Haaie is van die mees gevreesde visse in die see. Terwyl sommige haaie as superroofvisse beskou word, is daar ander haaispesies wat skadeloos is vir sowel seediere as die mens. 

MEER AS 500 SPESIES

Dié merkwaardige seedier, waarvan daar sowat 500 spesies is, wissel wat lengte, grootte, dieet en voorkoms betref. Sommige haaie, soos die dwerglanternhaai, is so groot soos ons handpalm, terwyl die walvishaai tot langer as 14 m kan word.

MOND VOL TANDE. Haaie wissel duisende tande in hu
MOND VOL TANDE. Haaie wissel duisende tande in hul leeftyd. Sommige haaie verloor tot 30 000 tande in hul lewe. ’n Tierhaai kan in een jaar minstens 2 400 tande wissel. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hiermee saam verskil haaie se dieet ook van mekaar.

Die meeste haaie is karnivore (vleisvreters). Waar sommige haaie soos die bekende grootwithaai ’n gevreesde roofvis is, is daar die grootste dier in die see, die walvishaai, wat net van plankton leef.

NIE NET SKRIKWEKKEND NIE. Nie alle haaie is gevaa
NIE NET SKRIKWEKKEND NIE. Nie alle haaie is gevaarlik nie. Die reusagtige walvishaai eet byvoorbeeld net plankton.

Plankton is drywende dierlike en plantaardige organismes. 

Haaie is merkwaardige seediere. Tog beskou die mens hulle dikwels as die vyand. Dink ’n bietjie aan stories van haai-aanvalle of flieks waarin haaie as die gevaarlike karakters uitgebeeld word.

Toerisme en opvoeding. Toeriste stroom na die Kaap
TOERISME EN OPVOEDING. Toeriste stroom na die Kaap om grootwithaaie in aksie te sien. Die haaie spring uit die water wanneer hulle robbe jag, en vir duikers is dit opwindend om hulle uit haaiduikhokke dop te hou. Om die diere van naby te sien kan toeriste leer oor die belangrikheid daarvan om hulle te beskerm. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die waarheid is dat die mens veel gevaarliker as die haai is. Dit is dan juis die mens wat die haai se natuurlike habitat betree!

Maar hoekom sal haaie, wat in sommige gevalle ’n superroofdier is, bedreig word? En kan ons hulle nog red voor sommige spesies heeltemal uitsterf?    

HOEKOM WORD HULLE BEDREIG?

Die voortbestaan van haaie word alleen deur menslike aktiwiteite bedreig. Dit sluit kommersiële visvangs en die agteruitgang van habitatte (habitatdegradering) in.

RED ONS RIWWE. Haaie het gesonde koraalriwwe nodig
RED ONS RIWWE. Haaie het gesonde koraalriwwe nodig om voort te plant. Baba-haaie het skuiling nodig van roofdiere.

’n Onlangse studie toon dat ’n geraamde 100 miljoen haaie jaarliks doodgemaak word. In sommige gevalle gaan haaie dood sonder die mense se direkte optrede.

Haaie beland in ’n haainet juis om hulle weg te hou van kusgebiede waar mense graag in die see swem. Of die vang en doodmaak van haaie vind doelbewus plaas deur mense wat finansieel daaruit voordeel trek. 

Red ons riwwe. Haaie wat eiers lê, heg hul eieromh
RED ONS RIWWE. Haaie wat eiers lê, heg hul eieromhulsels (meerminbeursies genoem) aan koraal. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die afname in haaigetalle het ’n uitwerking op alle soorte haaispesies.

Kommersiële visvangs is die grootste bedreiging wat tot oorbevissing en tot die vermindering van haaie lei. Omdat haaie gewild is vir hul vinne, vleis, vel, lewer, olie en kraakbeen, is daar verskillende redes waarom hulle ’n guns­teling is om te vang.

In Asiese lande word haaivinne as medisyne gebruik, terwyl haaivinsop ’n luukse kossoort by veral huwelike en feeste is. In Asië word haaivinne as ’n simbool van mag, rykdom en goedhartigheid beskou.

Verder veroorsaak ’n groot aantal kommersiële skepe ook dat haaie verstrengel raak in nette en toue wat vir ander visse bedoel is. 

Besoedeling het ook ’n impak op haaigetalle. Besoedeling wat onderwaterhabitatte aantas, het ’n uitwerking op die voortplanting van haaispesies. Alle haaie is afhanklik van ’n gesonde ekostelsel om voort te plant en kos te kry.

STOP OORBEVISSING. Wetenskaplikes raam 100 miljoen
STOP OORBEVISSING. Wetenskaplikes raam 100 miljoen haaie word jaarliks uit die see verwyder. ’n Groot deel hiervan is onwettig en word nie gerapporteer of gereguleer nie. Die druk op haaie weens oorbevissing en omdat hulle lank neem om voort te plant, beteken hulle word bedreig.

Verskeie haaispesies gebruik onderwaterriwwe en plantegroei soos bamboes om jong haaie binne ’n beskutte area groot te maak. 

Byna alle rifhaaie word tans bedreig en hulle word deur uit­sterwing in die gesig gestaar. Verder word die walvishaai en hamerkophaai ook bedreig, terwyl die merkwaardige grootwithaai as kwesbaar geklassifiseer word. 

HOE KAN ONS HAAIE BESKERM?

Wanneer jy lees wat tot die bedreiging van haaie lei, wat dink jý kan gedoen word om te verseker ons haaie word beskerm? Terwyl jy aan maniere dink, kom ons kyk na so ’n paar voorbeelde.

Bewusmakingsveldtogte wat jonk en oud leer hoe belangrik haaie vir ’n gesonde onderwaterekostelsel is, kan help dat mense hulle beywer vir ’n skoon en versorgde oseaan.  

Miljoene haaie word jaarliks vir hul vinne
Miljoene haaie word jaarliks vir hul vinne gejag. In Asië word haaivinsop gemaak. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die aantal haaie wat gevang, doodgemaak en verkoop word, moet beter gereguleer word. Met ander woorde, ons moet verantwoordelike bestuur van nie net ons haaie verseker nie, maar ook hul habitatte. Daar is reeds ’n beheerliggaam wat kommersiële visvangs reguleer. 

Die beheerliggaam staan bekend as Traffic en is die wêreld se grootste reguleringsnetwerk vir die natuurlewe. Die organisasie fokus op die volhoubare koop en verkoop van wilde diere en plante. 

HET JY GEWEET?
Haaie kan glad nie agteruitswem nie. Wanneer hulle dus in ’n net vasgevang word, is dit selde dat hulle self kan uitkom. As die haai nie gou genoeg vrygelaat word nie, sal hy beslis doodgaan.

Dit is natuurlik nie die enigste beheerliggaam nie. Daar is verskeie programme wat die seelewe monitor in ’n poging om die verantwoordelike bestuur daarvan moontlik te maak.

’n Manier hoe sowel die natuur as die mens voordeel kan trek uit die gebruik van die see, is toerisme. Dorpe of stede wat aan die kus geleë is, het ’n geleentheid om dié natuurlike waterbron tot hul voordeel te gebruik. 

Die hamerkophaai word kritiek bedreig as gevolg va
Die hamerkophaai word kritiek bedreig as gevolg van oorbevissing. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Het jy dit al oorweeg om diepseeduik te doen om haaie van nader te besigtig?

Toerisme kan ook ’n kreatiewe manier wees hoe individue meer kan leer oor die merkwaardige eienskappe van haaie en waarom die beskerming van haaie noodsaaklik is.

Dié haai het verdrink nadat dit in ’n visnet ver
Dié haai het verdrink nadat dit in ’n visnet verstrengel geraak het.

Verder kan bewaringsgebiede bydra tot die voorkoming van oorbevissing.

Dit beteken dat sommige gebiede in die oseaan beskerm is teen kommersiële visvangs.

Hiermee saam kan sekere haaispesies gelys word as beskermde seediere wat nie doelbewus gevang mag word vir persoonlike of kommersiële gebruik nie.  

Bronne: seethewild.org, mieliestronk.com, weforum.org, worldwildlife.org, oceantoday.noaa.gov, geo.cornell.edu, worldatlas.com, en.wikipedia.org, sharkbusiness.org, theculturetrip.com, sciencedaily.com
Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai