WILLEM BOTHA

willem botha
Foto: Verskaf

Wat behels jou daaglikse velsorgroetine?

Ek het onlangs DermExcel-produkte begin gebruik, en dit werk nogal vir my. Daar is ’n gesigwasmiddel sowel as ’n oggend- en aandroom. Watter versorgingsprodukte koop jy graag? Ek hou baie van lekkerruikgoed en verskillende parfuums. 

Hoe bederf jy jouself? Of hoe verkies jy om bederf te word?

Ek was nog nooit groot op sulke goed nie en sal nie noodwendig vir myself so ’n soort afspraak maak nie, maar wanneer ek gaan, geniet ek dit gewoonlik. ’n Vollyfmassering is altyd lekker.

Het jy ’n versorgingswenk of iets wat iemand jou geleer het wat jy met ons lesers kan deel?

Ek is al meer as 10 jaar vriende met die sanger Jay. En hy het altyd vir my gesê ’n mens moenie bang of skaam wees om van jongs af jou vel te versorg nie. Gebruik elke dag sonroom en drink baie water.

Wat is jou gunstelinggeur?

Joe, daar is baie, maar een van my gunstelinge is CK One.

“Gebruik elke dag sonroom en drink baie water”

EMO ADAMS

emo
Foto: Verskaf

Wat behels jou daaglikse velsorgroetine?

Ek het nie een nie; ek was net my gesig met water. Ek het altyd Dove-seep vir my gesig gebruik, maar gebruik dit nie juis nou nie. Ek hidreer net my vel met water.

Watter versorgingsprodukte koop jy graag?

Ek gebruik nie baie produkte nie, behalwe goeie skeerroom, naskeermiddel en reukweerder.

Hoe bederf jy jouself? Of hoe verkies jy om bederf te word?

Ek en my vrou, Michelle, hou van masserings. Dis die ding om te doen. ’n Lekker bad met die regte olies is eintlik my gunsteling.

Het jy ’n versorgingswenk of iets wat iemand jou geleer het wat jy met ons lesers kan deel?

Ek het nie ’n wenk nie, maar ek kan my eie hare droogblaas – as dit tel. Dis moeilik om my hare te versorg nadat dit gewas is, maar ek kan ’n styl ’n ruk lank in stand hou as iemand anders dit net eers gedoen het.

Wat is jou gunstelinggeur en hoekom?

Issey Miyake. Ek was ’n ruk lank versot op CK One, maar dit het ’n bietjie te soet geraak vir my.

Elke keer wanneer ek Issey Miyake dra, vra mense my wat ek gebruik. Ek hou daarvan dat die ondertone dieselfde bly maar die bonote verander op verskillende mense en dit werk bedags en saans.

ARMAND AUCAMP

armand
Foto: Verskaf

Wat behels jou daaglikse velsorgroetine?

Ek is versot op Optiphi-produkte. Ek gebruik dit die afgelope twee jaar. Ek was my gesig en gebruik elke dag hul Complexion Control (vir my pigmentasie), Hydration Therapy (vogroom) en Delta SPF50.

Watter versorgingsprodukte koop jy graag?

Haarprodukte! Ek het ’n wonderlike stileerproduk gebruik van T & G genaamd Small Talk – dis maklik om te gebruik en werk lekker vir my krulhare.

Hoe bederf jy jouself? Of hoe verkies jy om bederf te word?

Ek is mal oor masserings. Die hele lyf van kop tot tone. Dis beslis hoe ek myself bederf.

Het jy ’n versorgingswenk of iets wat iemand jou geleer het wat jy met ons lesers kan deel?

Gebruik ’n neushaarknipper. Myne het gebreek en ek mis dit omtrént.

Wat is jou gunstelinggeur en hoekom?

Ek hou van Dirty van Lush – dis kruidagtig en vars. Dis my daaglikse staatmaker. Ek hou ook baie van Dunhill Icon Black – dis swaar en perfek vir die winter.

“Ek is mal oor masserings. Die hele lyf, van kop tot tone”

CHAD LE CLOS

chad
Foto: Verskaf

Wat behels jou daaglikse velsorgroetine?

My meisie help my gewoonlik daarmee. Sy het ’n lekker gesigwasmiddel vir my gekies en my ook geleer om daagliks te bevog, veral aangesien ek ’n swemmer is en die meeste van my dae in chloorwater deurbring.

Watter versorgingsprodukte koop jy graag?

Velsorgprodukte, cologne en ’n skeertoestel van goeie gehalte.

Hoe bederf jy jouself? Of hoe verkies jy om bederf te word?

’n Epsomsoutbad aan die einde van ’n moeilike week en weeklikse fisio-masserings.

Het jy ’n versorgingswenk of iets wat iemand jou geleer het wat jy met ons lesers kan deel?

Mans moenie bang wees om hul vel te versorg nie.

Wat is jou gunstelinggeur?

Versace.

“Ek gebruik daagliks ’n vogroom, veral omdat ek ’n swemmer is en die meeste van my dae in chloorwater deurbring”

DEAN SMITH

dean
Foto: Verskaf

Wat behels jou daaglikse velsorgroetine?

Ek dra baie grimering op die stel en i fotosessies en skeer nogal gereeld. My suster is ’n skoonheidskundige en gee vir my raad oor hoe om my vel gesond te hou met dié dat ek altyd grimering dra.

Ek maak seker ek verwyder die grimering nadat ons geskiet het en gebruik gereeld ’n gesigskropmiddel en masker om die vel te verfris en af te skilfer.

Watter versorgingsprodukte koop jy graag?

Ek doen dit nie gereeld nie, maar koop graag gesigmaskers omdat dit vir my as akteur belangrik is om na my vel te kyk.

Hoe bederf jy jouself? Of hoe verkies jy om bederf te word?

Ek hou daarvan om gepamperlang te word; ek het ’n borgskap van Delux Laser waar ek vir gereelde gesigbehandelings gaan.

Het jy ’n versorgingswenk of iets wat iemand jou geleer het wat jy met ons lesers kan deel?

Skeer kan baie hard op die vel wees; daarom moet jy jou vel met warm water versag om irritasie te help voorkom.

Ek maak seker ek voed my vel met olies en vind die beste een vir my velsoort. Ek was ná ’n skeersessie my gesig met koue water om die porieë toe te maak en die vog te verseël.

Wat is jou gunstelinggeur?

Jimmy Choo Blue.

VILJÉ MARITZ 

vilje
Foto: Verskaf

Wat behels jou daaglikse velsorgroetine?

Velsorg is vir my baie belangrik. Ek is bevoorreg om deur Willa Krause geborg te word en is ’n ambassadeur vir hul produkte.

Ek was my gesig met ’n verfrissende reiniger, daarna wend ek ’n produk met ’n oliebasis aan, byvoorbeeld kollageen-olie, gevolg deur ’n teenverouderingsroom of vogroom, die lysie gaan aan en aan, en dan rond ek af met ’n teenverouderingsoog- en lipsalf. Ek het sowat 10 verskillende gesigrome en serums.

Watter versorgingsprodukte koop jy graag?

Baardprodukte, olies, seep en naskeermiddel.

Hoe bederf jy jouself? Of hoe verkies jy om bederf te word?

Gesigbehandelings en masserings so elke nou en dan.

Het jy ’n versorgingswenk of iets wat iemand jou geleer het wat jy met ons lesers kan deel?

My vriend en mede-akteur Reynardt Hugo het my geleer om goed na my vel om te sien. Ek onthou hoe hy vir my by my eerste werk saam met hom in Binnelanders alles verduidelik het.

Nadat hy die grimering by die werk verwyder het, het hy tyd aan sy velsorgroetine afgestaan. Ek het dit in 2009 geleer en doen dit sedertdien.

Wat is jou gunstelinggeur en hoekom?

Invictus van Paco Rabanne. Dis ’n fantastiese geur en werk goed op my vel.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe