Almal sukkel af en toe met droë lippe. Omdat die vel aan jou lippe dun is, droog dit vinniger as enige ander deel van die liggaam uit. Die algehele gesondheid van jou mond dra ook by tot jou lippe se gesondheid.

Die redes vir droë lippe

sagte lippe. skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Jou lippe word aan die elemente blootgestel en deur weer en besoedeling beïnvloed. Koue weer droog dit uit en die beste manier om die skade te beperk is om jou lippe bevog te hou en water te drink. Jy moet ook jou lippe en neus met ’n serp bedek wanneer jy uitgaan om te keer dat die koue dit uitdroog. Wend in warm weer ’n lipsalf met SBF aan om dit teen die son te beskerm.
  • ’n Allergiese reaksie vir sommige lipstiffies of -produkte kan ook droë, gebarste lippe veroorsaak.
  • Dit droog lippe uit as jy dit gedurig lek. Probeer dit vermy.
  • Koue of warm lugreëling kan lippe droog maak. Kry ’n vogsproeier om die lug vogtig te hou sodat jou lippe en vel nie uitdroog nie.
  • As die bogenoemde nie jou lippe se toestand verbeter nie, kan jy dit oorweeg om by ’n dermatoloog aan te klop.

Afskilfering

Dis wanneer jy ’n produk met korreltjies gebruik wat op die vel inwerk om dooie selle te verwyder. Die korreltjies kan van verskillende stowwe gemaak wees, onder meer organiese materiale soos suiker en selfs sintetiese nie-oplosbare materiale.

Elke soort het voor- en nadele. Nes die vel aan jou gesig kan lippe om verskillende redes uitdroog – en soms selfs rooi en sensitief raak.

Dit is dus belangrik dat jy weet wat om wanneer te gebruik.

Wanneer om dit te doen en wanneer om dit te vermy 

sagte lippe. skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Lippe wat rooi en seer is, benodig meer sorg as lippe wat bloot uitgedroog is. As jou lippe droog en rooi is en afskilfer, is dit beter om afskilfering te vermy. Wend eerder ’n strelende produk aan en wag tot die tekens van inflammasie verdwyn het.

Strelende produkte kan lippe ook bevog, dooie velletjies versag en verwyder. As jou lippe net droog voel en jy weet jy het te veel mat lipstiffie gebruik of nie genoeg water gedrink nie, sal afskilfering help om dit weer sag te maak. Maar werk sagkens.

Maak jou eie skropmiddel

Suiker werk goed as skropmiddel. Jy dink dalk dis te grof vir lippe, maar dit los op terwyl jy skrop.

sagte lippe. skoonheid
Foto: Onkgopotse Koloti

JY BENODIG

  • bruinsuiker
  • petroleumjellie

Stap 1

Skep sowat twee eetlepels bruinsuiker in ’n klein flessie.

sagte lippe. skoonheid
Foto: Onkgopotse Koloti

Stap 2

Voeg dieselfde hoeveelheid petroleumjellie by die suiker en meng goed. Wend sagkens aan jou lippe aan.

sagte lippe. skoonheid
Foto: Onkgopotse Koloti

Chemiese afskilfering

Chemiese afskilfering is wanneer jy ’n produk aanwend met bestanddele wat die veloppervlak chemies poets om dooie selle te verwyder.

Party mense se vel reageer op sekere bestanddele wat die vel chemies afskilfer, en dis raadsaam om eers die produk aan die binnekant van jou arm te toets voor jy dit aan jou lippe aanwend.

As jy weet watter bestanddele jou vel irriteer, gaan vooraf die lys bestanddele na sodat jy dit kan vermy indien nodig. 

Ekstra bronne: colgate.com, nivea.com.au

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.