Skoonheidsmiddels
Foto: Gallo Images/Getty Images

Verras jou ma hierdie Moedersdag met ’n bederfsessie in die gemak van haar huis – want, kom ons wees nou maar eerlik, die huis is steeds die veiligste plek om te wees.

Maak dit ’n eksklusiewe geleentheid vir julle of nooi haar beste vriendin of ’n naby famlielid en geniet ’n dag vol bederfies vir haar om te koester.

’n Bederfsessie sal haar laat ontspan en verseker dat julle gehaltetyd saam deurbring. En of jou begroting knap is en of jy dalk ’n bietjie ekstra geld het om uit te gee, hier is iets vir almal.

Die voorbereiding

Die eerste stap is om die atmosfeer reg te kry. Jy hoef nie ’n fortuin uit te gee om ’n professionele spa-omgewing te probeer skep nie – gebruik wat jy het om jou ruimte so knus en gerieflik moontlik te maak.

Kerse

Koop ’n pak teekerse – dit is bekostigbaar en jy kry heelwat in ’n pak. Jy kan baie pret daarmee hê om kreatiewe maniere te vind om dit in die vertrek te rangskik. Jy kan ook ’n paar op water laat dryf in mooi bakke. Gegeurde kerse sal ook tot die atmosfeer bydra.

Huisplante

Maak plante in die huis bymekaar en rangskik dit kreatief op die plek waar jy jou bederfsessie wil hou. Jy kan ook roosblare in die vertrek strooi vir ekstra luuksheid.

Sagte musiek

Musiekstroom-apps het talle verskillende speellyste van terapeutiese en meditasiemusiek. Moenie jou kop breek om jou eie speellys saam te stel nie – kies net een en laat hom sy ding doen.

Gemaklike omgewing

Plaas strooikussings en oorgooidekens in jou pamperlang-area en grawe die Kersfees- of feetjieliggies uit. Verskillende teksture sal ’n gevoel van luukse skep. Onthou om jul selfone af te skakel . . .

Peuselhappies en verversings

Koop ’n voorraad van Ma se gunsteling-eetgoed of -drankies, want wat sou ’n bederfpartytjie sonder lekkernye wees?

WENK

Tap vir jou ma ’n borrelbad terwyl jy die laaste reëlings agtermekaar kry. 

Skoonheidsmiddels
Foto: Gallo Images/Getty Images

Noodsaaklike hulpmiddels

Hier’s wat jy sal nodig hê vir ’n gesigbehandeling by die huis.

Gesigsponsies

Dit word dikwels saam in ’n pak verkoop, is herbruikbaar en kan vir verskillende stappe soos reiniging en grimeringsverwydering gebruik word.

Gesigroller

Dit is ideaal om die gesig mee te masseer en sal ook help met die absorbering van produkte. Gereelde gebruik stimuleer die bloedvloei en laat die vel helderder lyk en fermer voel.

Oogroller
Foto: Gallo Images/Getty Images

Bakke

Twee groot bakke vir reiniging. Skoon grimeerkwas om ’n masker of afskilfermiddel mee aan te wend. Plat onderlaagborsels werk die beste. Sorg dat dit silwerskoon is.

STAP 1: DUBBELREINIG

Gebruik ’n sagwerkende reiniger saam met die gesigsponse om die vel twee keer te reinig. Dit sal sorg dat enige vuilheid of grimering deeglik van die vel se oppervlak verwyder word.

STAP 2: AFSKILFERING

Gebruik ’n gesigborsel of ’n afskilferingsjel om dooie velselle te verwyder en porieë oop te maak. Wees ekstra versigtig as jy werk met ’n droë, sensitiewe vel of ’n vel wat neig tot aknee.

STAP 3: MASKER

Gebruik afhangend van jou ma se vel se behoeftes ’n tuisgemaakte masker, bottelmasker, bladmasker of afskilfermiddel. Volg die aanwysings op die verpakking as jy ’n winkelmasker gebruik of maak jou eie. (Sien onder.)

Verwyder aan die einde daarvan die masker of afskilfermiddel met skoon water en gesigsponse.

Ma en dogter
Foto: Gallo Images/Getty Images

STAP 4: MASSEER & BEVOG

  • As jy ’n afwas- of aftrekmasker gebruik het, wend ’n olieserum aan en masseer dit met die roller in tot dit heeltemal geabsorbeer is. Smeer dan ’n bevogtiger aan.
  • As jy ’n afskilfermiddel gebruik het, wend ’n dik bevogtiger aan en masseer dit met die roller in. 
  • As jy ’n bladmasker gebruik het, gebruik die gesigroller om die produk in te vryf wat agtergebly het nadat jy die masker verwyder het. Smeer dan daarna bevogtiger aan.
Ma en dogter
Foto: Gallo Images/Getty Images

STAP 5: SBF

Smeer SBF aan om alles in te seël. As jy die sessie in die aand hou, kan jy die SBF oorslaan, maar sorg dat dit die volgende oggend aangewend word.Maak ’n gesigmasker Kry hierdie bestanddele in jou kombuis en gee jou ma se vel die bederf wat dit nodig het.

VIR PIGMENTASIE

Bestanddele

  • 15 ml (1 e) borrie
  • 15 ml (1 e) suurlemoensap 
  • 15 ml (1 e) heuning
  • water, indien nodig

MAAK SO

Meng alles tot ’n pasta vorm. Gebruik ’n skoon grimeerkwas of weggooibare handskoene en wend die masker aan ’n skoon vel aan. Los 3 min. aan en spoel dan af.

Skoonheidsmiddels
Foto: Gallo Images/Getty Images

VIR PLOOITJIES

Benodigdhede

  • ’n halwe ryp piesang
  • 5 ml (1 e) heuning
  • 5 ml (1 e) gewone jogurt
  • ’n knippie borrie

MAAK SO

Maak die piesang met ’n vurk fyn, voeg die ander bestanddele by en meng. Wend dit met jou vingers aan die gesig aan en los 10 min. voor jy dit eers met kombuispapier afvee en dan afspoel.