’n Blompatroon bly maar eenmaal tydloos. Of dit fyn gedrukte blommetjies of groot donker blomme op ’n bloes of broek gedruk is, dit lyk altyd stylvol en sjiek.

Ons deel vyf oulike klerekas-idees met blompatrone. 

1. Formeel

Blomme
Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy aan die rooitapyt dink, dink jy nie dat blompatrone by die Oscars te sien sal wees nie, maar vanjaar was dit baie gewild. Met eenvoudige grimering en ’n sjiek haarstyl, het die Riverdale-aktrise Lili Reinhart (23) die pragtigste Marc Jacobs-skepping met groot blomme daarop by vanjaar se Oscars Vanity Fair-partytjie gedra.

  • As jy ’n soortgelyke voorkoms wil dra, hou die bykomstighede en grimering lig en minimaal.  

2. Ontspan 

Blomme
Foto: Gallo Images/Getty Images

Blompatrone en denim is baie retro. Vir ’n ontspanne voorkoms kan jy ’n denimhemp of baadjie bo-oor gooi as die lug koel raak. Dis ook ’n manier om die patroon met baie min moeite van dag na aand te transformeer! 

3. Vir mans 

Blomme
Foto: Gallo Images/Getty Images

Blompatrone het meer gewild onder mans geraak en die manier waarop die Britse Formule 1-renjaer Lewis Hamilton (35) die blommebaadjie dra, is ’n goeie voorbeeld van hoe sjiek blompatrone by mans kan lyk. 

  • As jy die patroon op ’n ander manier ook wil dra, is pakke ook hoogmode deesdae.  

4. By die kantoor

Blomme
Foto: Gallo Images/Getty Images

Ooit gedink hoe pragtig ’n broek met ’n blompatroon kan lyk? Kyk net hoe mooi is dit – en heel gepas vir die kantoor. Geel is een van die gewildste kleure in modeland, so jy kan nie verkeerd gaan daarmee nie.

  • As jy nie ’n groot aanhanger van broeke is nie, kan jy gerus ’n blomgedrukte A-lyn- of potloodromp probeer.

5. Aand uit

Blomme
Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir ’n aand uit met jou liefie of jou vriende, is ’n somerrok die ideale uitrusting. Blomme kan romanties wees en baie mooi lyk op ’n afspraak. As jy die aand uit met jou vriende spandeer, kan jy ’n rok soos hierdie selfs met wit tekkies kombineer.

  • Wit tekkies is ook deesdae baie gewild en kan by enigiets gedra word vir 'n straatstyl-sjiek voorkoms. 

Toe, is jy gereed om jou blompatroon-klere af te stof?