En die beste van alles? Die plaasvervangerproduk is veeldoelig en bied ’n oplossing vir talle versorgingsdilemmas. Babapoeier is lank reeds daarvoor bekend dat dit nie net nuttig is om babas se boude mee droog te hou nie. 

Met hierdie wenke sal jy heelwat op skoonheidsmiddels kan bespaar:

1. Olierige hare? Babapoeier tot die redding

Strooi ’n bietjie babapoeier oor jou haarwortels en kam dit deeglik deur. Vir ’n beter resultaat (want dit kan jou hare staties maak): Doen dit die vorige aand en laat dit set.  

Jou hare moenie te vuil wees nie, want dan sal wit oorblyfsels daarop agterbly. 

2. ’n Alternatief vir duur gesigpoeier

Keer dat jou gesig deur die loop van die dag begin blink deur babapoeier liggies aan jou  gesig te tik en dit egalig te versprei. 

Moet egter nie te veel poeier aanwend nie. Anders as regte gesigpoeier, wat gemaak is om in die vel in te trek, kan babapoeier krytagtig lyk as jy te veel aanwend.

3. ’n Plaasvervanger vir grondlaag (primer)

Wend met jou vingers ’n bietjie poeier aan jou ooglede aan voor jy oogskadu aansit. Dit keer dat vog op die ooglede vorm en help dat die oogskadu langer aanbly en nie dof begin lyk nie. 

4. Maak waksbehandeling minder pynlik

Voor jy by die huis ’n waksbehandeling doen, wend poeier aan die vel. Die poeier absorbeer enige vog, wat beteken jy sal nie herhaaldelik dieselfde plek hoef te behandel nie.  

Die poeier aan die vel help ook dat die waks aan die hare kleef, pleks van aan die vel, wat dit ’n minder pynlike ervaring maak. 

5. Raak van die stink skoenreuk ontslae

Hier het jy twee keuses: As jy toe skoene sonder sokkies dra, kan jy ’n bietjie poeier aan jou voete tik. Dit sal keer dat dit sweet en ’n slegte reuk veroorsaak. 

As skoene stink wat jy met sokkies gedra het, strooi poeier in die skoene. Dit sal dit laat vars ruik.

6. Maak glansende lipstiffie mat 

Wil jy ’n mat-lipstiffie-voorkoms soos Kylie Jenner s’n hê, maar jy het net “oudmodiese” glanslipstiffie? Dan kan babapoeier ook tot die redding kom. Tik babapoeier liggies oor jou lippe, en siedaar!

7. Lang wimpers

Hierdie kunsie help jou dikker, langer wimpers kry. Wend ’n eerste laag maskara aan en tik dan ’n bietjie poeier aan jou wimpers. Wend dan ’n tweede of selfs derde laag maskara aan. 

8. Modieuse wenkbroue – maklik en vinnig 

Dit lyk of die obsessie met volmaak gevormde wenkbroue hier is om te bly. Hier is ’n ander manier om te sorg dat jy in die mode is. 
Vorm jou wenkbroue met ’n wenkbrou-potlood en kleur dit in. Sit dan ’n bietjie babapoeier aan jou wenkbroukwas en kam dit deur jou wenkbroue. Dit sal dit voller laat lyk.  

Bronne: Glamour.comCosmopolitan.co.za; Stylecaster.com