Die stralende Aletté-Johanni wat tans swanger is met haar en manlief Heinz Winckler se eerste dogtertjie vertel dit gaan goed met haar en die kleinding wat op pad is.

“Ek voel goed, maar is 'n bietjie moeër as wat ek was met my laaste swangerskap vyf jaar gelede,” vertel sy.

Volgens die bedrywige sakevrou is haar moegheid as gevolg van ’n knieligament wat in Desember 2018 vervang was. Met die kleinding op pad, plaas die ekstra gewig druk daarop, sê Aletté-Johanni. 

En as ’n ma en vrou in ’n huis vol van die manlike geslag - hoe gaan dinge nou verander?

“Ek is 95% opgewonde en 5% senuagtig oor die veranderings wat sy gaan bring in die gesinsdinamika. Dis ’n absolute vreemde ervaring om te dink dat ek ’n dogtertjie sal kan mooi aantrek,” vertel sy opgewonde.

Die ma van drie verklap sy het nog geen klere vir die nuweling gekoop nie, want as sy eers begin, is sy bang dat daar geen keer aan haar gaan wees nie.

“Ek sien uit na die stadium waar sy moet aantrek wat ek wil hê sy moet aantrek,” vertel sy. 

Aletté-Johanni lyk altyd goed, maak nie saak waar sy ook al gewaar word nie. Haar liefde vir styl het al van jongs af ontstaan. Die modegogga het gebyt toe sy vier of vyf jaar oud was en haar skoene en kouse vir Sondag se kerk reggesit het.

 


As jong meisie, vertel Aletté-Johanni, het haar ma baie van haar kledingstukke gemaak. “Self toe ek op hoërskool was, het ek myself mooi aangetrek vir kerk, want waarheen anders kon ’n jong meisie nou haar mooiste klere aantrek behalwe kerk,” vertel sy. En by dié uitrustings sou sy sommer ’n hoed dra. 

“As tiener het ek reeds klassiek aangetrek. Ek het van jongs af ’n oog om te sien wat pas en wat pas nie, maar ek sou nooit kon raai dat dit ’n loopbaan sou word nie,” sê sy.

Die afgelope dekade was omtrent ’n styl-evolusie vir Aletté-Johanni en 10 jaar later jaag sy steeds nie die mode na nie.

“As ek na foto’s van myself kyk van sowat 10 jaar gelede, dink ek ‘What was I thinking?’ Maar die modes wat toe mooi was, was toe mooi en aanvaarbaar,” vertel die blondekop. “Ek is wel dankbaar dat styl en mode oor die jare verander.”

Aletté-Johanni sê haar styl as ma het baie verander omdat sy eers ’n klein middel en nie ’n maag gehad het nie. “Ek kon enigiets dra wat my middel beklemtoon, maar ná babas, veral drie, nie eers te praat van vier nie, is daar rolletjies om jou maag wat jy moet verdoesel,” sê sy. 

Destyds sou sy materiale wat teen die lyf kleef, soos T-hemp-materiaal dra, maar sy bieg dat dít nou nêrens in haar kas te vinde is nie. Alles is vloeiend, en hang mooi oor haar maag. 

Wat styl betref is persoonlike styl belangrik, sê sy.

“Dis belangrik om te weet wie jy is wanneer jy aantrek. Daar is minstens 10 stylpersoonlikhede en as jy nie weet wie jy is nie, sal jy heeltyd probeer om iemand anders se styl na te boots.”

Liggaamsvorm en jou gesigvorm speel ook ’n groot rol in wat jy kies om aan te trek.

“Ons voed heeltyd die vinnige modeneigings. Ons dra dalk glad nie eens 80% van die klere wat reeds in ons klerekas hang nie.” 

Dié swanger ma bieg dit is moeilik om ’n ronde maag te klee, maar sy sien uit na die somer. “Ek sien daarna uit om lekker rokke te dra. En ook platpuntskoene,” sê sy.

Dié modekenner sê rondeneus platskoene laat jou outomaties ronder en korter lyk. 

Haar raad aan ma’s - van ’n ma 

“Ek het eendag ’n beeld gehad van hoe vroue hulself afskeep. Dis ’n natuurlike neiging, maar soms ’n vals verantwoordelikheid. Oral waar ek gaan as motiveringspreker probeer ek vroue en ma’s inspireer om tyd vir hulself te maak; deur dit doen beteken nie dat jy ’n slegte ma of vrou is nie. En dit deel ek uit my eie ervaring,” vertel sy. 

“Ons het nie tyd vir onsself nie. Ons het nie tyd om behoorlik te eet nie, want ‘organic’ of gesonder kos is duur. Ons sorg eerste dat ons man en kinders gevoed is. Hoewel ek glo die man is die hoof van die huis, glo ek vroue is die hart van die huis.

“Neem daai ekstra vyf minute en sit grimering aan. As jy goed lyk aan die buitekant, sal jy goed voel aan die binnekant,” sê sy.