Hare

KORT HARE Ekstrakort style is groot nuus. Dis gewaag en ’n bietjie seunsagtig – en ons is mal daaroor. En dis natuurlik min moeite!
GESTRUKTUREERDE BOBS Bobs wat een lengte is en nie in lae gesny word nie, raak ál gewilder omdat dit maklik is om te onderhou. Kies ’n lengte en styl wat jou gesigvorm vlei. Jy kan ook jou hare krul, stryk of kartel.
REGUIT PONIESTERT Ons is dol oor dié haarstyl omdat dit deftig lyk en nie asof jy ’n skoolkind is nie. As jou hare nie lank genoeg is nie, kan jy dit agtertoe kam en ’n vals poniestert vassteek.
KARTELS Hope volume met kartelende krulle word crimping genoem. Dis een van die grootste somermodes, en jy kan dit stileer nes jy wil deur ’n karteltoestel (crimper) te gebruik. Jy kan al jou hare of net dele daarvan kartel.

Naels

NAELKUNS Meer is meer wat oordadige naelkuns betref. Versier naels wat klaar geverf is met rynstene, naelkuns, plakkers en blinkers. LAE Skep kleurblok- of monochrome lae op kort, vierkantige naels vir ’n voorkoms wat aan die 1980’s herinner.

GEVLEUELDE OOGOMLYNER Die loopplank in Fendi en Roberto Cavalli se lente/somer 2018-modevertonings het gewemel van oordadige gevleuelde oogomlyner. Dis afgewissel met minimale grimering aan die res van die gesig, soos geborselde wenkbroue, geen oogskadu en skoon lippe.
WIMPERS MET WOEMA Modelle op die loopplank in Dior se lente/somer 2018-modevertoning het aan die boonste en onderste wimpers maskara gedra en min tot geen oogskadu. Hul wenkbroue was geborsel en hul lippe bevog.
HELDER SKADU Die modelle op House of Holland se lente/somer 2018-vertoning het oorboord gegaan met kleur. Jy kan ook – of gebruik dit net in jou ooghoeke.
GESMEERDE OOGGRIMERING Noudat gesmeerde oogomlyner, maskara en oogskadu groot nuus is, sal jy hierdie somer sommer baie minder tyd voor die spieël deurbring. Dit is een van die vinnigste en maklikste maniere om ooggrimering aan te wend – vryf dit net aan! Druk jou wimpers ’n paar sekondes lank opmekaar nadat jy maskara aangewend het; dit sal hulle daardie klonterige, besmeerde voorkoms gee.

Maskers

Kies die regte gesigmasker vir jou
  • Papiermaskers Dis al lank gewild in Suid-Korea, maar is van 2017 af ook in plaaslike winkels te koop. Dit sal vanjaar nog gewilder raak.
  • Teikenmaskers Die nuwe neiging is om nie meer een masker oor jou hele gesig aan te wend nie, maar ’n masker vir elke verskillende probleem aan jou gesig.
  • Aftrekmasker in ’n bottel Jy sal beslis geld bespaar deur vloeibare aftrekmaskers tuis te gebruik, want dis meer bekostigbaar as salonbehandelings. 
  • Houtskool Houtskool het bewese ontgiftings-, antibakteriese en afskilferingseienskappe. Dit word ál gewilder en kom voor in produkte soos tandepasta, maskers en seep.
  • Verfrissende/bevogtigende gesigspuitmiddel Spuitmiddels vir die gesig is al ’n paar jaar lank beskikbaar, maar het onlangs gewilder geraak. Dit streel, hidreer en verfris die vel – selfs wanneer dit bo-oor grimering aangespuit word.

Subtiele glans

SUBTIELE GLANS Die mark loop oor van lipstiffies, oogomlyners en oogskadu’s met blinkigheid. Dit was ’n gewilde keuse op die Puma x Fendi-vertoning: van die oë en wange tot by die lippe.

STEEDS GEWILD

Gesigreinigingsborsels
’n Deeglike diepreiniging verminder die voorkoms van puisies en swartkoppies, en laat die vel vars en skoon voel. Reinigingsborsels is in 2014/’15 bekendgestel en het sedertdien ’n gesogte skoonheidsproduk geword. Talle style is te kry – en die prys wissel na gelang daarvan.
Douvars vel
Die minimale grimeervoorkoms is hier om te bly. Voeg ’n tikkie blinkigheid op al die regte plekke by vir ’n douvars voorkoms.
Ruie wenkbroue
Pleks van sterk wenkbroue is die gewilde keuse nou ruie, uitgeborselde wenkbroue.
Hare wat nat lyk en vasgesteek is
Die nathare-voorkoms is al ’n ruk lank gewild. In vanjaar se lente/somer 2018-modevertonings is die hare met knippies versier en netjies gehou.

Foto’s: Gallo Images/Getty Images

Bronne: Cosmopolitan.com, Elle.com, Forbes.com, Glamourmagazine.co.uk, Harpersbazaar.com, Huffingtonpost.ca, Popsugar.com, Refinery29.com, Vogue.in