Die landbou is van groot belang in Suid-Afrika. Ons boere lewer ’n groot deel van die land se uitvoerprodukte en dra ook by tot die binnelandse ekonomie, veral as werkgewers.

Suid-Afrika se reënval is nie bestendig nie, en ba
Suid-Afrika se reënval is nie bestendig nie, en baie boere moet ondergrondse water met windpompe na die oppervlak bring. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Maar die landbou is ook baie wisselvallig weens onvoorspelbare weersomstandighede en kwessies soos beskikbare grond. Bewerkbare grond maak omtrent 10% van die land se oppervlak uit en droogtes kom gereeld voor.

Nietemin wissel ons land se klimaat van subtropies tot Mediterreens, wat die verbouing van ’n groot verskeidenheid landbouprodukte moontlik maak.

Werkverskaffer

Sowat 865 000 mense was in 2020 in die landbousektor werksaam. Die landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) beloop sowat 2,5%. Die BBP is ’n maatstaf waarvolgens ons die stand van ’n land se ekonomie evalueer. Dis gegrond op die totale waarde van die dienste en goedere wat per jaar gelewer word.

Plaaswerkers pluk seisoensaarbeie naby Stellenbosc
Plaaswerkers pluk seisoensaarbeie naby Stellenbosch in die Wes-Kaap. Foto: Gallo Images/ Alamy

Dit lyk asof die landbou se bydrae tot die ekonomie klein is, maar jy moet onthou dat landbouprodukte inskakel by sekondêre bedrywe soos verpakking en verwerking in fabrieke, asook tersiêre bedrywe soos vervoer, winkels en restaurante.

Dit beteken die landbou se bydrae tot die land is eintlik baie groter en dis een van die belangrikste hoekstene van ons land se ekonomie.

Benewens die sowat 40 000 kommersiële boerderye in die land is daar ook ’n groot persentasie van die bevolking wat by bestaansboerdery betrokke is. Kommersiële boerdery is die produksie van oeste en vee met die doel om dit te verkoop.

Veeboerdery dra 40% by tot die algehele waarde van
Veeboerdery dra 40% by tot die algehele waarde van Suid-Afrika se landbouproduksie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dié soort boerdery behels gewoonlik die gebruik van moderne tegnologie soos besproeiingstoerusting, trekkers en stropers.

Hierteenoor behels bestaansboerdery die verbouing van net genoeg kos vir eie gebruik sonder die doelwit om daarvan te verkoop. Sowat driekwart van die bevolking neem hieraan deel, teenoor net 2% wat kommersiële boere is.

Vrye mark

Die landbou in Suid-Afrika is in die verlede gereguleer, dit wil sê deur die regering beheer. Boere het regeringshulp gekry in die vorm van subsidies en finansiële konsessies.

Die sektor is egter sedert die 1980’s gedereguleer en boere moes by vryemarktoestande aanpas.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

’n Vrye mark is ’n ekonomiese stelsel met weinig regeringsbeheer waarin pryse en winste afhang van die aanvraag na en produksie van goedere en dienste. Suid-Afrika was altyd selfonderhoudend wat alle hoofprodukte betrefmet genoeg om ook uit te voer.

Maar boere het in die vrye mark na grootskaalse intensiewe boerdery oorgegaan en wegbeweeg van oeste met laer waardes soos melk en koring.

Daar is meer winste in waardevoller uitvoerprodukte soos sagtevrugte, sitrus en wild. Gevolglik het die land in 2008 vir die heel eerste keer ’n netto invoerder van voedsel geword.

Gewasse

Mielies beslaan die grootste deel van ons landbougrond, gevolg deur koring en in ’n mindere mate suikerriet en sonneblomme.

Mielielanderye beslaan sowat 2,8 miljoen hektaar, hoofsaaklik in die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga. In 2020 was daar ’n ryk mielieoes van meer as 15 miljoen ton.

Koring word in die winterreënvalstreke van die Wes-Kaap en in die oostelike dele van die Vrystaat verbou. Suid-Afrika lewer gewoonlik die helfte van die koring wat in die land verbruik word. In 2020 was daar ’n goeie oes van 2 miljoen ton. Koringlanderye beslaan ongeveer 500 000 hektaar.

Gort word hoofsaaklik aan die suidelike kusvlaktes van die Wes-Kaap verbou. Danksy goeie reën die afgelope jaar word vanjaar se gortoes op 500 000 ton geraam.

Gortboere het die afgelope tyd met ’n dilemma gesit omdat die aanvraag na gort afgeneem het weens die drankverbod wat tydens die inperking ingestel is. Gort word veral in die vervaardiging van bier gebruik.

Sorghum se verbouingsomgewings val in die droër streke van die somerreënvalgebied. Ál minder boere plant sorghum aan omdat ander gewasse soos mielies en oliesaad meer winsgewend is. Vanjaar se oes is ’n geskatte 120 000 ton.

Grondboontjies is ook ’n gewas waarvan die verbouing afneem. Sowat 20 000 hektaar grondboontjielanderye in Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes het verlede jaar 50 000 ton gelewer.

Sonneblom saad word veral vir die vervaardiging va
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sonneblomme aard in die somerreënvalgebiede, en die saad word veral vir die vervaardiging van kookolie gebruik. Die 2020-oes het 765 000 ton gelewer.

Suikerriet is ’n belangrike gewas in KwaZulu-Natal en Mpumalanga se Laeveld. Volgens syfers vir 2019/2020 is daar byna 22 000 geregistreerde suikerrietboere wat jaarliks gemiddeld 20 miljoen ton suiker lewer

Die vrugtebedryf in Suid-Afrika voer meer as 60% van sy vars produkte na 110 lande wêreldwyd uit. Sagtevrugte is ’n winsgewende produk uit die boorde van die Wes-Kaap en die Langkloofvallei in die Oos-Kaap.

Sagtevrugte is die grootste onderafdeling van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf wat die landbou-oppervlak betref, met tafeldruiwe wat 42% daarvan uitmaak, appels 27%, pere 14%, perskes 6%, pruime 6%, appelkose 3% en kaalperskes oftewel nektariens 2%. Die wyndruiweoes vir 2020 het byna 1,5 miljoen ton beloop.

Die 10 wynboustreke in die land is in die distrikte van Breedekloof, die Kaapse Suidkus, Klein-Karoo, Noord-Kaap (naby Upington), Olifantsrivier, die Paarl, Robertson, Stellenbosch, Swartland en Worcester. Meer as 2 873 wynboere bewerk wingerde op 92 000 hektaar grond.

Die wynbedryf verskaf direk en indirek werk aan 300 000 mense en is swaar getref deur die regering se verbod op alkoholverkope gedurende die inperking weens die coronaviruskrisis. Die oes van 2019 het altesaam 1 247 522 ton (973,6 miljoen liter) beloop waarvan 86% vir wyn gebruik is.

Die verbouing van sitrus is grootliks beperk tot die besproeiingsgebiede in Limpopo, Mpumalanga, die Oos- en Wes-Kaap asook KwaZulu-Natal.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Pynappels aard op hul beurt in die Oos-Kaap en noorde van KwaZulu-Natal. Ander subtropiese vrugte sluit avokado’s, mango’s, piesangs, lietsjies, koejawels, papajas en grenadellas in wat hoofsaaklik in Mpumalanga en Limpopo verbou word. Hierdie provinsies lewer ook makadamia- en pekanneute.

Die hoërliggende dele van die Vrystaat en Mpumalanga lewer aartappels.

Benewens aartappels is tamaties, uie, groen- en suikermielies ook belangrike plaasprodukte.

Katoen, wat veral in Limpopo verbou word, het in 2020 ’n oes van meer as 140 000 bale vesel gelewer. Tot 90% van die land se katoenoes word jaarliks uitgevoer.

Tabak groei goed op plase in Mpumalanga en Limpopo.

Volgens die Tabakinstituut van Suid-Afrika is daar tans 177 kommersiële tabakboere, 155 kleinskaalse tabakboere en 10 000 plaaswerkers by dié bedryf betrokke.

Rooibostee word in die Cederbergdistrik van die Wes-Kaap verbou. Daar is sowat 300 kommersiële rooibosboere en meer as 200 kleinskaalse rooibosboere. Hulle verskaf werk aan 8 000 plaaswerkers.

Die rooibosoes vir 2020 was ongeveer 20 000 ton. Dit word ook na 60 lande uitgevoer.

Sierplante word ook gekweek, insluitend snyblomme, potplante en kweekhuisplante. Proteas is gewilde blomme vir uitvoer.

Top-10: SA plaasdier- verkope (2017)

1 Beeste 3 613 016

2 Skape 3 106 497

3 Varke 2 199 304

4 Boerbokke 109 288

5 Volstruise 95 288

6 Rooibokke 18 747

7 Springbokke 17 736

8 Wildebeeste 5 329

9 Koedoes 3 526

10 Perde 2 817

Vee

Veeboerdery is Suid-Afrika se grootste landbousektor. Dit dra meer as 40% by tot die algehele waarde van landbouproduksie, en veeboerdery beset sowat 80% van die beskikbare landbougrond.

Daar is meer as 13 500 veeplase of boerderye met diere waarvan sowat ’n derde kommersiële plase is. Suid-Afrika het tans 22 miljoen skape en net meer as 12 miljoen beeste. Boere moes hul kuddes in die afgelope klompie jare drasties verminder weens droogte.

Suiwelboerderye kom reg oor die land voor, maar veral in matiger kusgebiede. Melkkoeie maak sowat 20% van die land se beesbevolking uit.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Die pluimveevleisbedryf ter waarde van byna R47 miljard is die land se grootste individuele landboubedryf. In 2017 (die jaar van die jongste sensus van die kommersiële landbousektor) het boere 1,1 miljard hoenders verkoop. Die inkomste uit diere en diereprodukte beloop meer as R150 miljard – meer as die helfte van die algehele landbou-inkomste.

Daar is meer as 162 000 plaasarbeiders wat uitsluitlik met plaasdiere werk – 21% van die werksmag in die kommersiële landbou. Ons landbousektor is baie belangrik vir die land se toekoms wat betref voedselsekerheid, nasionale inkomste, werkverskaffing en die volhoubaarheid van plattelandse gemeenskappe.

Boere is blootgestel aan baie uitdagings en hul werk is nie aldag maklik nie. Tog help hulle om te sorg dat Suid-Afrikaners elke dag kos op die tafel het, en baie van die dinge wat ons eet en gebruik, kom van hul plase af.

BRONNE: nationsencyclopedia.com, southafrica.co.za, af.wikipedia.org, fanews.co.za, ewn.co.za, blog.agrimag.co.za, ofm.co.za, fas.usda.gov, farmersweekly.co.za, bizcommunity.com, sasa.org.za, foodbusinessafrica.com, safj.co.za, wineindustryadvisor.com, wosa.co.za, farmersweekly.co.za, agriseta.co.za, businesswire.com, sarooibos.co.za
Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai