’n Oogpotlood speel ’n groot rol in ’n grimeer-roetine, want dit plaas klem op die oë. Hoewel dit eenvoudig lyk om net oogpotlood aan te wend, beteken dit nie dat dit heeldag in plek gaan bly nie. 

Oogpotlood is ook geneig om vinnig op te raak omdat jy dit heeltyd skerp maak. Hitte en sonlig is 'n oogpotlood se grootste vyand; dus sal dit langer hou as jy dit in die yskas bêre. 

Ons deel vyf nuttige skoonheidskunsies met jou oogpotlood wat jou oë heeldag mooi sal laat lyk. 

1. Gel-oogpotlood 

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gel-oogpotlood werk die beste as jy donker oë en hare het. As jy daagliks jou oë omlyn, is dít die beste opsie. Om gel-omlyner in plek te hou, is dit belangrik om dit styf teen die waterlyn van die oog aan te wend.

Met ’n fyn grimeerkwas, wend ’n lagie oogskadu van dieselfde kleur bo-oor die oogpotlood. 

2. Kohl-oogomlyner

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Kohl-omlyner is die “gewone”/algemene oogpotlood wat die meeste vroue daagliks gebruik. Dié omlyner is die één omlyner wat die swaarste van afskeid geneem word.

En selfs al skaf jy ’n nuwe oogpotlood aan, lê dié klein oogpotloodjie nog in jou grimeersakkie, want dit werk steeds die beste. 

Wanneer jy Kohl-oogomlyner gebruik, wend dit aan reg bokant jou wimperlyn; begin by die binnehoek en werk uitwaarts. Jy kan oogomlyner aan jou onderste wimperlyn aanwend vir ’n meer gedefinieerde voorkoms.

3. Olie

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy 'n olierige vel het, is dit belangrik om seker te maak dat die area rondom jou oë behoorlik skoongemaak word.

Die area onder die oog en in die hoeke van die oog word deur die dag olierig, so om seker te maak dat jou oogomlyner nie afsak nie, kan jy ’n ligte lagie poeier onder die oë en in die hoeke van die oë aanwend. Dit sal sorg dat dié areas van die oë langer olievry bly. 

4. Oogskadu 

grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Baie vroue vermy die donker skakerings in hul oogskadu-palette, maar dit kan as oogomlyner ingespan word. Gebruik ’n fyn grimeerkwas en wend die oogskadu so na aan die waterlyn aan as wat jy moontlik kan.

As jy swart of donkerbruin oogskadu gebruik, kan jy een tot twee lagies aanwend. As die skakering ligter is, kan jy tot drie lagies aanwend.

5. Maskara 

maskara
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maskara is die towerkwas van grimering, want dit kan ingespan word om wenkbroue donker te maak, wimpers welig en langer te maak, en kan ook as oogpotlood ingespan word.

As jy maskara as oogomlyner wil gebruik, kan jy sowat twee lagies onder aan jou wimpers smeer.

Plaas effens meer druk op die kwas sodat dit net-net die waterlyn van die oog raak. Waterdig maskara werk die beste as jy dit as oogomlyner gaan gebruik. 

En siedaar! Dis hoe eenvoudig dit is om jou voorkoms met ’n oogpotlood op te tower.