Vrou by gim.
Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Irritasie

RUGAKNEE

Rugaknee kom voor wanneer die porieë op jou rug met oortollige olie verstop is en bakterieë daar vaskeer om ’n broeiplek te word vir puisies. Maar puisies stop nie altyd by die rug nie.

Dit kan op die borskas, skouers, arms en selfs boude voorkom. Wanneer ons sweet, veral tydens oefening, meng die sweet met hierdie olie, en as dit ’n ruk lank so gelos word, veroorsaak dit vlekke.

Maak dus seker jy stort direk ná ’n oefensessie en gebruik diepreinigende middels of ’n seep met ’n vogroom. Of beproef ’n elektriese skoonmaakborsel. Volg dit op met ’n reukvrye lyfroom.

Vel-irritasie.
Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Pyn

PYNLIKE SKAAFPLEKKE

Nes ’n veluitslag is skaafplekke een van die algemeenste newe-effekte van oefening. Dit gebeur wanneer vel of klere gedurig teen vel skuur en dit eindelik rou en seer laat.

Jy kan dit voorkom deur materiale te dra wat asemhaal, gimklere te dra wat om jou lyf span en poeier of petroleumjellie te gebruik.

Poeier absorbeer vog uit die vel, en die smeermiddel sal dele wat kwesbaar is vir wrywing, soos die tepels, binneste dye en onderarms, help beskerm.

Het jy skaafplekke?

Laat dit eers gesond word voor jy iets doen wat die area verder kan irriteer.

’n Verleentheid

ROOI GESIG

Dis normaal om ietwat rooi in die gesig te wees ná ’n sessie in ’n spinklas . . . of nadat jy in die kleedkamer voor almal gegly het.

Maar as jy opmerk jou gesig, nek en bors is steeds rooi nadat jou lyf afgekoel het, sukkel jy dalk met ’n inflammatoriese veltoestand, waarvan die algemeenste roosaknee is.

Rooiheid in die gesig kan enige tyd voorkom, maar word ook deur alkohol, hitte, stres en geurige kosse veroorsaak. As die rooiheid droog en jeukerig is, kan dit ekseem of psoriase wees.

Poikiloderma is minder algemeen en is basies rooi pigmentasie wat aan die kante van die nek en borskas voorkom. Gaan klop aan by jou dokter vir ’n behoorlike diagnose.

As die uitslag matig genoeg is om topikale behandeling te gebruik, soek natuurlike produkte of produkte wat spesifieke prikkelmiddels lys om die ontsteking te verlig.

Vel-irritasie.
Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Geheim

INTIEME WENKE

Sommige toestande kan dalk verleentheid veroorsaak en is nie iets waaroor jy wil gesels nie, en jy wil veral nie hê dit moet erger word nie.

Ons intieme liggaamsdele het geen asemhalingsruimte wanneer ons oefen nie. Hoewel ons liggaam taamlik selfonderhoudend is, kan al daardie gesweet in lycra gevolge hê.

Daar is gelukkig pH-vriendelike opsies wat lyk soos gesigklamlappies wat kan help.

Natuurlik sal onderklere in materiale wat asemhaal, soos katoen, ook help.

Klop die sweet

Gebruik klam lappies as jy nie tyd het om te stort nadat jy geoefen het nie. Dis ultra-absorberend, voedend en perfek vir sensitiewe vel.

’n Gejeuk

DROË KOPVEL

Dié tyd van die jaar kan verwoesting saai op jou hare, veral jou kopvel. Die alewige wisseling tussen die koue buite en die hitte binne laat die kopvel droog word, jeuk en veroorsaak selfs skilfers.

Wanneer jy boonop gereeld gim toe gaan, warm joga beoefen en hardloop, loop jou hare omtrént deur onder sweet, olies, temperatuurverskille, wasse en stywe bollas.

Daar is nie veel wat jy aan die natuur kan doen nie, maar jy kan die skilfers probeer teenwerk. Hou jou dieet dop – as jy nie genoeg sink, vitamien B en goeie vette (soos visolie, avokado, neute en sade) inkry nie, kan dit ’n impak op jou kopvel hê omdat dit voedende natuurlike olies aktiveer.

As jou hare andersins in ’n goeie toestand is, soek sjampoe wat skilfers teiken en maak seker jy spoel dit deeglik af.

As jy reeds ’n sjampoe gebruik vir behandeling (beskadigde, gekleurde hare, ens.), kies olies wat jy kan aanlos. Gebruik net ’n druppel op skoon, klam hare en masseer dit in.

  • Onthou jou masker Maak seker jy volg covidmaatreëls deur altyd jou masker by die gim te dra. Was jou hande en gebruik ontsmettingsmiddel om die toerusting voor en ná gebruik af te vee.