SUE DUMINY (35)

Sue Duminy
Foto: Instagram/@ sueduminy

Wat beteken skoonheid vir jou?

Dit is vir my wanneer innerlike skoonheid – vriendelikheid, onbaatsugtigheid, geduld – en uiterlike skoonheid mekaar ontmoet. Laasgenoemde dui op ’n vrou wat haarself versorg en selfvertroue uitstraal.

Het jou skoonheidsroetine verander sedert jy ma geword het? Indien wel, hoe?

Dit het, ja. Swangerskap haal baie uit jou uit. Ek doen nou ekstra moeite met velsorg. Pleks daarvan om alles so vinnig moontlik te doen, probeer ek ’n bietjie meer tyd bestee en ek gebruik velprodukte van goeie gehalte.

Wat is die een skoonheidsitem waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

My wimperverlengstukke!

Hoe het die inperking jou skoonheidsroetine beïnvloed?

Ek laat my vel en liggaam behoorlik rus. Ek het my jelnaels verwyder, dra nie veel grimering nie en wend so min moontlik produkte aan my vel en lyf aan.

Vir watter skoonheidsprodukte dok jy ’n bietjie meer op?

Beslis my Optiphi Skin-produkte! As my vel in ’n goeie toestand is, lyk my grimering en alles foutloos.

Wat is jou gunstelingtruuk?

Ek week elke oggend my gesig in yswater. Dit laat my porieë kleiner en my onderlaag foutloos lyk.

Wat is jou gunstelingparfuum?

Narciso Rodriguez – die swart bottel.

Wat is die beste skoonheidsraad wat jy al ontvang het?

Grimering is nie veronderstel om jou gesig te verander nie; dit moet eerder jou natuurlike gelaatstrekke beklemtoon.

MINKI VAN DER WESTHUIZEN (36)

Minki Van der Westhuizen
Foto: Instagram/@minkivanderwesthuizen

Wat beteken skoonheid vir jou?

Skoonheid beteken vir elkeen iets unieks, en ek glo werklik dis iets wat jy van binne af uitstraal.

Het jou skoonheidsroetine verander sedert jy ma geword het? Indien wel, hoe?

Glad nie. My velsorgroetine is vir my baie belangrik en iets wat ek nooit sal afskeep nie. Ek dra dalk minder grimering as voorheen, bloot omdat ek nie meer soveel tyd het nie.

Wat is die een skoonheidsitem waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

Lipomlyner! Dis absoluut my gunsteling.

Hoe het die inperking jou skoonheidsroetine beïnvloed?

Net wat grimering betref. Ek dra nou net een keer per week grimering of as ek ’n Zoom-oproep het of inhoud vir die sosiale media skiet.

Vir watter skoonheidsprodukte dok jy ’n bietjie meer op?

Onderlaag, parfuum en vogrome.

Wat is jou gunstelingtruuk?

Om my verbronser vir kontoer te gebruik en my lipomlyner om my lippe te beklemtoon en voller te laat lyk. Ek doen ook niks aan my wenkbroue nie. Dis natuurlik en ek is mal daaroor.

Wat is jou gunstelingparfuum?

Dior Rose N’Roses.

Wat is die beste skoonheidsraad wat jy al ontvang het?

Dra altyd sonskerm.

AISHA BAKER (29)

Aisha Baker
Foto: Instagram/@bakedonline

Wat beteken skoonheid vir jou?

In hierdie stadium van my lewe beteken skoonheid vir my ’n gebalanseerde lewe en goeie voeding.

Het jou skoonheidsroetine verander sedert jy ma geword het? Indien wel, hoe?

Beslis! Nadat ek geborsvoed het, het ek besef hoe goeie voeding help met ’n mooi vel en haarsorg, en ek probeer om ’n gebalanseerde dieet te volg wat my gesond kan help bly. Ek slaan nooit my velsorgroetine oor nie en gaan gereelder haarsalon toe.

Wat is die een skoonheidsitem waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

Vogroom. Ek is versot op Koreaanse velsorgprodukte en dis veral nuttig noudat ek nie toegang het tot velbehandelings nie.

Hoe het die inperking jou skoonheidsroetine beïnvloed?

Ek het ’n selfsorg-Saterdag by my roetine gevoeg waar ek ’n ontspannende lyfskrop in die stort doen en olie pleks van rome gebruik. Dis nou in ’n mate ’n ritueel.

Vir watter skoonheidsprodukte dok jy ’n bietjie meer op?

Beslis velsorgprodukte! Ek dok gewoonlik op vir velsorgprodukte en is suiniger met grimering.

Wat is jou gunstelingtruuk?

Om ná elke laag grimering setsproei te spuit – voor onderlaag, ná onderlaag en weer ná poeier.

Wat is jou gunstelingparfuum?

Lancôme IdÔle.

Wat is die beste skoonheidsraad wat jy al ontvang het?

Eet gesond en jy sal jeugdig bly.

ROLANDA MARAIS (42)

Rolanda Marais
Foto: Instagram/@rolandamarais

Wat beteken skoonheid vir jou?

Dis vir my ’n gevoel, ’n persoonlike toestand van tevredenheid.

Het jou skoonheidsroetine verander sedert jy ma geword het? Indien wel, hoe?

Nie regtig nie. Ek dink dis belangrik om na jou vel te kyk. Maar ek moet erken ek het deur fases gegaan waar ek nie oogroom gebruik het nie omdat ek te uitgeput was. Dit was een ekstra stappie te veel vir ’n moeë mamma.

Wat is die een skoonheidsitem waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

Ek dra elke dag sonskerm. Selfs wanneer ek net tuis is.

Hoe het die inperking jou skoonheidsroetine beïnvloed?

Ek dra nie grimering tydens die inperking nie, behalwe ’n getinte sonskerm, en my vel kry dus baie tyd om asem te haal en ’n blaaskans te kry van al daardie ure met grimering op die stel. Maar ek mis my salonbehandelings.

Vir watter skoonheidsprodukte dok jy ’n bietjie meer op?

Ek is versot op PH Formula-produkte, veral hul Mela-serum.

Wat is jou gunstelingtruuk?

Om my lipstiffie te gebruik om kleur aan my wange te gee.

Wat is jou gunstelingparfuum?

Comme des Garçons.

Wat is die beste skoonheidsraad wat jy al ontvang het?

Wend jou daggrimering in natuurlike lig aan, nooit in ’n swak beligte badkamer nie.

SUZELLE DIY (33)

Suzelle DIY
Foto: Instagram/@suzellediy

Wat beteken skoonheid vir jou?

Dis wanneer iemand positiewe energie en selfvertroue in hul eie uniekheid uitstraal. Skoonheid is ’n uitdrukking van jou ware self.

Het jou skoonheidsroetine verander sedert jy ma geword het? Indien wel, hoe?

My roetine het baie eenvoudiger geword omdat ek nie meer soveel tyd het nie. Ek gebruik dus veeldoelige produkte en het baie goed daarmee geword om my grimering in sowat vyf minute te doen!

Wat is die een skoonheidsitem waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

Vogroom!

Hoe het die inperking jou skoonheidsroetine beïnvloed?

Ek dra nie veel grimering nie. Ek moet baie dra wanneer ons skiet; daarom is dit ’n welkome blaaskans vir my vel.

Vir watter skoonheidsprodukte dok jy ’n bietjie meer op?

Ek belê in ’n goeie onderlaag en gaan gereeld vir gesigbehandelings – dit maak ’n groot verskil aan my vel.

Wat is jou gunstelingtruuk?

’n Grimeerkunstenaar het my eenkeer vertel ek moet haarsproei op ’n groot grimeerborsel spuit en dit aan wegstaanhare aanwend. Dit werk soos ’n bom.

Wat is jou gunstelingparfuum?

Narciso Rodriguez.

Wat is die beste skoonheidsraad wat jy al ontvang het?

Dat skoonheid nie volmaaktheid beteken nie – dis ’n viering van onsself nes ons is. 

Kom neem deel aan die gesprek

VolgHuisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.