Die makadamiaboom is inheems aan Australië en kom oorspronklik van die reënwoude aan die kus van die noordooste van dié land. Die Australiese inboorlinge het die boom se neute duisende jare lank as ’n lekkerny beskou. Hulle het die neute geëet, meel daarvan gemaak en die olie as medisyne gebruik.

Dit het lank geduur voor die neut al­gemeen gewild geraak het onder ver­bruikers omdat sy dop so moeilik is om te kraak. Amerikaanse vernuf het eindelik die nuwe gewas vir die kommersiële landbou ontsluit. Ons verduidelik vir jou hoe dit gebeur het.

Australië

’n Makadamiaplantasie in Nieu-Suid-Wallis in Aust
’n Makadamiaplantasie in Nieu-Suid-Wallis in Australië.

Die inboorlinge het ander name vir die makadamia gehad, soos onder meer kindal kindal, bauple, gyndl, jindilli en boom­bera.

Die Duits-Australiese botanis Ferdinand von Mueller het die makadamia in 1857 weten­skaplik omskryf en sy moderne naam gegee. Hy het die makadamia na die Skots-Australiese chemikus, lektor en politikus John Macadam genoem met wie hy bevriend was.

Jare lank het makadamias ook as bosneute of Queenslandneute bekendgestaan. Min mense het dit geëet omdat jy die neut met moeite uit sy klipharde dop gekry het.

Die neut is óf met ’n hamer verpletter óf hy het weggespat as jy hom slaan.

Het jy geweet?
  • Die makadamia is die enigste Australiese landbougewas wat vir die internasionale handel tot kommersiële voedselproduk ontwikkel is.
  • Hoewel die internasionale bedryf taamlik klein is (sowat 1% van die algehele boomneutproduksie), neem die vraag jaarliks skerp toe.

Hawaii

Die makadamia se redding het uit ’n ander oord gekom – Hawaii. In 1882 het die Brit William Herbert Purvis ná sy besoek aan Australië makadamias na Hawaii saamgeneem, waar hy ’n suikerrietplantasie gehad het. Jare lank is die makadamiabome net aangeplant omdat dit mooi lyk of om as windheinings in die suikerrietlande te dien.

Eers sowat 30 jaar later is die volle poten­siaal van die makadamia besef. Die Hawaise landboukundige proefstasie het die aanplant van makadamias aangemoedig, en die eerste kommersiële plantasie is in 1925 in Honoloeloe aangelê.

Tot in daardie stadium is alle makadamiabome van saad gekweek, maar die proefstasie het sukses behaal met die enting van bome. Dit het die weg gebaan vir die bedryf om kommersieel uit te brei.

Van Hawaii af is die gekultiveerde makadamiaplante wêreldwyd versprei, ook terug na Australië. Grootskaalse aanplanting van makadamiabome in Australië en Suid-Afrika het ?eintlik eers in die 1960’s begin nadat beter makadamiavariëteite uit Hawaii ingevoer is.

Byna alle makadamias wat wêreldwyd kommersieel verbou word, is afstammelinge van die oorspronklike plante wat Purvis Hawaii toe geneem het. Moderne navorsers keer terug na die bakermat van die makadamia in Australië om wilde kultivars te vind en beter plante te kweek.

Die Amerikaners het ook in die 1940’s doeltreffende dopmasjiene ontwikkel wat die neute kon kraak. Dit het die kommersiële produksie van makadamianeute in Hawaii ’n hupstoot gegee. Amerika, vernaam ­Hawaii, was tot in 1997 die wêreld se grootste produsent van makadamianeute – tot Australië hom verbygesteek het.

In 2012 het Suid-Afrika vir die eerste keer die grootste produsent van makadamia­­neute geword.

Suid-Afrika

Nuwe blare van die Beaumont-kultivar. Sowat die he
Nuwe blare van die Beaumont-kultivar. Sowat die helfte van alle makadamia-bome in Suid-Afrika is van dié variëteit.

Die makadamiaproduksie in Suid-­Afrika het sterktoegeneem van 1 211 ton neute in die dop in 1991 tot 56 550 ton in 2018. Die wêreldwye oes in 2018 was sowat 211 000 ton.

Die belangrikste verbouings­gebiede vir makadamias is Levubu en Tzaneen in Limpopo, Hazyview tot Barberton in Mpumalanga en die kusstreke van KwaZulu-Natal.

Die bedryf word deur die Suid-Afrikaanse Makadamiakwekersvereniging (Samak) beheer. Daar is ongeveer 700 produsente in die land. Meer as 95% van Suid-Afrika se makadamias word uitgevoer. Die meeste neute in die dop gaan na Asië, veral China. Ons land se grootste mark vir gedopte neute is Amerika.

Die bedryf bied werk aan sowat 10 000 permanente werkers en sowat 9 000 seisoenswerkers in die oes- en verwerkingstyd van Februarie tot Augustus. Namate die bedryf groei, neem die werkersgetalle ook toe. In 2018 het die waarde van Suid-Afrika se makadamia-uitvoer R4 miljard beloop.

Makadamiaproduksie in Suid-Afrika, 2018
  • 56% Mpumalanga
  • 25% Limpopo
  • 17% KwaZulu-Natal
  • 2% Res van Suid-Afrika

Ideale toestande

Makadamiabome groei in ’n warm, subtropiese ?klimaat. Dit beteken hulle aard in streke waar avokado’s, papajas, mango’s en piesangs ook groei. Die bome blom van Augustus tot September. Die verdere ontwikkeling van die vrug (neut) duur nagenoeg 31 weke. Dit duur sewe tot 10 jaar voor ’n jong boom kommer­­siële hoeveelhede neute dra, maar daarna sal die boom maklik meer as 100 jaar lank oeste kan lewer.

Die ideale temperatuur vir makadamias is tussen 16 en 25 °C. Hulle kan oorleef as die temperatuur tot onder 3 °C daal, maar is nie ryp­bestand nie. Die bome dra goed tot op ’n hoogte van 600 m bo seevlak. Die grond moet gedreineer wees en die boom hou van baie water (1 000 tot 2 000 mm per jaar).

Siektes en goggas wat in makadamiaboerdery voorkom
Siektes en goggas wat in makadamiaboerdery voorkom, is wortelvrot (Phytophthora), neutboorders (soorte motlarwes) en in Suid-Afrika veral die verskillende soorte stinkgoggas (foto).

Siektes en goggas wat in makadamiaboerdery voorkom, is wortelvrot (Phytophthora), neutboorders (soorte motlarwes) en in Suid-Afrika veral die verskillende soorte stinkgoggas. Boere beheer hulle gewoonlik met chemikalieë.

Oestyd en verwerking

Makadamianeute val van die boom af wanneer hulle ryp is en kan van die grond af geoes word. Die gebied onder die boom moet skoon wees en die neute moet gereeld ingesamel word, anders kan dit muf of deur knaagdiere beskadig word. Net die neute wat ryp is en afval, moet geoes word.

Die takke kan met masjiene geskud word om ryp neute los te kry sodat dit op nette val. Die hoofoes vind gewoonlik van Maart tot Julie plaas. Die neut se groen omhulsel (vrugwand of perikarp) moet so gou moontlik ná die oes verwyder word sodat die neute in hul dop gedroog en in grootmaat bewaar kan word.

Neute wat gedop word, moet in koelkamers geberg word. Die droging van neute in die dop maak dit makliker om hulle te dop omdat die neut van die dop af wegkrimp. Dopmasjiene word hiervoor ingespan.

Gebruike

Een van die beste maniere om die neute te geniet i
Een van die beste maniere om die neute te geniet is in heerlike koekies.

’n Mens kan makadamias heel of fyngemaal eet, rou of gerooster en gesout, as ’n neutbotter of as toevoegsel in hoofgeregte en slaaie. Dit word ook in lekkergoed, nagereg, roomys en gebak gebruik.

Die neute is ryk aan vitamiene, minerale, vesel en gesonde (cholesterolvrye) vette. Deesdae word die neute se doppe ook verwerk tot produkte soos velroom, tuinhoutskool en dekoratiewe kuns.

Soos jy kan aflei, is makadamias gesog omdat hulle lekker en gesond is. Die vraag is hoog na dié Australiese wonderneut.

Dit is waarom makadamias die duurste neute in die mark is. Probeer dit gerus – as jy die geld vir so ’n duur lekkerny het.

Van boom tot tafel

In sakke geplaas voor verskeping.
Die harde dop word verwyder.
Hulp met skooltake
  • Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by huisgenoot.com aflaai.
  • Klik op Klaskamer op die keusebalk.
Kopie: Cum Laude Media; Bronne: nda.agric.za, southafrica.co.za, australian-macadamias.org, samac.org.za, healthline.com, wikipedia.org
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, SHUTTERSTOCK/GREATSTOCK, GALLO IMAGES/ALAMY