Wil jy ’n stralende voorkoms hê wat die toets van die tyd deurstaan? Vergeet duur skoonheidsgiere en skrikwekkende operasies. Gehoorsaam net dié 10 ewige reëls vir goed lyk – dan sal jy op enige ouderdom pragtig wees.

1. Jy moet detoks 

skoonheid,mooimaak
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy hoef nie tot uiterstes te gaan nie, maar om elke af en toe ’n paar weke lank verwerkte, suikerryke en vetterige kos, kafeïen en alkohol uit te sny kan ’n wonderlike hupstoot vir jou liggaam wees.

Doen jou eie maklike “detoks” deur meer vars vrugte en groente, sappe en water in te neem. Dit sal jou liggaam binne en buite help reinig en jou van natuurlike goedheid laat gloei.

2. Jy moet jou limf versterk

Borsel en masseer is ’n kortpad na ’n knop- en bultvrye vel.

Dit stimuleer limfdreinering (die spoel van gifstowwe uit die liggaam) en versterk jou metabolisme en immuunstelsel. Dit verwyder ook dooie velselle en verrig wonders vir selluliet. 

3. Jy moet nie te veel sonbruin nie

Geniet die son en al die lieflike beenversterkende voordele van vitamien D, maar hou matigheid voor oë.

Oormatige blootstelling dehidreer die vel, val kollageen aan en veroorsaak ’n hangerige, lewelose gelaat. Moenie bang wees om sonbeskerming aan te smeer nie – vandag se verfynde formules is sonder die streperige wit effek.

4. Jy moet goed wees vir jou rug

skoonheid,mooimaak
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dit is bewys dat weerstandsoefeninge die aanvang van osteoporose verminder en in sommige gevalle die uitwerking omkeer wat dit op die liggaam het,” sê die pilatesafrigter Luke Meessmann.

Beproef pilates-klasse om krag en soepelheid te verbeter en jou die gesonde bene te gee wat vir ’n jeugdige postuur nodig is.

5. Jy moet jou blaargroente eet

skoonheid,mooimaak
Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Dieet met volop chlorofilryke blaargroente is goed vir jou dermkanaal, sê die skrywers van The Anti-Ageing Beauty Bible, Sarah Stacey en Josephine Fairley.

Baie velkenners stem nou saam die vel is ’n spieël van verteringsgesondheid. Hou dus jou maag aan die gang om met velprobleme te help. Koop nou vir jou ’n voorraad spinasie, krulkool en broccoli.

6. Jy moet ontspan

skoonheid,mooimaak
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die wyse waarop jy die lewe benader, staan oor jou hele gesig geskryf, sê die Britse skoonheidsakupunktuurpraktisyn Maggie Brown.

“Die manier waarop stres in ons manifesteer, is duidelik op ons vel te sien. Ons kan dalk nie die plooie op ons gesig keer nie, maar ons kan varser en energieker lyk.”

Sy stel akudruksessies voor om gesigspanning te verlig, terwyl ontspanningstegnieke soos meditasie en joga die druk op ons gedagtes en gelaat kan verlig. 

7. Jy moet nie krom loop nie

Trek agteroor die skouers. Deur regop te staan sal jou figuur dadelik jonger lyk. Dit help rugprobleme voorkom, laat jou middel slank lyk – en dis gratis. Hou dus jou maag ingetrek, bors gelig, ken parallel met die grond en skouers terug.

8. Jy moet aan die beweeg bly

Jy sal twee wonderlike teenverouderdingsvoordele uit gereelde oefening kry. Die een is sweet – ja, regtig. Jy voel dalk nie op jou varsste nie, maar sweet maak porieë oop.

Die ander een is verbeterde bloedvloei en beter sirkulasie, wat voedingstowwe en suurstof doeltreffender na die vel help beweeg. Die gevolg? ’n Beter gelaat.

9. Jy moet nie te veel suiker inneem nie

skoonheid,mooimaak
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Amerikaanse dermatoloog dr. Nicholas Perricone, bekend vir sy geensuikerbenadering tot die bestryding van veroudering, sê suiker en verfynde koolhidrate skep inflammasie op selvlak.

“Verhoogde bloedsuiker veroorsaak ’n aantal chemiese reaksies soos verhoogde vrye radikale, wat selle aanval. Die gevolg is verdere skade en versnelde veroudering.” Sê nee vir bygevoegde suiker waar jy kan.

10. Jy moet meer slaap

skoonheid,mooimaak
Foto: Gallo Images/Getty Images

Selle in die liggaam herstel en genees oornag. ’n Gebrek aan slaap laat jou dus met ’n groter kans op fyn plooie, donker kringe of pofferige sakke, veral aangesien die vel om die oë 50% dunner is.

Ses tot agt uur slaap is een van die beste teenverouderingsbehandelings. Gaan kruip in!

Gee jouself ’n natuurlike gesigontrimpeling 

Beproef ons driestap-skoonheidsplan vir ’n tydlose gloed.

Vorm jou wenkbroue

Jou wenkbroue kan jou voorkoms maak of breek, sê die wenkbrouversorgingskenner Shavata Singh. “Dit is die middelpunt van jou gesig,” verduidelik sy.

“Swaar of oorgroeide wenkbroue kan ooglede afrem. Die verwydering van ’n paar hare, veral by die boog, kan die oë oopmaak. Maar as jy te veel hare verwyder, kan dit die oë kleiner laat lyk en die aandag na jou neus en voorkop trek. Wees dus versigtig.”

Masseer terwyl jy reinig

Dié maklike maar doeltreffende reinigingsroetine ontwikkel deur die gesigbehandelingskenner Antonia Burrell lig die wange en hou die vel vars.

Wend bloot reiniger aan en bestee ’n minuut aan elke masseerstap:

  • Gebruik jou ring- en middelvingers en masseer in klein sirkelbewegings van die middel van die ken uit- en opwaarts na die wange toe. SWerk inwaarts en masseer om die oë terwyl jy op die oogkasse fokus. Doen dit 12 keer.
  • Masseer jou voorkop in klein sirkelbewegings met jou middelvingers. Werk stadig opwaarts na die haarlyn toe.
  • Maak ligte tikbewegings oor jou hele gesig met jou middel- en ringvinger. Voel hoe die spanning wegsmelt.

Blosser vir ’n kitsontrimpeling

“Kikker moeë vel op deur ’n spatsel kleur aan die appels van jou wange te voeg,” sê die grimeerkunstenaar Sarah-Jane Froom.

“Ouer vroue is bang vir blosser, veral as hulle met rooiheid sukkel. Maar as jy ’n mineraalbasis-onderlaag gebruik en dan ’n appelkoosblosser aantik, sal dit goed werk.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe