Dit proe heerlik op ’n pizza; selfs lekkerder op roosterbrood met ’n knippie sout en peper, maar die veelsydige avokadopeer hou ook verskeie voordele in wat skoonheid betref – van jou hare tot naels.

Met die winter wat nou op ons is, is hierdie heerlike groen bederf nou seisoenaal en dus volop beskikbaar en bekostigbaarder; daarom is dit nou die perfekte tyd om dit by jou skoonheidsroetine in te span. 

1. Hare

avokado
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy nie daarvan hou om avokado te eet nie, geniet dit as een van die beste skoonheidskunsies vir hare. Selfs peperduur haarprodukte bevat hierdie wonderbestanddeel. Avokado herstel beskadigde hare en sorg vir ’n pragtige, gesonde bos hare. 

Maak so vir ’n blink haredos 

Meng ’n ryp avokado met een eiergeel, en wend die mengsel aan nat hare aan. Los dit sowat 20 minute aan jou hare en spoel ’n paar keer deeglik af. 

2. Gesig

avokado
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Avokadopeer bevat ’n verskeidenheid natuurlike olies wat help om jou vel te hidreer en sag te maak. Dit bevat antioksidante en vitamiene soos vitamiene E en C, wat ook die vel teen koue of selfs warm weer kan beskerm. 

Maak so vir ’n luukse avokado-gesigmasker

Meng ’n halwe avokadopeer met 'n koppie jogurt en 'n eetlepel organiese heuning vir ’n masker wat hidreer. Los dit 15-20 minute lank aan en spoel dan af met louwarm water. Voeg hawermout by die mengsel vir ’n gesigskrop. 

3. Naels

avokado
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy binnekort ’n tuis-manikuur beplan, moet jy hier lees. Avokadopeer kan wonders doen vir droë naelbeddens. Dit bevat bevogtigende olies wat help om naelbeddens te hidreer en gesond te hou.

Jy kan dié naelbed-room self beproef

Meng een eetlepel galambotter, klapperolie en ’n halwe eetlepel avokado-olie. Jy kan vitamiene E- en suurlemoen-olie by die mengsel voeg vir ’n lekker reuk.

4. Plooie

avokado
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Avokadopere bevat oleïensuur, wat help om inflammasie en rooiheid te verminder. Dit dra by tot minder ongewensde fyn plooitjies. 

Hulp met fyn lyne en plooitjies en lyne. Maak so:

Meng een ryp avokadopeer met een teelepel klapperolie. Meng dit goed en wend aan jou gesig aan. Hou dit sowat 30 minute lank aan en spoel goed af. 

5. Sonbrand 

avokado
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As daar ’n skoonheidswenk is wat jy van winter tot somer kan inspan is dit dié een. As jy die reuk van aloe vera verpes, kan avokado help. Die antioksidante en gesonde vet hidreer die songebrande vel en help om pyn te verlig. 

Maak so

Maak ’n avokadopeer fyn en meng dit met olyfolie. Wend dit aan die songebrande area aan, en dit sal sommer gou klaarspeel met die sonbrand. 

Bronne: Elle.com, Onegreenplant.org, Themakeupdummy.com, Thehealthy.com