TOP-10 WENKE

Met ekstra sorg en ’n paar truuks kan jy jou skoonheidsprodukte ’n bietjie langer laat hou.

Spaar
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

1. Dis moeite om jou grimeerborsels skoon te maak, maar jy moet dit minstens een keer per week doen. Grimering aan vuil grimeerborsels raak droog en laat die borsels gouer uitmekaarval.

Maak jou borsels gereeld met ’n sagte reiniger of sjampoe skoon sodat dit langer hou.

2. Moenie jou lipstiffie weggooi as daar nog ’n bietjie onderin die buisie is nie. Gebruik ’n lipborsel om dit uit te kry. Of plaas die lipstiffie in ’n ander houertjie: Gebruik ’n plastiekmes – dit behoort daarin te pas – om die res van die lipstiffie uit te skep, en plaas dit in ’n kleiner houer soos ’n leë petroleumjelliehouertjie.

3. Versorgde wenkbroue en ’n netjiese haarlyn is ’n moet. Pleks van geld op ’n wenkbrouborsel uitgee, kan jy ’n ou maskaraborsel skoonmaak en dit gebruik om jou wenkbroue mee te borsel. Dit werk ewe goed, en jy kan dit selfs gebruik om individuele wimperverlengings skoon te maak. Jy kan wegstaanhare met ’n ou tandeborsel tem.

4. Koeler is beter. Jy kan die rakleeftyd van sekere skoonheidsprodukte verleng deur dit in die yskas te bêre. Jou oogroom is ’n voorbeeld daarvan. Dit sal nie net langer hou nie; dit gee ook daardie broodnodige verkoelingseffek wat jou oë met aanwending streel.

Jou oogomlyners kan ook daarby baat vind as jy dit in die somer in die yskas bêre, veral dié wat nie waterbestand is nie. Dit sal nie te veel afkom of smeer wanneer jy dit aanwend nie, wat beteken jy hoef dit nie so gereeld skerp te maak nie.

Ander produkte wat goed in die yskas aard, sluit in naellak, gesigmaskers wat porieë verklein, oogmaskers en skoonheidsprodukte van natuurlike bestanddele.

5. Parfuum is duur: As jy vir daardie spesiale een gespaar het, wil jy dit so lank moontlik laat hou. Eerstens, moenie dit in jou bad- kamer of op die vensterbank bêre nie – hou dit weg van vogtigheid en direkte sonlig.

Tweedens, maak seker jou vel is goed bevog voor jy parfuum aanspuit. Dit sal langer aan jou vel bly, wat beteken jy hoef nie weer te spuit nie. En laastens, as jy iets sterkers en langdurigers soek, kies ’n EDP pleks van ’n EDT – jy hoef net ’n klein bietjie op ’n slag te gebruik.

6. Bêre seep in ’n houer met gate in die bodem. Dit sal die seep behoorlik laat droog word ná elke gebruik. ’n Houer sonder gate sal die seep pap maak en jy sal elke keer meer seep gebruik.

7. Jy het jou oogskadu, blosser of verbronser laat val en dit het in stukkies gebreek. Wat nou? Chirurgiese alkohol is die antwoord! Verwyder die brokkies grimering uit die houer, voeg ’n paar druppels van die alkohol daarby, skep dit terug in die houer en druk daarop. Sodra alles droog is, is jou produk gereed vir gebruik.

8. Moenie jou maskaraborsel in die buisie pomp nie. Dit help nie om meer van die produk op die borsel te kry nie, maar keer eerder lug in die buisie vas, wat dit gouer laat uitdroog. As jou maskara uitgedroog het, voeg ’n paar druppels soutoplossing daarby.

9. Naellak wat verdik het, kan ’n gemors afgee, maar daar is ’n oplossing: Jy kan asetoon (naellak-verwyderaar) of naellak-verdunner gebruik om dit te verdun. Voeg ’n paar druppels op ’n slag by en meng telkens om te kyk of dit verbeter.

10. As jy jou skeerlemme langer wil laat hou, hou dit droog. Water en vogtigheid laat die lemme gouer roes. Moet dit dus nie in die stort bêre nie. ’n Geroeste lem kan velirritasie of ingroeihare veroorsaak.

PRODUKTE ONDER R100

Naellak
Yardley Stayfast Nail Vinyl in Scarlet R49,95
blosser
Rimmel Magnif’Eyes Eyeshadow in Superstart Sparkle R79,95
lipstiffie
Yardley Super­moist Plus Lip­stick in Burnt Plumb R54,98
Blosser
The Body Shop Eye­shadow in Pala Pink Topaz van R30
lipstiffie
Revolution Renaissance Lipstick in Highness R94,95 elk
lipstiffie
Bourjois Souffle de Velvet Lipstick in Cherry Leaders R84,98
blosser
Essence Mosaic Blush in Natural Beauty R64,95
Maskara
Essence Lash Princess False Lash Effect Mascara in Black R64,95
handroom
The Body Shop Argan, Shea en Moringa Hand Cream R70 elk vir 30 ml


Kry dit hier

Bourjois (Clicks 0860-254-257); Essence essence.eu/za; Revolution Renaissance (Clicks 0860-254-257); Rimmel 0860-463-446; The Body Shop (Clicks 0860-254-257); Yardley 0860-463-446

Hoewel ons alles in ons vermoë doen om korrekte pryse te verskaf, kan foute voorkom waarvoor Huisgenoot en die verskaffers nie verantwoordelik gehou kan word nie.

Ekstra bronne: Birchbox.com, Glamour.com, Stylecaster.com