Baie Suid-Afrikaners beskou die aktivis Steve Biko as ’n groot figuur in ons land se geskiedenis omdat hy ’n beduidende bydrae gelewer het tot die stryd teen apartheid.

Hy was van die 1960’s af tot met sy dood in polisieaanhouding in 1977 ’n belangrike stem vir swart mense, wat onder apartheid geen politieke regte gehad het nie. Ons leer jou meer van dié man wat vroeg dood is maar steeds met agting onthou word.

Kindertyd

Bantu Stephen (“Steve”) Biko is op 18 Desember 1946 in die Oos-Kaap gebore. Hy was die derde kind van Mzingaye Biko en Nokuzola Macethe Duna.

Sy pa was ’n polisieman en later ’n klerk in King William’s Town.

Die gesin het in 1948 in Ginsberg net buite King William’s Town gaan woon waar die Biko’s die eienaars van hul eie huis in Zaulastraat geword het. In 1950, toe Steve vier jaar oud was, is sy pa onverwags oorlede.

Sy ma het as kok in ’n hospitaal gewerk en die kinders alleen grootgemaak. Sy skoolmaats beskryf Steve as ’n grapjas, maar hy was slim en het ander kinders in sy klas gehelp as hulle die werk nie verstaan het nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die huis in Ginsberg, King William’s Town, is nou ’n nasionale monument. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op aanbeveling van sy juffrou is hy direk van gr. 5 na gr. 7 oorgeplaas. In 1960 is hy na die Sekondêre Skool Forbes Grant, waar hy veral goed gevaar het in wiskunde en Engels. Ná gr. 10 het Steve sy broer, Khaya, na die Lovedale-sendingskool gevolg waar hulle albei later weens Khaya se politieke aktiwiteite in hegtenis geneem is.

Steve is vrygelaat, maar sy broer het gevangenisstraf gekry. Die ervaring met die polisie het Steve bewus gemaak van die politiek. Hy is later uit Lovedale geskors weens sy politieke aktiwiteite, maar het by die St. Francis-kollege in Mariannhill naby Durban verder skoolgegaan en met goeie punte gematrikuleer.

Studentejare

Steve het aan die mediese skool van die Universiteit van Natal gaan studeer. Hy het betrokke geraak by die veelrassige studenteorganisasie Nusas (National Union of South African Students). Die organisasie het hom beywer vir die erkenning van swart mense se regte.

Steve is egter gou deur Nusas ontnugter omdat dit vir hom gevoel het die organisasie laat swart mense maar net toe om deel te neem aan die Europese kultuur, terwyl hy geglo het die kultuur van swart mense moet erken word.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Pres. Nelson Mandela onthul in September 1997 ’n bronsstandbeeld ter nage­dagtenis aan Steve voor die stadsaal in Oos-Londen. Die standbeeld en borsbeeld by die Ginsberghuis is deur Naomi Jacobson. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy was gevolglik in 1968 ’n medestigter van die swart Suid-Afrikaanse Studenteorganisasie (Saso), waarvan hy die volgende jaar president geword het. Saso is op die gedagte van die swart bewussyn gegrond wat swart mense aanmoedig om hul inherente trots en selfwaarde te erken.

Die Swartbewussynsbeweging het in die 1970’s van die universiteitskampusse na swart gemeenskappe in stedelike gebiede oraloor Suid-Afrika versprei. In 1972 was Steve ook ’n stigterslid van die Black People’s Convention, ’n oorkoepelende organisasie van swartbewussynsgroepe.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die apartheid­stelsel van rasse­verdeling het alle vlakke van die samelewing betrek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy was ’n niegewelddadige aktivis, al het die beweging wat hy help stig het eindelik tot gewelddadige verset oorgegaan om apartheid te probeer beëindig.

Die apartheidsregering het op Steve-hulle se aktivisme gereageer. Hy en ander Saso-lede is aan bande gelê. Hul betrekkinge, bewegings en openbare verklarings is ingeperk.

Steve moes toe stilweg te werk gaan. Hy het die Zimele-trustfonds in 1975 gestig om politieke gevangenes en hul gesinne te help. Oor die volgende twee jaar is hy vier keer in hegtenis geneem en maande lank op ’n slag sonder verhoor aangehou.

Persoonlike lewe

Steve is in 1970 met Ntsiki Mashalaba getroud. Die egpaar het twee seuns gehad.

Hy het ook twee kinders gehad saam met Mamphela Ramphele, ’n stigterslid van die Swartbewussynsorganisasie.

In 1977 is ’n dogter uit sy verhouding met Lorraine Tabane gebore.

Gewelddadige einde

Steve en ander aktiviste is op 18 Augustus 1977 by ’n padblokkade aangekeer en in Port Elizabeth opgesluit. Dit het later geblyk dat hy wreed gemartel is vir inligting. Hy is drie weke later geboei en naak buite ’n hospitaal in Pretoria gevind.

Die volgende dag, op 12 September 1977, is hy dood aan bloeding op die brein. Die polisie het Steve se mishandeling aanvanklik ontken.

In 1997 het vyf voormalige polisieoffisiere egter gebieg hulle was verantwoordelik vir die moord op Steve. Hulle het toe by die WVK (Waarheids-en-versoeningskommissie) aansoek gedoen om amnestie, wat beteken het die nuwe demokratiese regering sou hulle moontlik nie vervolg nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Sy begrafnis was die eerste groot politieke begrafnis in Suid-Afrika. Meer as 20 000 mense het dit bygewoon. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hul aansoek om amnestie is egter in 1999 geweier.

Gevolge

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Steve Biko se dood het tot groter internasionale druk teen apartheid gelei. Hiervoor was veral die Anti-apartheidsbeweging verantwoordelik.

Invloedryke mense soos die joernalis en aktivis Donald Woods was by hierdie beweging betrokke. Hy was bevriend met Steve en het die boek Biko oor hul vriendskap geskryf. Die fliek Cry Freedom van 1987 is op hierdie boek gegrond.

Die nuus van Steve se dood het tot protes gelei en wêreldwyd die nuus gehaal. Sy begrafnis in November 1977 op King William’s Town is deur sowat 20 000 rouklaers bygewoon.

Ná sy dood het die verset teen apartheid voortgegaan. Die ANC het toe later ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 die party in beheer van die land geword. 

Die Steve Biko-stigting

Foto: Gallo Images/Getty Images
Nkosinathi Biko praat by Donald Woods se begrafnis in 2001. Foto: Gallo Images/Getty Images

Steve se seun Nkosinathi het die Steve Biko-stigting op die been gebring. Dit is vandag ’n organisasie sonder winsoogmerk met ’n teenwoordigheid in die Oos-Kaap. Die stigting het die opening van ’n groot gemeenskapsentrum in 2013 in Ginsberg gevier.

Die stigting bevorder debat oor aktuele sake en is ’n waardevolle hulpbron op Steve se tuisdorp.

Kopie: Cum Laude Media; Bronne: britannica.com, sahistory.org.za, biography.com, af.wikipedia.org, sbf.org.za
Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop. Klik hier en kry al die besonderhede of loer hier watter werk is al gedeel op Huisgenoot.com.