Gerieflik koel

Marciel Hopkins (27)

Aanbieder van die afspraakwerklik-heidsprogram Boer soek ’n vrou, model en leefstylafrigter

@marcielhopkins

Wat is die boodskap van jou platform?

Selfliefde, liggaamsaanvaarding en ware selfvertroue.

Wou jy altyd ’n beïnvloeder geword het?

My reis in die vermaakbedryf het begin toe ek in 2015 ’n top-12-finalis in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie was. Daarna het my loopbaan as ’n internasionale model en TV-aanbieder ontwikkel.

Ek het my B.A.-dramagraad in 2014 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, en ek wou altyd as ’n aktrise en TV-aanbieder in die vermaakbedryf werk.

Ek het nie beplan om ’n beïnvloeder oor liggaamselfvertroue te word nie, maar ek is dankbaar ek het ’n platform van waar ek ander vroue met my reis na liggaamsaanvaarding kan inspireer en aanmoedig.

Haar styl-ikoon

“Meghan Markle. Sy is ’n toonaangewer, en ek hou daarvan dat sy nie bang is om helder kleure te dra wat haar pragtige figuur wys nie. Sy is my glans-crush.”

Meghan Markle
Meghan Markle Foto: Gallo Images/Getty Images

Stemmige elegansie 

Aqeelah Harron Ally (30)

Modeblogger en stilis

@fashionbreed

Wie of wat beïnvloed jou styl?

Instagram, en die stryd wat ek as stemmige aantrekker het om mode-items in my styl te kry. Ek kyk ook graag na ou ikoniese glans-voorkomste en put inspirasie daaruit. 

Wou jy altyd ’n beïnvloeder geword het?

Ek het my B.A.-graad in 2010 aan die Universiteit van Kaapstad behaal. In dieselfde jaar het ek my blog, fashionbreed.co.za, begin, want my droom was om ’n moderedakteur te word.

Ek het ’n tydskrifinternskap gedoen, ’n ruk lank vir ’n e-handelwinkel gewerk en net aanhou blog.

In dié tyd het ál meer tydskrifte gesluit en handelsname het hul geld aanlyn begin bestee. En toe word ek gereeld betaal vir my stokperdjie, iets wat ek selfs sonder betaling sou doen.

Vyf jaar gelede kon ek uit my werk bedank, want ek het genoeg uit handelsnaamsamewerkings en as ’n gasskrywer vir webtuistes verdien.

Wat is die sleutel tot jou sukses?

Ek hou daarvan om op elke gebied van my lewe te verbeter. As jy werklik wil verbeter, sal jy elke dag beter wees.

Aqeelah se stylgids

Jou gunstelingitem in jou kas?

My leermotorfietsbaadjie en kastaiingbruin dyhoogtestewels deur Stuart Weitzman.

Dit was jare lank my droomskoene, en dit was vir my iets groots om dit eindelik te kry.

Hoe verander jy ’n informele voorkoms in een van sjiek op-’n-drafstap?

Aangesien ek in rokke leef, doen eenvoudige blokhakskoene en rooi lippe gewoonlik die ding.

Jou geheime stylplan?

Ek probeer my uitrustings vir die week reeds op ’n Sondag beplan, tot by die onderklere en skoene wat ek daarby sal dra, en ek stoom dit selfs. Wanneer ek dit doen, daag ek myself ook uit om items te dra wat ek ’n ruk lank nie gedra het nie.

Om dinge vooruit te doen beteken jy sal nie op die eintlike werkdag gejaag voel nie. Jy sal ook beter lyk, want jy het ’n kans om oor elke uitrusting na te dink.

Jou stylwenke vir teruggaan werk toe?

Wanneer jy ’n rok aantrek, is jy klaar.

Dit haal die raaiwerk uit jou uitrustingbeplanning en bespaar baie tyd. As jy ’n rok aanhet, lyk dit ook of jy jou lewe agtermekaar het, terwyl dit eintlik die beste luimeisieplan is.

Haar styl-ikoon 

“Sarah Jessica Parker. Sy volg nie reëls nie en sy is nie bang om te skitter nie.”

Sarah Jessica Parker
Sarah Jessica Parker Foto: Instagram/@ sarahjessicaparker

Die aan-die-gang-ma

Aletté-Johanni Winckler (40)

Voorkomskonsultant en ma van vier

@alettewinckler

View this post on Instagram

M y M e i s j e! M y P o p! M y C o l o u r?

A post shared by ???????????? ???????? (@alettewinckler) on

Wat is die boodskap van jou platform?

Egtheid. Volgelinge moet my ware self met al my foute kan ervaar, geliefd en aanvaar voel en inspirasie en hopelik goeie raad kry.

Wie of wat beïnvloed jou styl?

Altyd die seisoen waarin ek is: of ek swanger is, met jong kinders, ouer kinders, my ideale gewig is, of die borsvoedende “sagte” ma van vier. Natuurlik ook modetrends, die geleentheid en my begroting.

Wou jy altyd ’n beïnvloeder geword het?

Ná my joernalistiekgraad aan die RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) het ek in die korporatiewe wêreld gewerk. Eindelik, in 2009, het ek ’n voorkomskonsultant geword.

Facebook was skaars twee jaar oud en beïnvloeders het nog nie bestaan nie. Alles wat jy wou hê of sien, moes jy self skep.

In 2013 het niemand anders in Suid-Afrika ’n “voorkoms van die dag” gedoen nie. ’n Week nadat ek dit begin doen het, het talle my voorbeeld gevolg. Dit was die begin.

Aletté se stylgids

Wat is jou alledaagse staatmakerstyl?

Met ’n klein babadogter en drie bedrywige seuns, van die huis af werk en dikwels op ’n drafstap wees, is my staatmakerstyl, veral tydens die inperking, mooi maar gemaklik met tekkies daarby. Maar die oomblik wanneer ek weer moet reis, praat, “optree” of onderrig, sal ek die hakskoene afstof.

Jou gunstelingitem in jou kas?

Die afgelope jaar was dit ’n leermotorfietsbaadjie. Ek het ’n paar in verskillende style. Dit is veelsydig en werk saam met byna elke uitrusting.

Jou stylwenk vir van die huis af werk?

Trek deftig aan! Selfs as jy van die huis af werk.

Die manier hoe jy aantrek, het ’n direkte invloed op die gehalte van jou werk. As jy heeldag in jou pajamas rondluier, sal jy ook heeldag deur die sosiale media blaai.

Maar as jy jou “sakevoorkoms” aantrek, sal jy ’n doeltreffende en produktiewe dag hê.

Jou wenk vir kantoorstyl?

Wees gemaklik in wat jy ook al werk toe dra en maak seker dit pas by jou bedryf. Spaghetti-bandjies, pette en onderklere wat wys, werk nooit in die sakeomgewing nie.

Wees fatsoenliker pleks van modieus, want jy wil hê mense moet jou ernstig opneem. 

Haar styl-ikoon

"Die meeste van my ikone is naamloos. Ek kry hulle op Pinterest, in tydskrifte of die sosiale media. Daar is nie net een nie; daar is sommer baie wat my inspireer."

Audrey Hepburn
Foto: Gallo Images/Getty Images

Meng en pas

Laverne Turner- Manuel (30+)

Kurwemodel en entrepreneur

@laverne_tm

Wat is die boodskap van jou platform?

Dit verteenwoordig alles wat voorheen as "onvolmaak" beskou is: soos om ’n vrou in die sakewêreld te wees en ’n geronder vrou wat as model werk.

Dit moedig almal aan dat jy enigiets kan doen waarop jy jou kop sit, ten spyte van die struikelblokke.

Wie of wat beïnvloed jou styl?

Ek steel met die oog en kry inspirasie van mense om my, wat ek aanlyn sien en, toe ons nog kon reis, van die plekke waar ek was.

Wou jy altyd ’n beïnvloeder geword het?

Ek het ’n graad in die uitvoerende kunste, so om in die mediawêreld te beland het metter-tyd natuurlik gebeur met my loopbaan as entrepreneur en kurwemodel. Ek wou nooit die woord beïnvloeder gebruik nie, want ons almal beïnvloed tog mekaar.

Maar namate my gehoor gegroei het, het ek besef ek het ’n verantwoordelikheid teenoor al die oë wat na my kyk. Ek is mal daaroor dat ek ’n wêreldwye netwerk van mense het wat ek kan beïnvloed, maar wat my ook kan beïnvloed!

Laverne se stylgids

Hoe sou jy jou styl beskryf?

My styl kan nooit in ’n boksie gesit word nie. Ek hou daarvan om alles te meng en pas. Vir my is styl nie iets spesifieks nie; dit is individueel en baie uiteenlopend.

Jou gunstelingitem in jou kas?

Op die oomblik leef ek in my kaftans. Ek blameer die oortollige lockdown-gewig, maar kaftans is baie veelsydig. Ek dra dit gewoonlik oor jeans en ’n T-hemp by hakskoene of tekkies, afhangend van waarheen ek op pad is – en die afgelope ruk was ek nêrens nie.

Jou geheime stylkunsie?

Baie basiese wenke wat elke keer vir my werk, is lipglans om my gesig te verfris, en ’n groot sonbril en serp voeg net die regte hoeveelheid sjiek by as ek my voorkoms wil opkikker.

Jou stylwenk vir teruggaan werk toe?

Hou dit deftig maar gemaklik. ’n Mooi donker denimbroek, kraakvars wit top, wit of kleurbaadjie en gerieflike skoene. Dit skep ’n klassieke preppie en koel voorkoms wat ook professioneel lyk.

Jou geheim om vol selfvertroue te bly?

Ek kom agter as ek ander se menings opsyskuif, stel ek myself in staat om sonder struikelblokke te floreer.

Haar styl-ikoon

“Dit wissel nes trends, maar op die oomblik kyk ek graag na wat die Spaanse beïnvloeder Laura Eguizabal doen. Sy is beslis my huidige stylikoon.”

Laura Eguizabal
Laura Eguizabal Foto: Instagram/@laura_eguizabal

Vroulik glansryk

Clarita Smit (31)

Mamma-blogger en skoonheidspesialis

@daily.mirror

Wou jy altyd ’n beïnvloeder geword het?

Dit was nooit my idee om ’n beïnvloeder te word nie. Ek dink ek het altyd gedink as my leefstyl (van gesond leef, mooi aantrek, jouself as ’n vrou versorg) ander vroue kan inspireer, sal dit koel wees.

Ons as vroue stel altyd ons kinders en gesin eerste en ons is geneig om van onsself te vergeet. Maar jy as ’n mamma of vrou is ook baie belangrik en mag dinge doen om jouself gelukkig te maak.

Jy mag jouself af en toe eerste stel.

Enige stylwenke vir van die huis af werk?

Staan op en trek aan! Ek werk nou al langer as 10 jaar van die huis af en ’n mens kan maklik in die gemaksone verval van heeldag slenterdrag of pajamas dra. Maar jy kan steeds "gerieflik" wees by jou huis terwyl jy stylvol is.

En dis hoe my blad begin het: Ek hou van optof, maar ek het vir my man gesê niemand sien eintlik my uitrustings nie. Toe begin ek "daaglikse" foto’s in my spieël neem en dis waar my Instagramnaam, @daily.mirror, vandaan kom.

Ek glo ook jy sal meer werk gedoen kry as jy aantrek asof jy werk toe gaan en baie vergaderings het.

Clarita se stylgids

Hoe sou jy jou styl beskryf?

’n Mengsel tussen uiters vroulik en uiters glansryk. Ek trek graag deftig aan, maar ek hou ook daarvan om gemaklik te wees.

Op die oomblik is ek mal oor midirompe met ’n hoë middel saam met enkelstewels en ’n oulike oorgroot oortrektrui.

Jou gunstelingitem in jou kas?

Op die oomblik het ek ’n paar Factorie-mammajeans met ’n hoë middel in my klerekas wat ek graag dra. Dit is vreeslik gemaklik. Ek het ook oulike plat skoene wat ’n plaasvervanger vir Chanel se ontwerpersballerinaskoene is.

Ek is dol daaroor en dit pas by elke uitrusting. Ek het ook baie lank gespaar en besit nou eindelik ’n Louis Vuitton-handsak.

Dit was my droom om eendag ’n LV-handsak te hê.

Wie of wat beïnvloed jou styl?

Daar is niemand spesifieks wat my styl beïnvloed nie.

Ek is altyd op die uitkyk na nuwe trends, maar ek glo ook nie elke trend pas by almal nie.

Daarom is ek daarmee tevrede om ’n mode oor te slaan as ek voel dis nie geskik vir my liggaamstipe nie.

Haar styl-ikoon

"Dis moelik, want ek het nie net een nie. Ek blaai graag deur die Europese uitgawes van Vogue en kyk na Pinterest.

Ek is mal oor Audrey Hepburn en Marilyn Monroe se styl."

pinterest
Audrey Hepburn Foto: Gallo Images/Getty Images

Modieus sjiek

Bailey Schneider (37)

Radioaanbieder, blogger en sosialemediabestuurder

@baileyschneiderza

Wat is die boodskap van jou platform?

My sosiale media is ’n verlenging van wie ek is en ’n wonderlike manier om my lewe te dokumenteer.

Ek deel ook graag ervarings en produkte waarvan ek hou, wat ek gebruik en wat my lewe ophef, wat hopelik nuttig kan wees vir die mense wat my volg.

Wie of wat beïnvloed jou styl?

Die sosiale media. Ek kry die meeste van my inspirasie en inligting op Instagram en Pin-terest. Wou jy altyd ’n beïnvloeder geword het? Ek het B.A. Joernalistiek studeer en al op 17 as ’n radioaanbieder begin werk.

Tien jaar gelede het ek ’n blog, vanillablonde.co.za, begin, want ek hou van skryf en ek kon dit met my liefde vir fotografie kombineer.

Blogs was toe nog taamlik nuut, en namate die sosiale media gewild geraak het, het die woord “beïnvloeder” ontstaan.

Ek het nooit probeer om ’n beïnvloeder te word nie, en ek dink steeds nie aan myself as een nie – maar as ek mense se lewe kan verbeter, dan is ek ten gunste daarvan.

Bailey se stylgids

Hoe sou jy jou styl beskryf?

My styl hang af van my luim. Ek kan wissel van gemaklik koel tot parmantig vroulik tot uiters glansryk. Ek speel graag rond met mode. Mits ek selfversekerd in my klere voel, is ek gelukkig.

Jou gunstelingitem in jou kas?

My leerbaadjie. Dis ’n onlangse aankoop en dit het vanjaar meer as ek gereis. Ek het dit aanlyn in Brittanje bestel en laat aflewer by ’n vriend wat daar woon en wat (voor covid-19) gedink het hy sou na Suid-Afrika kom. En toe dit nie gebeur nie, het hy dit saam met ’n ander vriend gestuur wat na Kaapstad teruggekom het.

Dit was toe 14 dae in kwarantyn voor ek dit eindelik ontvang het. Dit het meer van ’n avontuur as ek gehad. Ek het ’n ruk na die perfekte leerbaadjie gesoek en dit was ’n groot uitgawe.

Maar dit was die moeite werd, want dit is een item in my klerekas wat ek vir altyd sal hê. Jou geheime stylkunsies? Trek aan vir die lyf wat jy het en hou dit klassiek.

As ’n wonderlike nuwe stylneiging nie by jou lyf werk nie, gaan dit nie modieus lyk nie.

Bykomstighede kan ’n uitrusting van vervelig in fantasties omskep. ’n Hoed, oulike hakskoene of selfs tekkies en juweliersware kan ’n voorkoms gou en kostedoeltreffend omtower.

Haar styl-ikoon

Olivia Polermo
Olivia Polermo Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek hou van Olivia Palermo (foto), want sy lyk altyd uitsonderlik en klassiek. Ek hou van Lauren Conrad se vroulike styl, en Asiyami Gold is ’n ware skoonheid met goeie styl.”