue) beskerm. Dit staan as die vag bekend.

Ná die koue winterseisoen het skape nie meer hul dik wolbedekkings nodig nie en die skeerproses bring dus groot verligting vir die skaap.

SKEER

Die skeerproses verwyder die vag. Foto: Gallo Imag
Die skeerproses verwyder die vag. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Goeie skaapskeerders kan daagliks tot sowat 200 skape skeer. Die proses, wat met ’n elektriese of handskêr gedoen word, vereis ’n sterk rug en goeie armspiere.

Skaap­skeerders probeer die vag in een stuk afsny deur lang, gladde hale te gebruik. Hierdie pro­ses maak nie die dier seer nie en kan met ’n goeie haarsny vergelyk word.

Die vag van ’n merino weeg gemiddeld sowat 4,5 kg. Nadat die skape geskeer is, stuur die meeste boere hulle so gou moontlik – nadat enige snyplekke genees het – vir ’n goeie ontsmetting in ’n dip om hulle gesond te hou.

SORTEER EN KLASSEER

Tydens die klasseringsproses word gekyk na die hel
Tydens die klasseringsproses word gekyk na die helderheid, karteling, lengte, sagtheid en fynheid. Wol kan jou warm hou selfs wanneer dit klam is. Foto: Gallo Images/Alamy

Die wol word nou gesorteer en enige dele wat vuil, besmet, te kort of nie van ’n goeie gehalte is nie, word afgesny en verwyder op ’n afrandtafel.

Hierna moet klasseerders die wol in verskillende klasse sorteer. Dit is ’n spesialisveld en ’n goeie wolklasseerder kan deur sowat 4 500 kg wol per week werk. Tydens die klasseringsproses word na die helderheid, karteling, lengte, volheid, suiwerheid, fynheid en sagtheid gekyk.

Van die afrandtafel gaan die wol na verskillende wolbakke – verskillende soorte of grade bymekaar – en dit word dan netjies met ’n wolpers gebaal. ’n Baal moet minstens 120 kg weeg, maar kan tot 200 kg weeg. Die wol is gereed vir die veiling.

SKOONMAAK

Die vuilheid in skape se wol is 30% tot 70% van die wolgewig. Dit kan alles wees van stukkies plante tot sand. Die wol moet nou deeglik met warm water en suiweringsmiddels gewas word.

Een van die neweprodukte van wol, lanolien of wolvet, word ook tydens hierdie proses verwyder en gesuiwer. Dit word in gesig­room, seep, politoer en salf gebruik.

UITKAM

Die wol word deur groot rollers met dun metaaltand
Die wol word deur groot rollers met dun metaaltande gepluis en uitgekam. Foto: Gallo Images/Alamy

Nadat die wol gewas is, is die woldrade baie gekoek en staan dit in alle rigtings, nes jou hare nadat jy dit gewas het. Die wol word nou gepluis en uitgekam deur rollers met metaaltande.

Hierna word dit in lang, dun woldrade gevou. Enige oorblywende stukkies vuilheid word ook verwyder. Die draadtande kam die vesels eweredig en dit lê daarna op mekaar.

SPIN

Gekamde woldrade word gebruik om wolgaring te maak
Gekamde woldrade word gebruik om wolgaring te maak deur dit te rek en vleg in dikker drade. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die dun woldrade word gebruik om wolgaring mee te maak deur dit te rek en te vleg. Die gewig en dunheid van die garing word hierdeur bepaal. Om een stuk wolgaring te maak, kan tot vier van die woldrade saamgespin word.

In die verlede is spinwiele gebruik, maar vandag word woldrade met masjiene tot wol of ander soorte garing gespin. Wol se natuurlike kleur wissel van wit tot ’n donker ivoor.

Die vesel absorbeer kleur goed en die kleurproses vind plaas deur die wol in ’n warm kleurstofoplossing in groot vate te plaas waar stoomdruk die kleur in die vesels indwing. Wanneer die spinproses klaar is, word die garing om tolle gedraai.

WEEF EN AFWERK

Die wol is nou gereed om in verskillende materiale geweef te word. Die materiaal word bepaal deur of die wol geborsel, gepluis, in een rigting gekam of platgestryk word.

Te danke aan moderne tegnologie is baie van die wolprodukte reeds behandel om insek- en mufbestand te wees en vooraf gekrimp en brandtraag.

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai