Suid-Afrika het ’n groot verskeidenheid voëlspesies. Meer as 850 spesies is al opgeteken. Voëls speel ’n belangrike rol in biodiversiteit aangesien hulle byna in alle habitatte en reg oor die land voorkom.

 ’n Volstruisgesin in  die Kalahariwoestyn. Foto:
’n Volstruisgesin in die Kalahariwoestyn. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die uitstaande kenmerke van ’n voël is natuurlik hul vere en ook hul vermoë om te kan vlieg (met enkele uitsonderings). Sommige van hierdie voëlsoorte is eie aan Suid-Afrika en word nêrens anders ter wêreld aangetref nie, soos die knysnaloerie.

Ander unieke voëlspesies wat hoofsaaklik op die Afrika-vasteland voorkom, is byvoorbeeld die volstruis en tarentaal.

Die volstruis

Struthio camelus

Die volstruis. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Die volstruis. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die grootste lewende voël ter wêreld is die volstruis. ’n volstruiseier is groot en indrukwekkend aangesien dit gemiddeld 15-20 cm lank en 12,5 cm in deursnee is.

Die eier kan ongeveer 1,35 kg weeg. ’n Volwasse manlike volstruis kan tot 2,5 m lank word vanweë daardie lang nek.

Die mannetjie kan ook meer as 150 kg weeg en is meestal swart, maar het wit pluime in die vlerke en op sy stert.

Volstruiskuikens is goed gekamoe­fleer omdat hulle
Volstruiskuikens is goed gekamoe­fleer omdat hulle soos klippe lyk. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die wyfies is effens kleiner en meestal grys. Volstruise vreet hoofsaaklik plante, maar kan ook insekte en klein diertjies soos akkedisse vreet.

Hulle kry hul water hoofsaaklik uit die plantegroei wat hulle eet, maar sal ook water drink uit watergate.

Die tortelduif

Streptopelia capicola

’n Tortelduif met die kenmerkende “ring” om die ne
’n Tortelduif met die kenmerkende “ring” om die nek. Foto: Gallo Images/ Alamy

Die gekoer van hierdie duif is welbekend. Die tortelduif word sommer maklik uitgeken aan die donkerbruin “ring” om die agterkant van die duif se nek. Nog ’n kenmerk is hul donker oë.

Die tortelduif kom baie algemeen voor en is volop in Suider-Afrika. Hulle word in verskeie habitatte aangetref en ’n mens sal hulle in die meeste soorte bosveld kry, asook in voorstedelike parke en tuine.

Hulle eet hoofsaaklik sade asook vrugte, nektar, blare en insekte. Die wyfie bou gewoonlik drie tot ses dae aan haar nes en gebruik meestal takkies en blare.

Soos alle duiwe is hulle afhanklik van oppervlakwa
Soos alle duiwe is hulle afhanklik van oppervlakwater. Jy sal hulle in groot getalle opmerk by watergate in droë streke. Foto: Gallo Images/ Alamy

Hulle kan ook soms neste van ander voëls gebruik om in te broei. Die duif kan twee tot vier spierwit eiers lê en dit neem ongeveer twee weke tot die kuikens uitbroei.

Die kuikens word deur albei ouers gevoer en ná ongeveer 16 dae moet die kuikens die nes verlaat, waarna hulle nog sowat 12 dae van hul ouers afhanklik is voor hulle heeltemal onafhanklik word.

Die piet-my-vrou

Cuculus solitarius

Die piet-my-vrou is ’n soort koekoek. Daar is omtr
Die piet-my-vrou is ’n soort koekoek. Daar is omtrent 17 koekoekspesies in Afrika. Foto: Gallo Images/ Alamy

Hierdie voël het sy Afrikaanse naam gekry van die bekende roepgeluid wat hy maak. Die indrukwekkende geluid laat klink dit asof hy “piet-my-vrou” roep.

Die voël kom hoofsaaklik in die oostelike helfte van Suid-Afrika voor en woon in ’n groot verskeidenheid habitatte.

Hulle vreet meestal ruspes, maar ook ander diertjies soos spinnekoppe, sprinkane en kewers. Die voëls is broeiparasiete. Hulle is vernuftig daarin om ander voëls se neste te gebruik om hul eie eiers in te lê.

Die piet-my-vrou verjaag die ander voël uit die nes, verwyder die eiers van die gasheer en lê sy eie eier in die nes.

Die gasheer dink daardie eier is sy eie, broei die eier uit en sorg vir die kuiken.

Die knysnaloerie

Tauraco corythaix

Op die foto kan jy die mooi kleure  van die knysna
Op die foto kan jy die mooi kleure van die knysnaloerie sien. Foto: Gallo Images/ Alamy

Die knysnaloerie is ’n onmiskenbare veelkleurige voëltjie, hoewel hulle dikwels onopsigtelik in hoë boomtakke is.

Knysnaloeries is bedags aktief en word gewoonlik raakgesien wanneer hulle tussen hoë bome of op boomtakke beweeg.

Hulle is sosiaal en beweeg rond in pare of in klein gesinsgroepies.

Het jy geweet?
Loeries is die enigste voëls wat ware rooi en groen kleure het. Wanneer ’n mens na die meeste voëls kyk, is die kleur wat jy sien ’n weerkaatsing wat deur die veer­struktuur gemaak word. Die loerie se rooi pigment en groen pigment bevat albei koper. Hulle sê as jy ’n glas water met ’n rooi loerieveer roer, word die water pienk.

Knysnaloeries is baie raserige voëls; hulle het ’n harde roepgeluid wat hulle gebruik om met mekaar te kommunikeer of hul gebied af te baken. Hulle is plantvreters.

Hulle vreet hoofsaaklik vrugte en bessies, maar vul hul dieet aan met sade, blare en soms insekte.

Hierdie kleurvolle voël se leeftyd is ongeveer 30 jaar en hulle raak 40-42 cm lank.

Die tarentaal

Die horingkoptarentaal. Foto: Gallo Images/ Alamy
Die horingkoptarentaal. Foto: Gallo Images/ Alamy

Die tarentaal, met sy voorkoms wat maklik soos dié van ’n wilde hoender kan lyk, is lid van die familie Numididae.

Kenners glo die tarentaal is oorspronklik van Wes-Afrika afkomstig. Voëlkenners verwys ook graag na die tarentaal as die Afrikavoël omdat daar met sekerheid gesê kan word dié voël het wel sy oorsprong op die Afrika-vasteland gehad.

Tarentale beweeg gewoonlik rond in groepe van 15 tot 40 voëls.

Daar is ses spesies wat op die Afrika-vasteland, Madagaskar en talle ander eilande in die Indiese Oseaan voorkom. Die grootste lid van dié wilde voëlspesie is die aasvoëltarentaal.

Hulle kom in Oos-Afrika voor en kan langer as 60 cm word. In Suid-Afrika is daar twee soorte tarentale.

Die algemeenste soort is die gewone of horingkoptarentaal (Numida meleagris) wat homself al reg oor Suid-Afrika tuisgemaak het.

In KwaZulu-Natal en verder noord in Suid-Afrika sal jy die kuifkoptarentaal (Guttera edouardi) aantref.

BRONNE: birdlife.org.za, ebird.org, maroelamedia.co.za, encyclopedia.com, mieliestronk.com, animalia.bio, britannica.com, biodiversityexplorer.info
Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai