Grimeergeesdriftiges en toonaangewers in die skoonheidsbedryf besing ál meer die lof van verbloemers, wat vir heelwat meer as net hul hoofdoel ingespan word. Daarom word dit as die “regmaker” in jou grimeertassie beskou.

Voor of ná onderlaag?
Ons beveel aan jy wend verbloemer ná jou onderlaag aan sodat dit in posisie bly. As jy dit voor die tyd aanwend, sal van dit verwyder word terwyl jy jou onderlaag aanwend en skakeer, wat dit nutteloos maak.

Gebruik verbloemer hiervoor

VELFOUTJIES

Verbloemers is oorspronklik geskep om tekortkomings soos vlekke, donker kringe en pigmentasie te verbloem. Jou onderlaag bedek gewoonlik die foutjies effens voor jy verbloemer aanwend, waarna jy die foutjies wat nog sigbaar is met verbloemer bedek wat by jou velkleur pas. ’n Mens doen dit deur liggies met jou vinger, ’n borsel of ’n spons te skakeer tot jy tevrede is met hoeveel bedekking dit jou bied.

BASISLAAG

Om ander grimering soos oogskadu en lipstiffie langer te laat hou, kan jy eers verbloemer oor jou ooglede en aan jou lippe sit. Nadat die verbloemer geset het, kan jy oogskadu of lipstiffie aanwend. ’n Verbloemer wat twee of drie skakerings ligter as jou vel is, sal die kleur wat jy bo-oor aanwend, laat uitstaan; maak net seker jy bedek al die verbloemer sodat te veel kleure nie sigbaar is nie. Verbloemer help ook verhoed dat oogskadu in voutjies beland.

VERLIGTER

Verligting is wanneer ’n blinkerige produk gebruik word om die illusie van ’n gloed aan jou gesig te skep. Of as jy verbloemer gebruik wat een of twee skakerings ligter as jou vel is om kontoervorming aan te vul en die illusie van, byvoorbeeld, voller lippe of ’n hoër neusbrug wil skep. Skakeer byvoorbeeld ’n ligte verbloemer aan die neusbrug en ’n donkerder een aan weerskante van die neus om die indruk van ’n smaller, hoër neus te skep.

Soorte

VLOEIBAAR

Vloeibare verbloemers is uitstekend om wenkbroue, wange en ooglede te beklemtoon omdat dit gladder is en maklik oor die vel versprei. Dit verbloem ook donker kringe en raak goed van grimeerfoutjies ontslae. Mense met ’n droë vel moet vloeibare verbloemers gebruik omdat dit minder geneig is om aangeplak te lyk.

STIFFIE

Dié soort verbloemer is maklik om te gebruik en hou heeldag. Gebruik dit om oor klein merkies te tik, die wenkbroue vinnig en liggies te beklemtoon en as basis voor jy lipstiffie aanwend. Olierige vel kan by hierdie soort verbloemer baat vind omdat dit vinnig set en teikengerig is.

ROOM

Roomverbloemers bied uitstekende dekking. Dit word meestal deur mense met uiterste pigmentasie of verkleuring gebruik. Om seker te maak dit lyk nie aangeplak nie, skilfer dooie vel sagkens af voor jy grimering aanwend.

Grimeertoerusting

Dis dalk makliker om jou vinger te gebruik om verbloemer aan kleiner dele te skakeer, maar ’n borsel help met die noukeurige aanwending, terwyl ’n spons die skakering oor groter dele vergemaklik. Onthou, jou borsel of spons kan, nes jou verbloemer, meer as een doel verrig. Moet dus nie skroom om jou verbloemerborsel as lipborsel in te span of jou spons te gebruik om onderlaag sowel as verbloemer aan te wend nie.

Laat dit set

Setpoeier is baie fyn en help om verbloemer wat oor groot dele aangewend is langer in posisie te hou deur moontlike krakies in te vul. Dit word baking genoem. Wend onderlaag aan, gevolg deur verbloemer aan jou wange, onder die oë en aan die neusbrug. Wend dan setpoeier liggies met ’n poeierborsel aan oor die dele waar jy verbloemer aangewend het.